Dag 462 en 463

“ Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei”

(Open 2:20, OAV)

 

Aan die begin van hierdie subtema oor “daar is nie meer man en vrou nie” het ons uitgewys dat daar rondom beskouinge oor die vrou dikwels óf ‘n onderwaardering/miskenning is óf ‘n oorwaardering/heldeverering. Albei denkrigtings is verkeerd. Ons het nou hoofsaaklik gefokus op die miskenning van die vrou in die Joodse en die Christelike geloof, maar dis noodsaaklik om ook vinnig na die teendeel te kyk.

(Dis belangrik om net ter aanvang te sê dat die doel van hierdie manna nie soseer is om ekstensief die gees van Jezebel te bespreek nie. Ons is tans besig om te wys hoe die bloed van Jesus die middelmuur van skeiding tussen man en vrou verwyder het, en ‘n bespreking van die gees van Jezebel sal die indruk skep dat dit ‘n spesifieke gees is wat net by vroue te vind is. Die teendeel is waar. Daar is dikwels meer mans as vroue wat in hierdie gees van manipulasie en beheer, veral tesame met ‘n godsdienstige gees, funksioneer. Herodes is ‘n baie goeie voorbeeld van ‘n man wat deur die gees van Jezebel beheer is.)

Die figuur van Jezebel wat ons in die twee boeke van Konings leer ken, is uiteraard ‘n historiese figuur wat gestalte gegee het aan ‘n gees van beheer en manipulasie – dit kom nie noodwendig van haar af nie. Daarbenewens is die persoon na wie verwys word in Open 2:20 hierbo ook genaamd Jezebel, en alhoewel dit bes moontlik ook verwys na ‘n bepaalde historiese figuur, kan albei, die Ou Testamentiese skadufiguur en die Nuwe Testamentiese simboliese ekwivalent, voorgehou word as ‘n vrouetipe met ‘n bepaalde agenda.

Daar is veel wat ‘n mens oor hierdie figurant Jezebel kan sê, maar wat vir ons doeleindes belangrik is, is dat sy haarself verhef, valse posisies van outoriteit verkry (dikwels deur ‘n subtiele gebruik van sensualiteit) en dikwels onheilige bondgenootskappe sluit. Sy word langsaamaan, ongesiens, die middelpunt, die onaantasbare god in ‘n posisie van mag. Baie min kan onderskei dat haar sogenaamde profetiese woord bloot haar vals posisie bevestig. Leonard Cohen het haar modus operandi in sy treffende liedjie, Hallelujah, soos volg raakgevat: “She ties you to a kitchen chair, she breaks your throne and she cuts your hair, and from your lips she draws the hallelujas.”

Hoe groot is Jezebel se invloed? Tienmiljoen Israeliete het hul weggekeer van Yahweh deur die invloed van Jezebel om die afgode Baal en Astorte te aanbid. Net seweduisend mense – soos Elia – het deur haar aanslag gesien. Dis haar lewenstaak om op die subtielste maniere die profete te agtervolg en te wil vernietig, om die “getuienis van Jesus” (Open 19:10) teen te staan.

Hoekom is dit nodig om hierop te wys in die bespreking van hierdie tema? Ons gaan dit in ‘n paar punte probeer opsom:

  • Die oorsprong van die Jezebel-gees lê in haar identiteit, haar naam, wat beteken: “unhusbanded”. Die onwilligheid om enigsins te submit lê ten grondslag van hierdie gees van rebellie. En ons weet: alle rebellie is witchcraft: “For rebellion is as the sin of witchcraft, and stubbornness is as iniquity and idolatry …” (1 Sam 15:23, Webster).
  • Jezebel se grootste vyand is ware geestelike outoriteit. Dis dan baie duidelik dat die hele drukgang in die teologie om die profetiese stem en funksionering van die vrou teen te staan deur hierdie gees gerig word! Hierdie gees weet wat die krag sal wees van die ware outoriteit as mans en vroue kan loskom van hierdie dwaallering – daarom staan sy dit ten sterkste tee. [Met die skryf van hierdie manna, vroeg Julie 2009, het die sinode van die Gereformeerde kerk finaal besluit dat vroue in geen posisie van leierskap (ouderling of diaken) mag dien nie en ook nie as dominee georden mag word nie. Hulle glo dat hulle dit in diep nederigheid ontvang het van God, vir wie hul om leiding gevra het. Maar God kan nie sy Woord weerspreek nie. Dit laat mens ernstig twyfel of dit wel die Gees van God is wat die sinode gelei het. Ps 18:25-26 is bes moontlik hier ter sprake.]
  • Jezebel werk met selfaangestelde outoriteit – sy noem haarself “profeet”. Die hedendaagse mode om jou geestelike roeping aan jou naam te speld, Apostel So-en-So, Profeet Sus-en-Dat, Evangelis Dat- en-Wat, is in wese ‘n poging om erkenning te kry in voorgestelde naam. Ware outoriteit hoef nie geestelike titels uit te stal nie, want dit word herken en erken deur ware gelowiges. Ware outoriteit laat toe dat dit deur Geesgeleide gelowiges self ontdek word.
  • Dis belangrik om die Gnostiek-link met Jezebel te onthou – sy heers deur sogenaamde kennis, wat dikwels “profetiese” insig is, of ‘n “woord van kennis”, of ‘n “diep openbaring”. Daardeur beheer sy die oningeligtes. As jy ‘n verhouding het met God, sal Hy uiteraard direk met jou praat, nie deur geestelike tussengangers nie. Veel van die verkeerde weë wat die eietydse Charismatiese en vernuwingsgemeentes inslaan, is as gevolg van die werkinge van die Jezebel-gees op hierdie vlak.
  • Jezebel gebruik enige wyse van optrede om haar sin te kry. As sy dreig of afpers en dit werk nie, sal sy haarself bejammer en ‘n slagoffer-beeld probeer slaan (Matyr instead of Master). Hierdeur probeer sy simpatie kry en so tog in haar doel slaag, want weer eens manipuleer sy die uitkomste deur haar optrede. Vroue wat in gemeentes deur hierdie gees aangeval word, kan maklik ook ‘n prooi word om self die gees te kry as hul onder stil protes hulself met knersende tande submit.
  • Die gees van Jezebel werk dikwels saam met die gees van Agab, mense met bepaalde outoriteit wat die hansie-my-kneg word wat Jezebel se agenda moet uitvoer. Dis dikwels omdat hulle nie die gees van jezebel kan onderskei nie.
  • Die grootste probleem wat Jezebel veroorsaak, is dat sy geroepenes hul geestelike visie laat verloor, alles wil laat abandon as gevolg van ‘n demoniese depressie, vreesagtig word en geïsoleerd voel, soos wat met Elia gebeur het.
  • Jezebel probeer die kerk binne bepaalde grense hou – ons doen soos ons vadere dit gedoen het.

 

Dit het Jehu gekos om Jezebel dood te maak. Sy naam beteken: Jehovah is Him, wat hom dus ‘n tipe maak van Jesus, die ware Outoriteit. Hy “drives furiously” (2 Kon 9:20) om haar teen te staan en is onverbiddelik, komprimisloos: “How can there be peace as long as the harlotries and witchcrafts of Jezebel are many?” (2 Ki 9:22). Dis ook ons stryd.

 

  • Sela: Vra Yahwe of die gees van Jezebel dalk deur jou ook werk.
  • Lees: Jos 6-11
  • Ondersoek die vervulling: Jos 7 (Wenk: Hand 5:1-13)
  • Delf dieper: Luister na Matzie Lee se cd-lering: Jezebel – elke vrou se vyand.