“For I am against the putting away of a wife, says the Lord, the God of Israel, and against him who is clothed with violent acts …” (Mal 2:15, BBE)
Gegewe die Joodse houding teenoor vroue asook die heersende Hebreeuse denkklimaat in die tye van die Ou Testament was egskeiding ‘n baie algemene praktyk, en Moses het rigtinggewende wette daargestel om dit meer menslik vir die vrou te maak (Deut 24:1-4). Deur die eeue het verskeie rabbi’s en gevolglik hul dissipels verskillende en selfs strydende standpunte hieroor gehad. Rabbi Hillel, byvoorbeeld, was ‘n besonder invloedryke meningsvormer en hy was van die oortuiging dat ‘n man ‘n vrou vir enige rede kon skei. Daarteenoor het Rabbi Shammai byvoorbeeld gevoel dis net op grond van owerspel dat egskeiding geldig is (net die Skrif in Mat 5:32 noem hoerery as rede vir egskeiding; die parallelle passasies in Mark 10:11 en Luk 16:18 hou dit nie spesifiek voor nie). Feit het bly staan – egskeiding was ‘n manlike prerogatief; vrouens het nie ‘n sê daarin gehad nie.
Toe die Fariseërs Yashua probeer vaspen om kant te kies tussen hulle denkskole het Hy hulle uitgewys dat alhoewel Moses egskeiding toegelaat het, hy dit gedoen het as gevolg van die hardheid van hul harte, en nie omdat dit Yahwe se wil was nie. Hy spel dit eksplisiet uit – die opsie om te skei was van die begin af nie so nie (Mark 10:1-12).
Egskeiding in die tyd van Yashua was ‘n uiters vernietigende ervaring vir enige vrou. Die woordjie egskeiding beteken letterlik “om weg te gooi”. ‘n Hof of godsdienstige owerheid was nie nodig om die man se besluit te sanksioneer nie; hy het na willekeur besluit en in die teenwoordigheid van sy getuies kon hy haar bloot ‘n selfgeskrewe skeibrief gee en siedaar – hy was verlos van sy verantwoordelikhede teenoor haar. Die implikasie hiervan was vir vroue absoluut verreikend – sy had geen inkomste, blyplek of beskerming nie. En geskeide vroue het so ‘n stigma gehad dat uit ‘n sosiale oogpunt geen ander man hul oor haar sou ontferm nie. Sy het net een iets tot haar beskikking gehad wat haar kon laat oorleef – haar liggaam. Om hierdie rede is prostitusie in die eerste eeu na Christus redelik in die sosiale kultuur geduld. ‘n Mens verstaan dan nou dat Yashua in Mat 5:32 sê dat as die man van sy vrou skei, “maak (dit) dat sy egbreuk pleeg”! En as sy later dan wel miskien ‘n man kry, trou hy noodwendig met ‘n egbreker, want dit was die enigste manier waarop sy ‘n bestaan kon maak. As Yashua dan vervolg om te sê: “elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk”, lees mense dit gewoonlik as ‘n taksering van die (nuwe) geskeide vrou, wat dit geensins is nie. Die man, omdat hy sy vorige vrou gelos het, is die egbreker, nie as gevolg van die vrou met wie hy nou trou nie!
Die onderliggende argument wat Yashua voer is dat ‘n ware seun van Yahwe nie deur wette gereguleer kan word nie. Ons het verskeie voorbeelde hiervan in die lewe van Dawid, maar veral ook Yashua, wat albei reeds die gees van die nuwe verbond geleef het. Hulle het verstaan die letter maak dood, maar die gees maak lewend (2 Kor 3:6). Dus herhaal Yashua nie net klakkeloos wat die wet van Moses sê nie – Hy demonstreer ‘n uintnemender weg, Dieselfde doen Paulus in 1 Kor 7.
Die probleem in die gemeentes van Korinthe is dat verskei persone tot geloof in die Messias gekom het, gered en wedergebore is, terwyl hul wederhelf nog steeds pagan was. Hulle was angstig om te weet – moet ons skei van ons nie-gelowige eggenotes? Paulus sê eksplisiet nee – bly by mekaar en leef in vrede sover dit moontlik is. Wie weet of Yahwe nie dalk die huwelik kan gebruik om die wederhelf tot geloof in die ware God te bring nie?
