“In which you were living in the past, after the ways of this present world, doing the pleasure of the lord of the power of the air, the spirit who is now working in those who go against the purpose of God …”
(Ephes 2:2, BBE)
In die klassieke boek Children’s letters to God skryf die klein Sylvia: “Dear God, are boys better than girls? I know you are one but try to be fair.” Ek vermoed Sylvia verwoord in haar onskuld presies dit wat baie vroue nié wil sê nie – dit wil voorkom asof vroue in die Bybel dikwels maar ‘n raw deal het.
Tog, in al die passasies wat ons bestudeer het wat lyk asof God diskriminerend teenoor vroue kan wees, het ons elke keer bevind dis nie so nie. Die laaste Skrifgedeelte wat Paulus geskryf het oor vroue wat dikwels groot onsekerhoud veroorsaak, is die gedeelte in 1 Kor 7 oor egskeiding en hertrou. Hieroor is al soveel geskryf, en dis veral ‘n passasie wat vandag steeds streng wetties toegepas word deur sekere gemeentes en geloofsbewegings. Verskeie vroue leef ongelukkig enkel en alleen na ‘n egskeiding vanweë die interpretasie van hierdie Skrifte, en hulle dink dis deel van wat God van hulle verwag, want die Bybel sê so.
Ons het nog geensins in diepgang oor die huwelik as verbond geskryf nie, want dit hoort nie tuis in ons huidige gesprek nie. In ‘n tyd waar die huwelik as instelling van God sy status grootliks verloor het, en dit makliker is om uit ‘n huwelik as uit ‘n selfoonkontrak te kom, blyk dit nie vir die eietydse gemeenskap ‘n probleem te wees nie. En dit geld Christene en nie-Christene, vir wie die egskeidingstatistiek nie eens marginaal verskil nie.
Tog is die Woord van God redelik sterk uitgesproke oor egskeiding, maar vir die een of ander rede vind Christene veral in ons postmoderne tyd dit nie ‘n geloofskwessie as hulle besluit om te skei nie. Praktiese en finansiële oorwegings, veranderende gevoelens in ‘n verhouding, allerlei verskillende probleme en onaanpasbaarheid, verveeldheid met die status quo, en so meer, weeg duidelik veel swaarder as wat God daaroor sê. Daarmee sê ons geensins dat mense maklik tot die besluit van egskeiding kom nie – dit het uiteraard sy wavrag trauma en ontreddering en min mense kan na ‘n egskeiding volkome heel wees. Maar dis asof die tydsgees van sekulêre humanisme wat baie sterk inslag die wêreld het en ons sosiale norme grootliks bepaal ‘n sterker invloed het as wat die Woord van God het.
Laat ons net ‘n paar los opmerkings oor die denkmodus van sekulêre humanisme maak. Hierdie lewensbeskouing verklaar die mens as inherent goed en derhalwe moet iets anders die blaam dra vir die mens se destruktiewe keuses, en uiteraard kan dit dan net die tradisionele sosiale instellings (soos die huwelik en die kerk) wees wat verantwoordelik is vir die mens se mislukkings. David Noebel, in sy boek Understanding the times, sê: “Humanist sociologists are especially intolerant of the taditional, biblical family. In fact, Humanists often cite the institution of marriage as a prime example of the failure of Christian culture to provide freedom for the individual to grow. Marriage is considered too restrictive, inhibiting ‘vital inclinations’.Heterosexual monogamy, for the Humanist, epitomizes social slavery.”
Lawrence Casler, in ‘n onderhoud met Robert Rimmer in die tydskrif The Humanist, maak hierdie sterk bewoorde stelling: “marriage and family life have been largely responsible … for today’s prevailing neurotic climate, with its pervasive insecurity, and it precisely this climate that makes so difficult the acceptance of a different, healthier way of life”.
