“Daar is nie meer … slaaf of vryman nie … want julle is almal een in Christus Jesus.”
(Gal 3:28, OAV)
Slawerny in die Ou Testament was welbekend, alhoewel die Mosaïese wette dit eerder gereguleer as gepromulgeer het. Israel word deurgaans herinner dat hulle as slawe in Egipte was: “jy (moet) aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei” (Deut 6:21).
Die Ou Testamentiese wette is deurspek met Goddelike riglyne om slawe regverdig en menswaardig te behandel. Dis vir ons doeleindes nie nodig om in detail in te gaan oor wat die slawebedryf behels het nie, behalwe om miskien te sê dat die Jubileejaar vryheid van slawerny meegebring het (Lev 25:10; Deut 15:17). In sy tyd van slawediens is die slaaf aangemoedig om die Joodse geloof aan te neem (Eks 12:44). Daar was duidelike riglyne oor vrylating (Eks 21:3, 20-21, 26-27). As hy vermoor is, is sy dood strafbaar met die dood gewees (Num 35:31-35); hy kon op al die voordele van Israeliete aanspraak maak: besnydenis (Gen 17:12), deelname aan die groot feeste (Eks 12:43), die aanhoor van die wet, die sabbat, die jubilee, en so meer.
Die Nuwe Testament gebruik die slawerny van die Ou Verbond as simbool of metafoor om die mens se slawerny aan sonde te demonstreer: “want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword” (2 Pet 2:19). [In ‘n subreeks eersdaags gaan ons in detail let op soveel as moontlik van hierdie sondetoestande wat mense verslaaf en hoe kan iedereen “vrygemaak … word van die slawerny van die verganklikheid” (Rom 8:15).]
Minder as ‘n eeu gelede het groot Godsmanne, soos David Livingstone, dit hul lewenstaak gemaak om slawerny te beëindig. En alhoewel die staat-gesanksioneerde ras-gebaseerde slawerny grootliks afgeneem het, het die fenomeen net ‘n paar ander verskuilde baadjies aangetrek en word dit steeds deur onregmatige finansiële gewin gedryf. Eietydse slawerny sluit in: internasionale mensehandel, plaas- en fabriekslawerny, kinderarbeid, kindersoldate, gedwonge prostitusie, immigrante-uitbuiting en -arbeid, die geweldige groot aantal sogenaamde “domestic servitude slaves”, kinderprostitusie, dwangarbeid, gedwonge/geforseerde kulturele huwelike (dikwels op ‘n baie vroeë ouderdom), gedwonge manlike en vroulike besnydenis.
In sy voorwoord tot Ronald Sider se boek Christians in an age of hunger sê David Watson die volgende: “It is disturbing … to find that most western Christians are closely identified with the ‘establishment’, with the rich and powerful. We have greater affinity with the affluent and the influential than with the downtrodden and the oppressed.”
Die tyd het gekom, in Theodore Parker se woorde, “to comfort the afflicted and afflict the comfortable”. Dis ‘n groot deel van die skandalige anti-establishment hardegat attitude van Jesus teenoor die sosiale onregmatighede van sy tyd.
- Sela: Vra Yahweh ‘n praktiese strategie om met slawerny in jou onmiddellike omgewing te deel.
- Lees: Jos 18-20
- Ondersoek die vervulling: Jos 18:7a (Wenk: 1 Pet 2:9; Efes 1:11 & 18)
- Delf dieper: Lees die boek van Ronald Sider hierbo genoem.