Dag 452

 

“wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie”

(Mat 19:6, OAV)

 

In sy boek Money, Sex, and Power gee Richard Foster ‘n uitstekende definisie van die funksie van die huwelik, en dit kan gebruik word om die hele bedenklike redeneringsgang van die sekulêre humanisme oor die huwelik (soos in die vorige manna voorgehou) netjies teen te spreek: “The basis for getting married that confirms to the way of Christ is a regard for the well-being of ourselves and others and a regard for the advancement of the kingdom of God upon the earth.” Jou huwelik is nie net ‘n kwessie van indivuele groei en enlightenment nie – dis ‘n Goddelike persoonlike, maar óók sosiale instelling wat die heerskappy van God op aarde gestalte behoort te gee. Nie verniet nie gee Paulus aan die misterie van die huwelik die hoogste moontlike vergelykingswaarde: dié van Christus se vereniging met sy Liggaam (Efes 5:32).

Bloot om hierdie rede: ”wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Mat 19:6) – Jesus se eie woorde – is egskeiding is baie ernstige saak. Maar in die lig van Manna 429-431 is dit bepalend om te weet of God wel die twee saamgevoeg het, of nie. Die meeste mense trou met mekaar as gevolg van romantiese verliefdheid, fisiese aangetrokkenheid en/of dwingende seksuele begeerte; in die meeste gevalle speel God geen rol in die vleeslike en sielsdimensiebesluitneming nie. Die feit dat die huwelik “in die Naam van God” voltrek is, of in ‘n kerkgebou deur ‘n dominee of pastoor, of dat daar met ‘n Christelike inslag ‘n geestelike belofte aan mekaar gemaak is “voor God”, beteken hoegenaamd nie God het die huwelik gesanksioneer en die twee een gemaak nie.

As dit werklik so is dat ons deur God een gemaak is, durf ons God nie spot deur egskeiding enigsins te oorweeg nie – “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Heb 10:31).

Maar, soos alle besluite, hou ‘n huweliksluiting bepaalde verantwoordelikhede in, veral as daar kinders ter sprake is. Maar die eenvoudige beginsel wat Jesus ons geleer het, bly hier ook geldig: “Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.” (Mat 5:37). Jak 5:32 stel dit eweneens sterk: “laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n oordeel val nie”. Pred 5:4-6 – “As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie. Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ‘n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was ‘n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?”

In die volgende  manna neem ons 1 Kor 7 onder die vergrootglas.

 

 

  • Sela: Vra Yahwe watter geloftes het jy al gemaak en deal daarmee.
  • Lees: Deut 10-12
  • Ondersoek die vervulling: Deut 11:18 (Wenk: 1 Kor 2:16; 1 Sam 10:7; Open 20:4)
  • Delf dieper: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: Aanpasbaarheid in die huwelik