Dag 455 en 456

“en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly”

(1 Kor 7:11, OAV)

 

Daar is geweldig uiteenlopende standpunte oor egskeiding en hertrou, selfs onder evangeliese gelowiges wat die Bybel as rigtingwyser bely. Iemand soos prof Danie du Toit, in sy boek Antwoorde op eietydse vrae,  sê dit is “die Gereformeerde gevoel” dat egskeiding en hertrou wel toegelaat kan word. Iemand soos Craig Hill van Family Foundations is adamant daaroor dat dit geensins toelaatbaar is nie, veral op grond van die Skrif hierbo.

In ons gesprek tot dusver oor huwelik en egskeiding staan twee dinge uit. Eerstens dat die huwelik dikwels op ‘n onvas Goddelik-gefundeerde fondament staan en derhalwe nie die druk van die moderne samelewing daarop kan hou nie en gevolglik maklik meegee. Spurgeon het dit raak gesê: It is easier to crush the egg than it is to slay the serpent. Tweedens, dat Nuwe-Testamentiese riglyne nooit wette word nie, hoogstens as ‘n morele kompas dien van ‘n uitnemender weg – die letter maak dood, die gees maak lewend (2 Kor 3:6).

In hierdie lig is selfs 1 Kor 7:11 ‘n riglyn en nie ‘n wet nie. God het byvoorbeeld self aan Israel ‘n skeibrief gegee (Jer 3:8). As gevolg van die gevalle wêreld waarbinne ons funksioneer en gevolglike verkeerde keuse, is egskeiding soms die aangewese weg om te volg, alhoewel God dit nié geïnstitusionaliseer het nie. Die verhaal van die goddelose vroue met wie die Israeliete verkeerdelik getrou het en van wie hul moes skei, waaroor Esra 10 berig, is ‘n goeie voorbeeld dat dit wel dat egskeiding en hertrou deur God gesanksioneer kan word. MAAR dit word deur die Gees van God gelei in diepe bewustheid van jou persoonlike verbondsverhouding met Yahwe en nie deur ‘n generiese wet rondom egskeiding en hertrou nie.

Hertrou word in die geval van weduwees aangemoedig (Rom 7:3, I Kor 7:8-9 & 39 en 1 Tim 5:14). Die probleem lê egter in die eksegese van die Skrif wat hierbo aangehaal word – beteken dit ‘n vrou mag na haar egskeiding nie weer trou nie?

Dis belangrik om te besef Paulus onderskei in 1 Kor 7 tussen twee distinktiewe groepe. Hy deel allereers met huwelike waar albei gelowiges is en andersyds met ‘n ander groep (wat of ongelowig of een gelowig en ‘n ander nie is nie). Die breë beginsel vir albei gelowiges wat huweliksprobleme het, bly: moenie skei nie (ontrou is die enigste duidelike reg tot egskeiding). En as die een party ten alle koste wil skei, mag hy/sy vereers nie weer trou nie, want dit sal alle moontlikhede vir versoening tussen die twee partye onmoontlik maak. Jay E. Adams, in sy baie suiwer Marriage, Divorce & Remarriage in the Bible sê die volgende: “What Paul is after is reconciliation; he wants these two believers to put the marriage back together in a new and more biblical way. Since all believers have the Word and the Spirit, they have all that they need to bring about not only reconciliation, but – in the future –  a marriage that sings!”

Maar as dit dan nie na verloop van tyd gebeur het nie? Baie mense met ‘n wettiese geloofsdenkraamwerk is geneig om die wesensaard van Paulus se literêre styl hier mis te lees, met vernietigende gevolge vir die lewens van mense. Verskeie navorsers het aangetoon dat Paulus se skryfstyl dikwels dialogies en polemies is, en ook verskeie literêre stylfigure gebruik wat mense, helaas, uit onkunde mislees. Daarbenewens gee Paulus in sy styl beslag aan die wesensaard van God, wat altyd die mens uitnooi om met Hom oor kontensieuse sake te redeneer (Jes 1:8; 41:21; 43:26; Miga 6:2; Job 23:4). As jy die breër argument volg, dan sal jy duidelik sien dat dit bykans in ‘n straattaalargument plaasvind, ten spyte daarvan dat Paulus geskoold was in die Hellinistiese retoriek van redevoering, en ons dit dikwels in sy uitgebreide argumentvoering vind (bvyvoorbeeld by uitstek in die boek Romeine). Maar hier vind ons eerder, soos Blass & Debrunner, in hul Greek Grammar of the New Testament dit noem: “an elegant style of vulgar Greek” J

