
“Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” (Luk 10:19, OAV)
Partykeer lees ‘n mens oor die ongelooflike profound waarheid van die Skrif. In die lig van wat nou al in Luk 10 afgespeel het, het ons gesien korporatiefheid is ‘n wesensbeginsel van die koninkryk van God. In die proses waardeur die Bruid die vyand die voetbank van Yahwe se voete moet maak, geniet ons ‘n bepaalde privelegie, amper soos die diplomatieke korps in ‘n vreemde land waar hul nie in hegtenis geneem mag word nie, topklas beskerming geniet en uitsonderlik veilig is.
Ons glo dit helaas net nie. Satan se grootste wapen teen ons is dat ons glo dat hy beheer ons lewens het, ons geluk, vooruitgang, lewe, ensovoorts beheer. Dat hy ons gedurig aanval en dat ons sy prooi is, en dat hy daarin slaag om ons te kortwiek en skade aan te rig! Hoeveel keer sê ons nie teenoor mekaar nie: O, ek is tog so onder aanval van die Bose!
Net voor Yashua opgevaar het, maak Hy dit onteenseglik duidelik: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” (Mat 28:18). Alles is in sy hand gegee (Joh 3:35). Hy het heengegaan na die hemel en waar Hy aan die regterhand van God is, is alle engele en magte en kragte aan Hom onderwerp (1 Pet 3:22).
In sy gebed in die tuin van Gétsemané bid Yashua oor sy dissipels: “Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.” (Joh 17:18). En dan, ‘n paar verse later, bid Hy vir ons: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo— dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (verse 20-21). Daniël het lank terug geprofeteer dat dít die geval sal wees: “en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid” (7:18). In vers 27 word dit meer eksplisiet uitgespel: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”
Terug by die Skrif hierbo – soos Yashua dit aan sy dissipels gegee het, het Hy dit aan elke gelowige gegee: ons kan op slange en skerpioene (=Bose) trap; ons het mag oor AL die krag van die vyand; en NIKS sal ons ooit skade doen nie. Sela.
Jou naam (=identiteit) en jou outoriteit is in die hoogte (=die geestelike realm) opgeskryf, sê Luk 10:20, sodat deur die ekklesia die menigvuldige wysheid van God aan alle demoniese magte en owerhede en prinsipaliteite gedemonstreer kan word (Efes 3:10)!
Die realiteit van die nuwe verbond is dit: “For you died, and your life has been hidden with Christ in God.” (Col 3:3, LITV). In Joh 10:28 sê Yashua niemand sal jou uit sy hand ruk nie. In die volgende vers korrigeer Hy sy pasgemaakte stelling: Niemand kan jou uit sy hand ruk nie. Mits jy in Hom bly (Joh 6:56; 14:20; 17:21; 1 Joh 4:15-16).
- Sela: Maak hierdie kosbare waarheid vas in jou lewe.
- Lees: 1 Sam 16-18
- Ondersoek die vervulling: 1 Sam 17:47 – baie belangrik vir hierdie lering.
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die weg van ‘n slang oor ‘n rots.