“Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.”
(Luk 10:17, OAV)
Yahwe het in Jes 25:7 geprofeteer dat daar ‘n dag sal kom dat Hy die demoniese sluier oor mense sal vernietig. Ons het die vorige manna afgesluit met die vooruitsig dat dít gebeur op die berg Sion. Wat beteken dit prakties vir my en jou?
In Luk 10 is daar ‘n gebeurtenis en gesprek wat opgeteken is wat vir ons van enorme waarde is rondom hierdie saak. In vers 1 word ons vertel van hoe Yashua sy dissipels georganiseer en uitgestuur het: “En ná hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.” Let op: die evangelie van die koninkryk van God was nie meer ‘n ervaring van die rhinestone cowboy, die profeet sielsaliglik stokmannetjiealleen in die barre woestyn, nie. Die konsep van die Liggaam word stadigaan gevestig: twee-twee moet hul uitbeweeg.
Daar is uiteraard ‘n praktiese waarde in saamwees, maar ook in geestelike gemeensaamheid, soos Pred 4:9-12a dit vir ons voorhou: “Twee is beter as een, want hulle het ‘n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ‘n tweede is om hom op te tel. Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word? En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied;” Maar dan word daar in vers 12b die volgende uitsonderlike ding gesê: “en ‘n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie”.
‘n Driedubbele lyn? Daar is in die hele gedeelte net heeltyd sprake van net twee? In Mat 18:20 leer Yashua ons eweneens dat waar daar twee in sy Naam vergader, daar is Hy in hul midde teenwoordig. Net voor dit sê hy by herhaling vir hulle: “Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.” Dis ek en jy en onsdrie – waar ek en jy in verbondsverhouding in waarheid en genade (Joh 1:14) met mekaar saamloop, is Hy.
Daar lê ‘n geweldig krag in korporatiefheid – sonder verhouding is daar geen getuienis nie. Yashua vertrou sy hele evangelie aan hierdie menslike korporatiefheid toe! Later, in Luk 10:16, sê Hy: “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”
In die volgende vers keer hierdie dissipels twee-twee terug, en rapporteer die geweldige reaksie ten opsigte van hulle ervaring: “En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.”
Lees mooi – selfs vóór die kruisiging (waar die saak vir ewig gesettle is – ons kom later daarby) wou Yahwe dit demonstreer dat Hy die mens oorspronklik aangestel het om oor die aarde te heers (Gen 1:26). Onmiddellik bind Hy hierdie situasie in tot die groter geskiedenis: “Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.” (vers 18). Hierdie vreemde inbring van iets wat nog voor tyd gebeur het, is ‘n sleutel vir praktiese outoriteit – meer in die volgende manna daaroor.
- Sela: Wat is jou diepste hartsingesteldheid teenoor korporatiefheid?
- Lees: 1 Sam 10-12 ek die vervulling: 1 Sam 12:3 (Wenk: Wie is die “gesalfde”? Ps 2:2; Hand 4:26).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Korporatiewe Salwing ‘As it is in Heaven’.