As Paulus se styl polemies en dialogies is, is hy heeltyd besig om verskeie aspekte van die kraaines van skei en hertrou uit te pluis, en moet ‘n mens duidelik raaksien dat elke stelling nie as ‘n wet bedoel is nie. Daarbenewens, deur heeltyd te ossileer tussen ek sê dit en dít sê die Here (terwyl die HELE Skrif tog deur God ingegee is, selfs die dele wat Paulus sê dis sy aanbevelings en nie die Here s’n nie!

Die polemiese uitspraak in 1 Kor 7:11 hierbo is derhalwe duidelik nie ‘n altydgeledende wet vir vroue wat geskei het en gevolglik nie weer kan trou nie. Trouens, God laat Hom nie bluf deur uiterlike vertoon nie – die meeste mense is in naam getroud, maar reeds van hart en tafel geskei.

Dit word die beste geïllustreer aan die hand van Jesus se uitspraak in Mat 5:27-28 – “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” Waar laat dit die huwelik dan as die man vasgevang is “into the prison of himself, there to keep a harem of imaginary brides” (soos C.S. Lewis dit so onvergeeflik gestel het)? (Uiteraard geld dieselfde vir die vrou.) As egbreuk ‘n legitieme rede is vir egskeiding (Mat 19:9), is hierdie weliswaar ‘n vrypas tot skeiding, alhoewel dit duidelik nie God se hart is nie. Sien dan tog die punt raak – dit gaan nie oor wette en reêls en regulasies nie, maar oor ‘n hartsgesindheid.

Ten afsluite oor hierdie saak. In 2 Sam 11 leer ons hoe Koning Dawid met Bátseba egbreuk gepleeg. (Trouens, uit ‘n tipologiese oogpunt is haar naam ook veelbetekenend: “daughter of covenant”.) Deur sy onregmatige optrede (ook deur haar man te laat vermoor), verbreek hy al die taboes ten opsigte van huwelik en respek vir heilige verbondsluiting tussen man en vrou. Dan lees ons in vers 27: “Nadat die routyd verby was, het Dawid gestuur en haar in sy huis opgeneem; en sy het sy vrou geword en vir hom ‘n seun gebaar. Maar die ding wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die HERE.”

Ons ken die geskiedenis en weet hoe God dinge met Dawid en Bátseba laat verloop het; ons het ook Ps 51 as deel van die boetedoening van Dawid voor God. Die verband wat ons wil maak ten opsigte van die onderwerp waarmee ons tans besig is? Met die keuses van Dawid en Bátseba oor huwelikstrou, egbreuk, hertrou en so meer was God duidelik nie mee tevrede nie, maar hulle het dit in alle gebrokenheid met God reggestel. En uit daardie “verkeerde” en gebroke verhouding het God later vir Jesus, die Verlosser van die wêreld,  gebore laat word. Die Nuwe Testament probeer geensins die skande wegsteek nie – in die genealogie van Jesus in Mat 1 word in vers 6 eksplisiet gesê: “en Isai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría …”

Ek stem ten diepste saam met Leanne Payne met wat sy in The Broken Image sê: “Evil is, in actual fact, seperation.” Maar ons weet dan ook Efes 2:13-14 is waar: “Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het …”

 

  • Sela: Prys God vir die waarheid van die laaste Skrif.
  • Lees: Deut 19-24
  • Ondersoek die vervulling: Deut 21:17 (sien God se hart met egskeiding hierin)
  • Delf dieper: Lees John Murray se Divorce. Dis ‘n diepgaande en redelik suiwer teks oor die saak.