Dag 472

“Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.”

(Luk 1:37, OAV)

 

Die probleem met die gees van vrees is dat ons dikwels Bybelse aansporinge om dapper te wees gedagteloos herhaal, dikwels soos ‘n bang man wat op ‘n donker plek hardop praat om homself daardeur te oortuig. Dis byvoorbeeld maklik om Dawid se proklamasie in Ps 27:1-3 te memoriseer en hardop te sê. Maar as dit klaar gesê het, bly die vrees dikwels steeds ‘n onsigbare teenwoordigheid wat jou aangluur en skielik sal kan oorval.

In hierdie manna wil ons ‘n paar praktiese riglyne bied in terme van jou bevryding van die gees van vrees. Die breë agtergrond (=kennis) soos in die vorige manna verreken, is allereers die konteks waaruit jy die saak prakties hanteer.

Onthou dat vrees die mensdom oorweldig het na die sondeval. Toe die HERE God na die mens roep na hy gesondig het, antwoord hy: “Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.” Die covering wat ons in Adam verloor het, het ons uitgelewer laat voel, en ons vrees. Die gelowige HET in Christus daardie covering teruggekry, alhoewel ons sielsdimensie (veral emosies en denke) nog steeds geprogrammeer is om te bly vrees. 1 Joh 4:7 sê “die vrees sluit straf in” – om hierdie rede moet jy seker maak dat jy GLO dat God jou ter wille is, jou liefhet en beskerm. Maak dít jou realiteit. Deel met jou weeskindgevoel, soos oom PD van der Walt dit genoem het.

Die mens se denke is in staat om drogbeelde op te tower, wat altyd erger is as wat die realiteit kan wees. Deur suggesties van die Koninkryk van duisternis neem jy aktief deel aan die vreessiklus waarbinne jy geestelik-emosioneel aangerand word. Trek ‘n streep! Dis net moontlik as ons die Heilige Gees geleentheid gee om ons gemoed te vernuwe (Rom 12:2), want net Hy kan die juk van vrees verbreek (Jes 10:27). Bely allereers jou vrees as ongeloof en gebrek aan liefde. Kyk weg van jou fisiese of potensiële omstandighede en hou jou geestesoë op Hom (Heb 12:2). Vra Hom om die liefde van God in jou (Rom 5:5) vry te stel en daardeur die vrees na buite te dryf. Die volmaakte liefde dryf alle vrees na buite (1 Joh 4:18).

Om in hierdie geloofsrealiteit te beweeg, is dit belangrik om te bely wat God vir jou oor die situasie gesê het – dis nie ‘n blinde geloof in algemene waarhede nie, maar dit wat Hy oor jou en jou situasie gespreek het. Glo Hom, en dit sal jou tot geregtigheid gereken word, en bely dit wat jy glo. Rom 10:10-11 – “want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” Daarmee saam is dit van die uiterste belang dat jy God prys vir die huidige situasie – wees vol danksegging ten spyte van die slegte omstandighede. 1 Thes 5:18 stel dit onomwonde: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” Volhard hierin en weet: “Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.” (Luk 1:37).

 

  • Sela: Bid vir iemand wat vreesagtig is en werk stelselmatig deur die bevrydingsproses.
  • Lees: Rigt 13-15
  • Ondersoek die vervulling: Rigt 13:18 (Wenk: Jes 11:2)
  • Delf dieper: Luister na Matzie Lee se cd-lering: Breek deur die skandmuur, die muur van vrees en die muur van offence