Lesers van die Manna sal teen hierdie stadium dit al duidelik moet verstaan – in die nuwe verbond werk Yahwe nie met wette en reëls en regulasies nie. ALLES ONTSPRING UIT VERHOUDING. Om van die Nuwe-Testamentiese riglyne net weer wette te maak, mis die hele punt van die evangelie. Wettisisme, stel The Message dit raak, “are impressively energetic regarding God – but they are doing everything exactly backward” (Rom 10:12). Die seuns van God word nie deur wette gerig nie, maar deur die Gees van God gelei (Rom 8:14). Uiteraard is daar meer gronde vir legitieme egskeiding as bloot owerspel (Mat 5:32) en verwerping deur die huweliksmaat (1 Kor 7:15). In Mal 2:15 word fisiese en emosionele geweld genoem as die dinge wat God eweneens nét soos egskeiding haat. (In die beeld van “die kleed wat met geweld bevlek is” lê daar heelwat wat ons behoort te ontgin, veral ten opsigte van die huwelik as covering, wat in die lig van Ps 73:6, en die demonstrasie daarvan in Gen 20:16, Rut 3:9 en Eseg 16:8, verskeie implikasies het.)
As daar dus nie as ‘t ware vaste reëls is oor egskeiding nie, hoe moet ons die fenomeen as gelowiges hanteer? Ek kan Chuck Swindoll se aforisme in Strike the Original Match: Rekindling & Preserving Your Marriage Fire hier ongekwalifiseerd gebruik: “Two processes ought never be entered into prematurely: embalming and divorce.” In ons samelewing waar gemak en gemaksugtigheid, gerief en ego, die hoogste doel is van ‘n verbruikersamelewing, beweeg ons deur ervarings soos ons deur televisiekanale click. Die keuse is so oorweldigend groot om ons immergroeiende aptyt te wil voed en soos ons flick van onmiddellike goeie gevoel tot die volgende onmiddellike goeie gevoel, woed ons kompulsie hom uit in geen gevoel, Die Skrif sê van koning Dawid: “Now in the spring, at the time when kings go out to war …” (2 Sam 11:1, BBE) , toe hy elders moes wees en nie was nie, het sy oë na Batseba begin kyk. In ‘n tyd waar ons só maklik out of love kan val nadat ons in love geval het, is Dietrich Bonhoeffer se woorde ‘n absolute riglyn: “It is not your love that sustains marriage, but from now on, the marriage that sustains your love.”
Dus, probeer weer, en weer en weer; leef verstandig met mekaar saam (1 Pet 3:7); weer bitterheid uit jou hart (dit veroorsaak onrus in die huwelik en besoedel die hele gesin – Heb 12:15); loop die tweede myl (Mat 5:41); wees “lankmoedig en vriendelik, nie jaloers nie; wees nie dikbek nie; soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie” (1 Kor 13:4-5). En: “wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1 Thes 5:18).
Dit beteken nie daar is vandag steeds nie ‘n geweldige stigma wat kleef aan egskeiding, en die Christelike godsdiens het hom J baie sterk daaroor uitgespreek. ‘n Groot Hervormer soos Martin Luther se woorde oor die saak sny soos ‘n mes – “But let them know that by their divorce they cease to be Christians, and become heathens, and are in a state of damnation.” (Luther’s Werke, vol 51, p. 37). Dis wet wat praat. Eina.
Ek kies eerder dat genade praat, in die woorde van Rob Bell in sy aweregse God Seks: “Ek sluit hierdie storie af, want die lewe is morsig. Pynlik. Riskant. Dinge eindig nie altyd goed nie. Soms eindig hulle glad nie. Soms stort alles ineen en wonder ons of ons enigsins sin het … Maar ek moet bly glo dat ons van enigiets kan herstel. Ek moet bly glo dat God enigiets – en enigiemand – kan heelmaak. Ek moet bly glo dat die God wat Jesus ons nooi om te vertrou, so vol goedheid is soos Hy sê Hy is.”
- Sela: Bid vir geskeide mense wat jy ken vir genesing.
- Lees: Deut 13-18
- Ondersoek die vervulling: Deut 16:20 (Wenk Mat 6:33).
- Delf dieper: Lees van die boeke hierbo genoem.