Dag 461

 “Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.”

(1 Kor 11:3, OAV)

 

Ons wil ‘n sakie sydelings aansy wat nie soseer net met vroue te doen het nie, maar wat miskien as tema nou die beste tot sy reg sal kom. In sy gesprek in 1 Kor 7 oor die huwelik begin hy met ‘n stelling wat die meeste mense verbylees: “dit is goed vir ‘n man om ‘n vrou nie aan te raak nie”. Maar moet asseblief nie te gou skrik nie J. ‘n Stelling soos dié kan baie maklik gebruik word om ‘n hele teologie van nie-aanraking te bou. Hierdie vers is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n mens elke problematiese vers moet lees in die konteks van die totaliteit van die res van die Nuwe Verbond.

Paulus is besig om baie spesifieke vrae wat hy deur die gemeente in Korinthe gevra is, te beantwoord: “Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het …” Ons weet ongelukkig nié wat die vraag spesifiek wat gevra is was nie, maar dit gaan algemeen oor wat wenslik en wat ongewens is in seksuele verhoudings.

Dat die eerste vers oor nie-aanraking nié ‘n kategoriese wet is wat mans verhoed om vroue (seksueel) aan te raak nie (raak nie, smaak nie, roer nie aan nie … grappie), is baie duidelik uit die eksplisiete seksuele riglyne vir die verhouding tussen mans en vroue wat hy bied. (Seksuele gemeenskap sonder aanraking is kwalik moontlik; die vraag wat hulle hom gevra het was eerder in lyn met ‘n soortgelyke vraag waarop hy 1 Kor 7:36 antwoord, wat op sigself redelik moeilik is om net te verklaar, veral die snede “laat hom doen wat hy wil – hy sondig nie”. Maar spekulasie hier is nie nou gepas nie.).

Binne hierdie konteks gee Paulus rigting oor die Nuwetestamentiese beginsel van elke man moet sy eie vrou hê (met ander woorde nie veelvoudige vroue soos die patriarge nie; sien die klem op een man-een vrou in 1 Tim 3:2 & 12; 5:9). En dan sê hy in vers 3: “Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.”

In die lig van die res van die perikoop is Paulus onteenseglik besig om geestelike seksuele etiket uit te spel. Hy gebruik ‘n pragtige frase: “verskuldigde welwillendheid” om die gesindheid van die huweliksmaats te benadruk. Mans en vroue moet ook seksueel aan mekaar “the goodwill due” (Thayer) bewys en “not fail in duty”; die verantwoordelikheid “accrue”; “(they are) indebted or bound to conjugal duty” (Strongs).

Die seksuele behoefte van jou maat is die maatstaf wat bepaal of jy gemeenskap gaan hê, spel verse 4 en 5 uit. In te veel huwelike moet die een party smeek, pleit, skimp, dreig, of wat ook al, of iets in ruil bied. Dis totaal teen God se riglyn vir seksuele intimiteit. “Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.” Verskuldigde welwillendheid – dis die geheime kode vir gemeenskap soos God dit bedoel het. Die liefdesywer is immers ‘n vlam van die Here (Hoogl 8:6).

 

  • Sela: Vra Yahweh en jou maat om verskoning dat jou gesindheid oor die saak nie reg was nie. En doen restitusie J
  • Lees: Jos 3-5
  • Ondersoek die vervulling: Jos 5:2 (wenk: Joh 3:3).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Manlike en vroulike seksualiteit soos God dit bedoel het