“Want die HERE het iets nuuts op die aarde geskape:
Die vrou sal die man beskerm.”
(Jer 31:22b, OAV)
“Die toorngloed van die HERE sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart; aan die einde van die dae sal julle dit verstaan.” Hierdie vers in Jer 30:24 praat van die “latter days”, die eindtyd wat sedert Jesus se kruisiging ‘n aanvang geneem het. Jer 31 is in baie opsigte (soos korresponderende hoofstukke in Jesaja en Esegiel) ‘n aankondiging van die nuwe verbond wat God in die plek van die ou verbond daar sou stel. ‘n Belangrike deel van hierdie verbond is dit wat in vers 22b uitgespel word: “Want die HERE het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm.”
Vir enige Joodse man sou dit gevoel het of God hom met dié vers ‘n dwarsklap gee. Soos in vorige mannas uitgewys, is vrouens as swak en onwaardig geag om enige verantwoordelikheid buite die huis op te neem. Hier profeteer Yahwe dat in hierdie nuwe bedeling wat kom, Hy “iets nuuts op die aarde skep”, met ander woorde: as dit ‘n aanvang neem, sal dit die begin van ‘n nuwe wetmatigheid wees. Ons weet nou al dat God se bloudruk van redding nie net vir Jode was nie, maar alle ander volkere ingesluit het, alhoewel die Jode dit net vir hulself toegeëien het. God se bloudruk was van die begin af vir “man en vrou”, want “van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak” (Mark 10:6). Die Joodse mans het dit egter ‘n dowe oor toegekeer.
Nadat Abram die patriargale aartsvader ‘n ontmoeting met Yahweh gehad het, verander Hy sy naam na Abraham. Abram beteken “exalted father”, wat sy heerskappy as hoof benadruk. Maar Abraham beteken “father of a multitude”. Die klem het eerder geval op vaderlike vermeerdering as op manlike hoofskap. Sela.
Nadat Yahweh Abraham se naam verander het (Gen 17:5), praat Hy ekstensief met hom oor die ewige verbond tussen hulle (vers 7) en oor die besnydenis (verse 10-14), wat die teken is wat net aan mans toegedoen kon word as ‘n uiterlike toonbeeld van hierdie verbond met Hom, asook baie eksplisiete voorskrifte daarrondom. (Interessant dan dat hul die teken van die verbond aan die manlike geslagsdeel dra, wat ikonies die toonbeeld van vaderlike vermeerdering word).
Dadelik na dié ooreenkoms tussen Yahweh en Abraham praat Hy in verse 15 en 16 met hom oor sy vrou, Sarai, se naam wat moet verander: “Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees. En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ‘n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.”
Dis baie belangrik om die volgorde van gebeure reg te interpreteer. Vroue het nie deel gehad aan die besnydenis nie en die Torah verduidelik nie eksplisiet hoe vroue deel geword het van die verbond nie. In Albert Barnes’ Notes on the Bible sê hy as hy Abram se eerste verbond (in Gen 15) vergelyk met hierdie verbond (in Gen 17) veertien jaar later: “The present form of the covenant is not identical with the former. That referred chiefly to the land; this chiefly to the seed. That dwelt much on temporal things; this rises to spiritual things. That specifies only Abram; this mentions both Abram and Sarai. At the former period God formally entered into covenant with Abram; at present he takes the first step in the fufillment of the covenant, seals it with a token and a perpetual ordinance, and gives Abram and Sarai new names in token of a new nature.”
Die verandering van Sarai se naam het dus ‘n verbondstatus ingehou.
Die Joodse vrou se posisie in Christus (dus in die nuwe verbond) word prototipies baie mooi uitgebeeld deur Sarai, die vrou van vader Abraham, weliswaar die moeder van alle nasies en konings (Gen 17:16). Sy is die Ou-Testamentiese tipologiese vergestalting van die Nuwe-Testamentiese vry vrou (Gal 4:21-31). Iniggewend – haar oorspronklike naam beteken “dominative”, wat herlei word na die basiswoord wat beteken: “a head person (of any rank or class): – captain (that had rule), chief (captain), general, governor, keeper, lord, ([-task-]) master, prince (-ipal), ruler, steward.” Dít alles is die vrou in sigself. Van die begin af is sy saam met die mens geroep om die hoof te wees: “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen 1:28).
Sarai se naam verander dan na Sara, wat beteken: “a female noble; lady; princess; queen”. Onteenseglik is sy steeds inherent (ook) hoof, maar in haar onderdanigheid volgens die ordinansie van Yahwe verkry sy die erkenning van haar koninklike status. Sy hoef nie haar hoofskap te laat geld nie – deur haar submission verkry sy ‘n outoriteitsgestalte! Hierdie interpretasie word pragtig gerugsteen deur 1 Pet 3:1-6, waarin die voorbeeld van Sara spesifiek gebruik word: “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het. Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God. Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig, soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.”
Dis belangrik om daarop te let: Sara het Abraham heer genoem, in Engels: lord, wat volgens Strongs beteken: “(supremacy); supreme in authority, that is, (as noun) controller; by implication Mr. (as a respectful title): – God, Lord, master, Sir.”
Hierdie voorbeeld spel vir ons Goddelike outoriteit en orde uit sonder die geslagtelike doringdraad daartussen. Dit gaan oor die krag van die vrou se innerlike mens en die wete van haar waarde vir God. Weer eens: dit beteken nie die vrou moet noodwendig stil wees nie – sy moet ‘n stille gees hê, met die wete dat omdat sy en Yahwe weet wie sy is, is sy “indeed precious in the sight of God” (WNT). Daarom is dit maklik vir haar om onderdanig te kan wees aan haar man. In hierdie posisie kan sy weliswaar Yahwe se profesie oor die nuwe verbond vervul: “Want die HERE het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm.” (Jer 31:22b, OAV). As ons hierdie misterie verstaan sonder chauvinisme of feminisme, sonder uitgediende oorleweringe en eietydse stereotiperinge, as ons verstaan dis die “raadslae van sy hart”, sal die Nuwe Verbond steeds verder vir ons ontvou.
Hiermee sluit ons dan die subafdeling af wat onteenseglik vir ons geleer het: daar is nie meer man en vrou nie.
- Sela: Hersien in die lig van hierdie lering voor Yahweh jou verhouding met die teenoorgestelde geslag.
- Lees: Jos 12-17
- Ondersoek die vervulling: Jos 14:11 (wenk 1 Kor 1:24; 4:20)
- Delf dieper: Luister na Timothy Prince Olusegun se cd-lering: Becoming co-heirs of the Grace of Life.