“julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!”
(Rom 8:15b, OAV)
In Rom 8:15 word die gees van vrees gestel teenoor “die Gees van aanneming tot kinders”. Oor die Vaderskap van Yahwe het ons sporadies in die manna tot dusver geskryf: in Mannas 186-190 is die belangrikheid van geestelike vaderskap uitgespel, en in Manna 363 het ons die Naam van God as “Ewige Vader” bespreek , en die implikasies wat daaruit vir alle gelowiges voortvloei, kortliks uitgewys. Die diepste worteloorsaak vir die gees van vrees in gelowiges is dat ons nie God as Vader leer ken het nie.
Die titel van die boek van die Moslemvrou wat tot geloof in Jesus gekom het, Bilquis Sheikh, vat die diepste drumpelvrees vir God treffend saam: I dare to call Him Father. In die jare wat ek betrokke is by die restorasie van mense is dit loshande dié saak wat die grootste verwonding veroorsaak: vaderskap, óf die gebrek daaraan óf die misverstaan daarvan. In die drama Nag van die lang messe sê die karakter Braam: “My pa was ‘n dominee. En vir my was, is God ‘n dominee. Hy was die hele week ‘n misterie – geslote agter pastoriedeure, ure lank, net met ‘n gedempte gefluister. Elke aand met huisbesoek by ander kinders wat hy aan die wang geknyp het. Hy het sy opstandingsoomblikke gehad Sondae om nege. Vir ‘n uur kon ek na my pa kyk in sy wit das en swart toga en die vreemde kanseltaal wat hy gepraat het. God is nou nog vir my vreemd.”
In die kultusfliek Fight Club sê een van die hoofkarakters: “Our fathers were our models for God. If our fathers bailed, what does that say about God?”
Uiteraard is daar groot verwarring oor natuurlike én geestelike vaderskap in die wêreld – dis nie soseer ‘n verantwoordelikheid wat ‘n mens dra as wat dit ‘n heenwysing is na die Vader, wat Efes 4:6 so mooi kenskets as “een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is”. E.W. Kenyon, in sy klassieke teks, The Father and His Family, het ons geleer: “All fatherhood love in the human comes out of the bosom of our Father God. He is the fountain of fatherhoods.” [Op ‘n later stadium sal ons hierdie belangrike onderwerp in groter diepte behandel.]
Van belang vir ons huidige onderwerp is dat geestelike slawerny ons weerhou daarvan om met God as Vader te assosieer, en hierdie slawerny het ten diepste te doen met vrees vir die Vader. Dáárom is dit so belangrik dat die gees van slawerny net verplaas kan word met “die gees van aanneming to kinders”. Hierdie gees roep uit jou diepste wese to die Vaderskap van God. Die gees roep Hom: Pappa, Pappa …
Jesus se woorde in Joh 14:10 rondom sy verhouding met sy Pa is die raakste beskrywing van die realiteit wat die gees van slawerny teenstaan: “ It is the Father, living in me, who is doing his work.” Dare to call Him Father en breek die gees van slawerny in jou lewe. En leer Hom ken as Pa.
- Sela: Maak seker dat jy God as Vader ken.
- Lees: Rigt 1-3
- Ondersoek die vervulling: Rigt 1:23 (Wenk: Gen 28:19; Num 17:8)
- Delf dieper: Lees een of meer van die boeke hierbo genoem.