Dag 480

“Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.”

(Luk 10:18, OAV)

 

In die vorige manna het ons begin gesels oor die geestelike krag van korporatiefheid, en dat die dissipels geleer het dat demone aan hul outoriteit onderwerp is, en dat hul hierdie goeie nuus aan Yashua kom rapporteer het. Sy reaksie daarop is ‘n vreemde een: “Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.”

Ons het in ‘n vorige manna stilgestaan by hierdie teks en uitgewys dat dit slaan op Môrestêr, die hoogste geskape wese, wat uit die hemel gewerp is nadat hy homself in trots verhef het bo Yahwe: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jes 14:12-14).

Alhoewel Satan (sy naam moes desnoods verander, want sy identiteit het verander) uitgewerp is uit die koninkryk van God, het Yahwe se wesensaard van regverdigheid dit genoodsaak om hom ‘n deel van die geskape heelal (sienlik en onsienlik) te gee om oor te heers. “The devil, “ sê die CEV-vertaling van Ephes 2:2, “he rules the world, and his spirit has power over everyone who doesn’t obey God”. Die koninkryke van die wêreld is aan Satan oorgegee (Luk 4:5-6) en is onder sy beheer (1 Joh 5:19). Yahwe se meesterplan is egter om deur Jesus die Christus alles weer met Hom te versoen (Kol 1:20). Alle dinge moet egter eers met Yashua versoen word voor Hy weer terugkeer (Hand 3:21). As die ganse koninkryk DEUR DIE BRUID weer met Hom versoen is, gebeur 1 Kor 15:24 – “Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.”

Alle heerskappy en alle gesag en mag moet deur die Bruid van Yashua vernietig word. Ons moet die mandaat wat Yashua by die kruis moontlik gemaak het (Kol 2:15), met sy outoriteit implementeer. Sy vyande moet DEUR DIE BRUID die voetbank van sy voete gemaak word (Ps 110:1; Mat 22:44; Hand 2:35). Veral Heb 10:13 spel dit onomwonde uit: Hy “wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete”.

Terug na die passasie in Lukas hierbo. Die naasmekaarstelling van die 70 dissipels se ervaring dat hul outoriteit bo dié van demone het, en Yashua se opmerking dat Hy Satan lank gelede uit die hemel sien val het, beteken dat die afwaartse val na benede as ‘t ware in fases gebeur. Vanaf Yahwe se oordeel dat hy nie meer in die hoogte (die simboliese ruimte van outoriteit) mag wees nie, het hy begin val. Allereers: Hoe het jy uit die hemel geval; dan: Ek het (jou) soos ‘n bliksem uit die hemel (na die aarde) sien val; en dan: Ek het jou op die grond gewerp … (Eseg 28: 17b). Job 40: 11-12 spel dit uit: “kyk na alles wat hoog is, en verneder dit. Kyk na alles wat hoog is, onderwerp dit; en werp die goddelose neer daar waar hulle staan.” So ook sal die ruimte van demoniese heerskappy hier op aarde val: “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls”.

 

  • Sela: Maak vir jouself uit wat jy eintlik glo oor die rol wat Satan in jou lewe speel.
  • Lees: 1 Sam 13-15
  • Ondersoek die vervulling: 1 Sam 14:27 (Wenk: Efes 1:18).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Thw world according to God.