
“So stop being afraid
and don’t worry about what people might do.”
(1 Pet 3:14b, CEV)
Ons lees dikwels in die Skrif van baie dapper mense, wie se vreesloosheid hul grootste attribuut was: Josua se dertig duisend dapper manne (Jos 8:3) byvoorbeeld; dit word ook gesê van Dawid (1 Sam 16:18) en sy “mighty men” (1 Kron 11:26), Jeróbeam (1 Kon 11:28), Naäman (2 Kon 5:1), al die seuns van Issaskar (1 Kron 7:5), en nog vele meer. Meermale was dit vreesloosheid in gevaarlike situasies waarin mense hul dapperheid gedemonstreer het, soos oorlog of met wilde diere, soos dit in Heb 11:34 ook gekwalifiseer word. Yahweh het deurgaans in die ou én nuwe verbond almal aangemoedig om nie bang te wees nie. Die frase “wees nie bevrees nie”, een van baie soortgelyke frases, kom 56 keer in die Bybel voor! Dis egter die vrees in die binneste wat in die meeste mense woel, soos Amanda Strydom wat in een van haar liedere sing: “Ek is al byna veertig / en word elke nag nog bang.”
Petrus gee ‘n allemintige getuigskrif aan die matriarg Sara: sy het “geen enkele verskrikking (ge)vrees nie” (1 Pet 3:6)! Helaas is dit nie geredelik van ons te sê nie – die meeste gelowiges word gedryf deur ‘n gees van “timidity”, soos die NIV die “gees van vreesagtigheid” (2 Tim 1:7) vertaal.
Dis belangrik om te besef dat vrees die noodwendige gevolg is van ‘n paar dinge.
Eerstens: vreesagtigheid manifesteer as die teenwoordigheid van God nie ‘n realiteit is nie. As Dawid in Ps 23:4 proklameer: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my,” is dit nie omdat gevaar nie bedreig het nie. Midde-in bedreiging van watter aard ook al moet jy – soos Brother Lawrence dit uitgespel het – “practice the Presence”.
‘n Belangrike ding om te onthou, is dat jy moet weet dat omdat jy God dien, alles nie noodwendig altyd voorspoedig sal gaan nie. Ps 34:19 gee egter die wonderlike versekering: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.” In Jer 42:11 word die volgende uitgespel: “Vrees nie vir die koning van Babel vir wie julle bang is nie; wees nie vir hom bevrees nie, spreek die HERE, want Ek is met julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red.” Ook in die nuwe verbond is Jesus se woorde in Joh 16:33 altyd vir my ‘n geweldige troos en aanmoediging om deur te druk: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Daarbenewens is dit van groot belang om te weet dat slegte situasies wat druk op jou uitoefen noodsaaklik is in jou geestelike volwassewording (Rom 5:3)
Tweedens: geloof en vrees staan lynreg teenoor mekaar. Dit is as gevolg van ongeloof wat ons nié in die rus van die Here kan ingaan nie (Heb 3:11-12). Jesus het dikwels na sy volgelinge verwys as kleingelowig – hy noem die vreesagtige dissipels in die skuit tydens die storm so (Mat 8:26); Hy noem Petrus só as hy begin twyfel toe hy op die water na Hom toe moes loop; Hy sê dit vir sy geestelike seuns, die dissipels, toe hul ‘n tweede keer angstig word oor die baie mense wat gevoed moet word en nie vir hulle kos het nie, al het die wonderwerk die vorige keer voor hul oë afgespeel (Mat 16:8). Die wêreld se slagspreuk is: Sien is glo (Joh 6:30), maar in die Koninkryk van lig is dit presies die teenoorgestelde: Glo is sien (Joh 11:40)! As jou geloof ontbreek, kan jy vra vir ‘n genadegawe van geloof vir die situasie (lees weer Manna 46). Jy moet verseker weet: “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.” (Rom 8:35-37).
Die groot verdrukking wat baie gelowiges in die eindtyd vreesagtig verwag, is nie die waarheid nie. Die groot verdrukking vind elke dag plaas: ons word die hele dag gedood … Ons is deelgenote aan die verdrukking (soos Johannes homself noem in Open 1:9), maar die doel daarvan is dat Christus in ons gestalte kry (Gal 4:19)! Dwarsdeur die Nuwe Testament word ons aangemoedig om verdrukking te ly met vreugde en blymoedigheid (Rom 12:12, 2 Kor 1:4, 2:4, 7:4, 8:2, 13-14, Fil 4:14, Kol 1:24, 1 Thes 1:6, 3:7, 2 Thes 1:6, 2 Tim 2:9, 4:5 en Open 2:9-10). Die verdrukking maak jou geestelike klere spotless (Open 7:14). Daarom: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie.” (Open 2:10) – “Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus.” (2 Tim 2:3), want “ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor 4:17).
Geloof is die operative key om vrees te verwyder. Ps 91:5-6 bly die waarheid: “Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!” Daarom kan jy soos Dawid sê in Ps 56:3 – “Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.”
Derdens: wat ‘n mens vrees, kom oor jou (Spr 10:24; Jes 66:4). In Jer 48:44 word dit onteenseglik uitgespel: “Hy wat vlug vir die vrees, sal val in die kuil; en hy wat uit die kuil klim, sal gevang word in die net …” Die rede hiervoor is dat vrees ‘n vangstrik word (Spr 29:25). Daarom is die ou spreekwoord waar: Vrees slegs vrees.
Vierdens: vrees oorval mens as jy nie luister na die stem van die Here nie. Spr 1:33 sê: “maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil”. In Heb 3 en 4 word daar uitvoerig geskryf oor die gelowiges wat wél uit die land van slawerny gekom het, maar in die woestyn gesterf het en nooit die land van belofte ingegaan het nie. Dit word eksplisiet genoem dat ongeloof enersyds en ‘n gebrek om na die stem van die Here te luister andersyds, hulle verhoed het om in die rus van die Here te gaan. Omdat dit so is, vrees hulle.
As ‘n mens vrees in Engels ‘n akroniem maak, FEAR, sou dit kon staan vir False Evidence Appearing Real. Ons almal ken daardie vrees wat op die krop van jou maag kom lê in die nag, wanneer alles altyd meer bedreigend en erger lyk. Vrees is presies dit: valse getuienis wat ‘n nuwe realiteit skep. Staan dit aktief in geloof tee, sodat Spr 3:24-26 van jou waar sal word: “as jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir ‘n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik”.
Jesus se woorde in Mark 5:36 klink so maklik: “Moenie vrees nie; glo net.” Geloof is die basiese premisse van die hantering van vreesagtigheid, die uitgangspunt. In die volgende manna hanteer ons die bevryding van vrees.
- Sela: Neem ‘n geloofsposisie in teenoor vreesagtigheid, ‘n sonde van ongeloof.
- Lees: Rigt 7-12
- Ondersoek die vervulling: Rigt 8:16 (Wenk: Num 33:55, Gen 3:18, Mat 7:16 en Heb 6:8)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Psigose v Vrees staan die Laaste Reformasie tee