“Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.”
(Efes 5:24, OAV)
Angus Buchan se bediening het ‘n geweldige impak in Suid-Afrika (ook elders) gehad. Sy teologie is letterlik en figuurlik op die man af. Hy het die mans aangemoedig om weer hul Godgegewe rol in die huisgesin op te neem en as ‘n priester weer God en sy gesin te begin bedien. Sy waarheid is fundamenteel en het derhalwe heelwat kritiek in die openbare media uitgelok, veral omdat veel mense dit beskou as uitgediende teologie in ons postmoderne era. Veral sy uitsprake oor die man se rol as hoof in die huis het baie negatiewe respons van mans én vroue gekry. Uit dié hele spektrum, wat strek van skeptiese akademici (soos prof Lina Spies) tot goedgesinde joernaliste (soos Neels Jackson), voel dat man en vrou gelyke vennote is en dat die Bybelse riglyne nie in vandag se tyd enigsins so rigied aanvaar kan word nie.
Wat die beginsel egter moeilik maak om weg te redeneer, is dat hierdie uitspraak nie net eenmalig in die Bybel voorkom nie. Dit word ondubbelsinnig uitgespel in 1 Kor 14:34, Efes 5:22 en 24, Kol 3:18, Tit 2:5, 1 Pet 3:1 & 5. Dis onteenseglik duidelik ‘n gegewe van geloofsfunksionering vir vroue.
Laat ons egter net ‘n paar kantaantekening hierrondom maak.
Eerstens: vroue moet onderdanig aan hulle eie mans wees. Dis met ander woorde nie ‘n algehele geslagtelike onderwerping van vroue aan mans nie. Die rede hiervoor is dat elke verhouding tussen man en vrou geskoei is op die beginsel van Eva wat uit Adam geskep is, volgens Mal 2:15. Dus: my vrou hoef aan geen ander man onderdanig te wees nie.
Tweedens: Onderdanig beteken nie dat mans “die baas” is nie; hy is bloot die funskionele hoof volgens God se orde. Daar is ‘n ingeboude faktor in dié posisie wat mags-misbruik keer: As hy sy vrou nie eer nie, kan sy gebede nie verhoor word nie (1 Pet 3:7).
Derdens: die onderdanigheid is nie net geldend vir vroue nie. Trouens: diensknegte of werkers moet onderdanig wees aan hulle base (Tit 2:9), selfs al is die baas verkeerd (1 Pet 2:18); almal moet onderdanig wees aan die owerhede en gesag (Tit 3:1); ons moet almal onderdanig wees aan regerings en “menslike verordenings” (1 Pet 2:13); gelowiges word gemaan om onderdanig te wees aan hul voorgangers en leiers (Heb 13:17); die jongeres moet aan die oueres onderdanig wees (1 Pet 5:5). Die breë riglyn is: gelowiges moet deurgaans almal aan almal onderdanig wees (Efes 5:21).
Vierdens: die Christelike geloof het die voorbeeld van onderdanigheid in die optrede en gesindheid van Jesus, wat deurgaans onderdanig was aan die gesag wat oor Hom gestel was. “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en (het) Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot … die dood van die kruis.” (Fil 2:6-8). Dit is hoekom die onderdanig-konsep altyd in die lig van Sy voorbeeld moet geskied (Jes 50:6; Mat 20:28) – daarin skuil ‘n geweldige krag. In die koninkryk-inversie: as jy swak is, is jy sterk; as jy arm is, is jy ryk, ens (2 Kor 8:9; Joel 3:10). Hierbinne sal geen vrou dit moeilik vind om aan God se orde gehoorsaam te wees nie (1 Pet 3:5-6).
- Sela: Vra Yahweh vir ‘n gees om te dien.
- Lees: Deut 1-3
- Ondersoek die vervulling: Waarvoor sou Og (Deut 3) tipologies staan in die nuwe verbond?
- Delf dieper: Luister na Matzie Lee se cd-lering: The power of the towel – diensbaarheid.