Dag 444 en 445

“through the Childbearing … of the divine Child”

(1 Tim 2:15, Ampl)

 

Die vorige manna was wat ‘n mens ‘n intermezzo kan noem – ‘n dwingende gesprekspunt wat nie primêr met die hoofargument saamhang nie en was sigself tussen-in kom aanbied het. Terug dan na die versie wat groot teologiese storms laat woed: “Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.”

Die vers begin met die woordjie “maar”, in Engels “notwithstanding”, wat duidelik slaan daarop dat hierdie stelling nie geïsoleerd gelees kan word nie, maar as die teenpool van die stelling van die vorige vers beskou moet word. In Grieks het dit die betekenis van ‘n stelling wat “adversative or continuative” is. Die woorddeel is ‘n verbindingswoord wat twee stelling jukstsaponeer (naasmekaarstel).

Die vorige stelling was duidelik: “En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.” Paulus maak dus die stelling duidelik in antwoord op die (harde) uitspraak dat dit Eva is wat deur die slang verlei is, en nie Adam nie. (Wat hom egter nie verontskuldig nie – God het uiteindelik hom verantwoordelik gehou vir die sondeval – Gen 3:9). Maar die feit bly staan: die vrou HET HAAR LAAT VERLEI (“being beguiled” – ASV; “being deceived” – EMTV; “being tricked”- BBE; “being seduced” – DRB), iets wat later van die ganse mensdom ook waar sou word: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.” (Jak 1:13-15).

Eva as die prototipiese vrou het die geleentheid geskep om verlei te word deur iets te begeer wat haar nie beskore was nie – sy wou heers deur geheime kennis. Let asseblief op: Paulus is dus ook hier steeds besig om sy argument teen die invloed van die Gnostiek te voer. En hierin lê ‘n belangrike rigtingwyser – Adam se swakpunt (en derhalwe die voorbeeld van die kollektiewe manlike swakheid), is dat hy afwesig was toe hy daar moes wees toe die slang met Eva onderhandel het. Daarom is die eerste vraag wat God hom vra: Waar is jy? – Gen 3:9, wat ‘n wyer beskuldiging is as bloot sy wegkruipery ná die sondeval).

Eva (en derhalwe die voorbeeld van die kollektiewe vroulike swakheid) is om te begeer wat jy nie het nie en ‘n verbeelde konstruk te skep waarbinne jy mag en outoriteit kan uitoefen. Om hierdie geneigdheid teen te staan, maak God ‘n ruling ten opsigte van die vrou: “Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers.” (Gen 3:16).

Om die las wat vrouwees meebring in perspektief te sien, moet ‘n mens eers net ‘n wyle stilstaan by die las wat manwees opgelê is. In Gen 3:17 – “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Hieruit vloei daar verskeie implikasies.

Die las wat die man moet dra, sy primêre verantwoordelikheid, is om die aarde waaruit hy geneem is (“stof is jy en tot stof sal jy terugkeer”) te bly bewerk. Mans se grootste stryd is teen dwingende vleeslikheid; die dorings en distels van die aarde dui die durende gevolge van sy stryd aan. Daarmee saam – daar word deurgaans dorings en distels in hom gesaai. Mat 13:22 verduidelik hoekom dit so is: “En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.” As die man nie beheer neem oor al die vleeslike magte IN HOM wat hom wil verlei nie, sal hy ‘n ewigdurende stryd hê om ‘n geestelike mens te word: “Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon.” (Num 33:55). (Sien ook Jes 5:6; 7:23-25; 34:13; Hos 10:8.) Die enigste weg vir ‘n man is die weg van die doringkroon (“En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon … gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens!) Onthou: God het die mens met “eer en heerlikheid gekroon. U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese … U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel.” (Ps 8:5-6). Daarom moet die doringbos (Eks 3:4) met vuur (Heb 12:29) brand –  “En die Lig van Israel sal ‘n vuur wees, en sy Heilige ‘n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.” (Jes 10:17). Heb 6:4-8 wys duidelik uit hierdie oerstraf het in die Nuwe Verbond ‘n geestelike wetmatigheid geword.

(‘n Belangrike kantaantekening: die vloek wat God oor die aarde gespreek het, is reeds in Noag se gehoorsaamheid omgekeer, leer Gen 8:21 ons. In die plek daarvan het God ‘n ander geestelike wetmatigheid daargestel: die wet van die saad en die seisoen- vers 21. Ons kom later hierna terug.)

Met dié mondvol keer ons terug na die vrou as “moeder van alles wat lewe” (Gen 3:20), wie se primêre taak dit is om pynlik verantwoordelikheid te wees oor als wat aan geboorte geskenk moet word: “I will greatly multiply thy pain and thy conception; in pain thou shalt bring forth …” (ASV). Dit gaan nie net oor fisiese kinders wat sy moet baar nie – dit gaan oor alles waaraan sy gestalte moet gee. In hierdie kragtige posisie (ook as meerdere van die man) maak God juis dat “na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers”, om só die perfekte orde te bewerkstelling van “man én vrou” wat saam “die genade van die lewe” moet beërwe (1 Pet 3:7). Hulle kan nie sonder mekaar nie.

Om terug te keer na die versie onder die loep. Duidelik is dit in 1 Tim2:15 Eva wat “gered” (‘n baie beter frase ter vertaling: “behoue laat bly”) is, omdat aan haar die moederbelofte (Gen 3:15) gemaak is, naamlik dat die Messias/salwing uit haar gestalte sou kry. Sy en die “susters van Eva” – (om ‘n mooi term by Dalene Matthee te leen), word DIE LAASTE EVA (1 Kor 15:45), wat die oorsprong word van als wat lewe, het by God a new lease on life gekry, mits Eva en kie (die hulle) “continue in faith and love and sanctification with sobriety”, met ander woorde bedag op hulle geestelike wandel om soos die Bruidegom te word. Daarom is die Amplified Bible se kontekstuele vertaling hier miskien nie lettergetrou vertaal nie, maar verhelder dit absoluut hierdie baie problematiese Skrifgedeelte, as dit ten regte praat van vroue wat hul eer en heerlikheid teruggekry het deur gestalte te gee aan “the birth of the divine Child”, nie aan hul eie Gnostiese binnekennis nie.

En dis uiteraard ook waar vir mans wat deel van die korporatiewe laaste Eva is, soos Paulus dit in Gal 4:19 raak verwoord het:” my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry”!

 

  • Sela: Bid tot God dat alle mistastinge oor geslagtelikheid uit jou geloofsraam ontdoring sal word.
  • Lees: Num 22-27
  • Ondersoek die vervulling: Num 26:61 (Wenk: Eseg 28:18; Amos 5:21-23 ).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die laaste Eva – word die “giver of life” en “reverse the curse” asook die cd-lering: Dorings in jou sy en in jou oë.