Dag 473

“… her warfare is accomplished … ”

(Isa 40:2, ASV)

 

In die vorige paar mannas het ons stilgestaan by die wesensaard van vreesagtigheid. Noudat jy hopelik daarmee gedeel het, of ten minste in ‘n proses is om daarmee te deel, keer ons terug na die twee temas wat spruit uit Heb 2:14-15 – “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” Hierdie vers spel dit onomwonde uit: vrees vir die dood maak van jou ‘n slaaf. Ons het gesê dat ons die twee groot D’s bespreek wat mense in slawerny en hooploosheid dompel: Duiwel en Dood. Ons begin by die Bose.

Die geskiedenis van die mens is onlosmaakbaar aan die Bose gekoppel. Satan, eens die magtigste geskape wese, die mooiste met die helderste lig (vandaar sy naam Môrestêr – Eseg 28:17; Jes 14:12), “die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid” (Eseg 28:12). Maar na sy opstand teen Yahwe (Eseg 28:15) is hy uit die hemel gewerp (Luk 10:18) en vir 4000 jaar het die mens ‘n bykans tevergeefse stryd teen die koning van die Koning van die Duisternis probeer voer (Dan 7:21; Open 13:7). Hy oefen sy mag uit oor al die koninkryke van die aarde (Luk 13:7), want die hele wêreld lê in die mag van die Bose” (1 Joh 5:19).

Dirk Opperman, in sy gedig Edms Bpk, vat die heerskappy van die duiwel op aarde en in die mens se lewe besonder raak saam – hy beskryf dat hy ‘n erf koop en dit afkamp en op die hek skryf: “Dis Dirk se erf.” In die tweede strofe kom die janfiskaal, ‘n tipe voël wat ook ‘n laksman genoem word (hier simboliserend van die dood) en proklameer oor die grond: Dis my gebied. In die slotstrofe skryf die digterlike spreker: “Bakkapel glip uit my melkhoutbos / verby die kruin verby die rots / en teken in sandkolle waar hy kom / oral in ouderwetse skrif: / ‘Alles … alles my eiendom.’” Die bakkapel is uiteraard “die ou slang wat die duiwel en die Satan is” (Open 20:2) – hy maak op alles, alles aanspraak. Hy voed op die stof van die aarde (Gen 2:7; 3:14) – ek en jy.

Maar ‘n fantastiese ding het 2000 jaar gelede gebeur – toe Yashua aan die vloekhout sterf, word die mag van die sonde oor die mens verbreek, en die dood tot niet gemaak (2 Tim 1:10). In Jes 28:5 is al geprofeteer dat die dag sal kom dat “die dood vir ewig vernietig” sal word. 1 Kor 15:54 spel dit onomwonde uit: “Die dood is verslind in die oorwinning.”

‘n Interessante verskynsel van die Bybelsamestelling in hoofstukke van die Bybelrol Jesaja is dat dit 66 hoofstukke het, en derhalwe korrespondeer met die aantal boeke in die Bybel. Genesis korrespondeer dus met Jes 1; Eksodus met Jes 2, en so meer. Die oorgang van die Ou Testament (39 boeke) na die Nuwe Testament gebeur met die veertigste boek, wat dan korrespndeer met Jes 40. Dis ongelooflik hoe daar in hierdie hoofstuk die sleutelterme bevat is van die fondamente van die nuwe verbond. En dan: vers 2 maak dan hierdie aankondiging –  “her warfare is accomplished …”. Jesus het sy nageslag losgekoop van die Satan se oorlogvoering wat 4000 geduur het. Die kerk se “stryd is verby”. Sela.

 

  • Sela: Watter implikasies het hierdie lering vir jou?
  • Lees: Rigt 16-18
  • Ondersoek die vervulling: Bepaal die NT’e betekenis van hare.
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws: Die Dier wat is wat nie is nie – Her warfare is accomplished.