Ten grondslag van hierdie denke lê uiteraard‘n bepaalde teologiese en filosofiese beskouing, maar ‘n mens vergeet dat die grondslag van hierdie wêreldbeskouing gesetel is in ‘n sekulêr-humanistiese biologiese beskouing, wat die maklikste as ‘n Darwanistiese evolusiebeskouing verduidelik kan word. Dit het ten doel om te wys dat die mensdom in ‘n proses van evoluering is, en dat die gemeenskapstrukture derhalwe ook moet verander en aanpas om die mens se groei na verligting (“enlightenment”) en voortvloeiende god-status moontlik te maak. Als gaan oor die individu se selfaktualisering en behoeftes en alles dien hom. Soos die Nederlandse digter Willem Kloos dit as ‘n credo uitgespel het: “Ek is ‘n god in die diepste van my gedagtes.”
In die proses word die huwelik en die gesinstruktuur verdag gemaak en oorbodig verklaar. Shakti Gawain, in die boek Living in the Light, se tese is dat ons moet ons gesindheid oor egskeiding in so ‘n mate verander dat dit ‘n gemeenskap kan voortbring wat meer bevorderlik sal wees vir die mens se evolusie tot die godstaat. Die huwelik is bloot ‘n tydelike bevrediging en genoegdoening om jou te laat evolueer; derhalwe is egskeiding – so gaan die redenasie – eintlik ‘n uitsonderlik goeie ding!
Kevin Ryerson sê in sy opspraakwekkende boek: Spirit communication: The Soul’s Path – “Relationships and families as we’ve known them seem to be falling apart at a rapid rate. Many people are panicky about this; some try to re-establish the old traditions and value systems in order to cling to a feeling of order and stability in their lives. It’s useless to try to go backward, however, because our consciousness has already evolved beyond the level where we were willing to make the sacrifices necessary to live that way.”
Bedink die skrikwekkende implikasies van hierdie siening. En dan begin ‘n mens verstaan dat die koninkryk van duisternis op elke werklikheidsvlak besig is om ‘n oorlog te voer teen die basiese boublokke van God se koninkryk – die huwelik en die gesin (Gen 1:28; 2:18, 23-25). “Your decision to evolve consciously through responsible choice,” sê Gary Zukav in The Seat of the Soul, “contributes not only to your own evolution, but also to the evolution of all of those aspects of humanity in which you participate. It is not just you that is evolving through your decisions, but the entirety of humanity.”
Hierdie uitvoerige konteks was nodig sodat ons kan besef dat ons baie definitief oor ‘n breë front kultureel en godsdienstig geïndoktrineer word om op ‘n bepaalde manier oor byvoorbeeld huwelik en egskeiding te dink. Lesers moet besef dat die eietydse egskeidingstatistieke van Christene ‘n duidelike refleksie is van die denkmodus van sekulêre humanisme wat stewig inslag gevind het in ons manier van dink oor die huwelik. Wat die Bybel daaroor sê, word afgemaak as voorwetenskaplike mites.
Vir wedergebore gelowiges behoort die Woord van God die maatstaf van hul besluitneming en lewenswyse te wees (Ps 19:8; 119:105; Spr 6:23). Ons moet derhalwe vra, soos Francis Schaeffer tereg doen: (in die lig van die Woord) How shall we then live?
Uitgaande van die Christelike leer dat die mens ‘n vrye wil het (Deut 30:9; Jos 24:15; Spr 1:29; Luk 10:24), volg dit noodwendig dat hy verantwoordelikheid vir homself en sy keuses moet neem; uiteraard kry die samelewing deur mense gestalte. Hierbinne behoort Christene, as die verteenwoordigers van God op aarde, die bloudruk van God se plan tot uitvoering being. Maar dit vra allereers ‘n regte verstaan van wat God presies oor sake sê. En huwelik en egskeiding is een van die gebiede waar Satan duidelik ons manier van dink so geïnfiltreer het, dat ons nie meer die waarheid in die verwarring kan onderskei nie.
- Sela: Vra die Gees van God om vir jou die neerslag van sekulêre humanisme in jou lewe te wys.
- Lees: Deut 4-9
- Ondersoek die vervulling: Deut 6:4 (Wenk: Mark 12:29; Joh 10:30; 17:11 & 21)
- Delf dieper: Luister na Hein van Wyk se cd-lering oor lewensbeskouing: Die evangelie as kiemsel