“En die groot draak is neergewerp,
die ou slang wat genoem word duiwel en Satan …”
(Open 12:9, OAV)
In watter dieretuin of wildpark het jy al ‘n draak gesien? Nog nie? Haai nooit J.
‘n Draak is ‘n verbeelde dier, ‘n skepping van die verbeelding wat bestaan omdat jy daaraan gestalte gee. In sprokies – waar drake dikwels voorkom en deur die held oorwin moet word – verteenwoordig die draak “the tenacious aspects of the father”, volgens Joseph Campbell in sy navorsing oor mites en sprokies. Die held van die sprokie moet iets verkry wat sy identiteit volledig maak, en dit word verteenwoordig deur die draak wat iets kosbaar gevange hou (gewoonlik ‘n slapende skone) en dit onder geen omstandighede wil prysgee nie. Campbell noem dan ook dat die draak ‘n “self-generated monster” is, dus: ‘n voortbrengsel van jou eie vrese.
Alhoewel daar tans ‘n baie spesifieke poging is om die Bybel as ‘n boek vol sprokies, mites, fabels en legendes af te maak, weet ons dat dat die Bybel dit geensins is nie, al werk dit oorvloedig met wonderwerkinge, diere wat kan praat, onwaarskynlike realiteite wat bots met natuurwette, mense wat lyk na fantasiekarakters, onsigbare magte, en so meer. (Iemand met ‘n Geesgedrewe verbeelding, soos C.S. Lewis, kon hierdie moontlikhede van die eenvoudige literatuursoorte in die Bybel met vrug inspan en uitbuit in sy boeke, met ‘n duidelike allegoriese waarde en ‘n ondubbelsinnig-duidelike profetiese segging.)
Yashua sê in Joh 4:23 dat die Nuwe Verbond kry beslag in aanbidders in wat Hom nader in “gees en waarheid”. Die basiswoord in Grieks vir waarheid is “realiteit”. Strongs omskryf dit as: “not concealing”. Thayer gee ‘n uitvoerige beskrywing, onder andere: “that candour of mind which is free from affection, pretence, simulation, falsehood, deceit”. As daar in 1 Joh 5:20 staan: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe.” word waaragtig drie keer in een sin herhaal om te benadruk dat ons verstand gegee is om die Waaragtige te ken. Hy is los van alle versinsels, verbeelding, vermoedens, onrealiteite. If it is not real, it is not God.
As dit dan die geval is, waarom gebruik die Bybel enigsins fantasietaal en –simbole, soos die draak, om sy punt te maak?
Die Bybel se beskrywing van Satan as die Draak is een van die raakste moontlike beskrywings, veral in die Bybel se eie definisie van ‘n draak as ‘n manifestasie van die dier “wat is wat nie is nie” (Open 17:8). Luister mooi: hy is, maar hy is nie. Hy bestaan net as jy aan hom gestalte gee. En as hy daar is, maak hy soos Tom Chetwynd in sy Dictionary of symbols oor die draak sê: “the dragon swallows the light of conscious life”. Hy verteer waaragtigheid, waarheid, realiteit. False Evidence Appearing Real.
Die gelowige sielkundige M. Scott Peck omskryf in sy People of the Lie die begrip “mental health” as “an ongoing process of dedication to reality at all costs”. Dan sê hy: “Satan is utterly dedicated to opposing that process. In fact, the best definition I have for Satan is that it is a real spirit of unreality”. Overgesetsynde desnieteenstaande: ‘n draak.
- Sela: Watter verbeelde drake veg jy?
- Lees: Rut 1-4
- Ondersoek die vervulling: Rut as Bruid en Boaz as Bruidegom.
- Delf dieper: Gaan lees Narnia van C.S. Lewis.