“met woord en daad, deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God” (Rom 15:18b-19a, OAV)
Die volgende genadegawe, wat in Afrikaans “werkinge van kragte” genoem word, is meer duidelik as dit in Engels verklaar word as “workings of miracles” (ASV), “miraculous results” (ISV), “mighty deeds” (YLT) en “the exercise of miraculous powers” (WNT).
As daar in Miga 3:8 geproklameer word: “Ek …is vol krag, mét die Gees van die HERE”, dan is dit ‘n koppeling wat dikwels naasmekaar gestel word: Gees en krag. Daar word bv in Luk 1:17 geprofeteer dat die eindtydbruid sal “in die gees en die krag van Elia” beweeg. Die bekende Hand 1:8 spel dit só uit: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom”. Die Grieks vir “krag” is dunamis, ‘n woordjie waarin jy die oorsprong van die woordjie ‘dinamo’ sal herken. Híérdie krag laat dinge in beweging kom en dan resulteer dit altyd in die skyn van lig, kompleet soos ons ou fietse se dinamos! As daar kragwerkinge is, begin die lig van die koninkryk van God skyn! “Dan sal die regverdiges skyn … in die koninkryk van hulle Vader.” (Mat 13:43).
Paulus maak in 1 Kor 4:20 hierdie geweldige belangrike stelling: “want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag” (sien ook 1 Thes 1:5). Daarom is die meeste gelowiges “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim 3:5).
Onthou altyd dat die krag behoort aan God (“aan U behoort die koninkryk en die krag … – Mat 6:13), en aan sy Gesalfde (1 Kor 5:4), en hierdie “uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (Efes 1:19).
Gemeet hieraan, wil God in ons dae hierdie wonderwerkende krag in ‘n baie groter mate vrystel. Hy het “mag … om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efes 3:20). Begin Hom vertrou om die onmoontlike moontlik te maak – dit is die wesensaard van hierdie genadegawe. En: don’t despise the day of small beginnings (Sag 4:10)!
- Sela: Bedink Mark 9:23: “as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo” en kry die verband tussen vandag en gister se genadegawes.
- Lees: Gen 47: Ps 47; Mat 17
- Memoriseer: Mt 17:11
- Vir dieper delf: Lees Smith Wiggelsworth on spiritual gifts.