“our old man was put to death on the cross with Him”
(Rom 6:6, BBE)
In Gen 3:15 het Yahweh reeds in die vooruitsig gestel dat Satan se planne met die wêreld en die mensdom gestuit sal word. Hy sê aan die slang: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Die geskiedenis van die wêreld is daarna voltrek as ‘n geskiedenis van die saad – wie gee aan wat gestalte. Uit die saad van die vrou (soos in in Dag 238-240 in detail bespreek is) sou ‘n persoon gebore sou word in die “volheid van tyd” (Gal 4:4), en Hy sou “die Satan spoedig onder julle voete verbrysel” (Rom 16:20). Hierdie persoon is Yashua, die vleesgeworde God (Gal 3:16; 1 Joh 4:2-3).
Nadat die duiwel Adam en Eva verlei het tot ongehoorsaamheid is hy ook deur God vervloek: “Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.” (Gen 3:14). Die duiwel, die groot draak, die ou slang (Open 12:9) kon van nou af net beweeg op die stof van die gevalle mens (Gen 3:19), en dít sal sy voedsel wees (met ander woorde hom laat leef). En hy sal net in en deur die gevalle vleeslikheid van die mens sy saad vermeerder. Sela.
Dit is belangrik dat ons weet dat in die belofte van die Messias wat sou kom, het Jes 9:6-7 eksplisiet gesê dat sy koms sal lei “tot vermeerdering van die heerskappy”. Die kruis was die epogmakende draaipunt van die geskiedenis rondom hierdie saak. Satan se aanspraak op die wêreld (Mat 4:8; 1 Joh 5:19) deur hom in mense voort te plant is hier gestuit. God het aan die kruis dié vyandskap doodgemaak (Efes 2:16). Deur die kruis het God nadat Hy die demoniese “owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het” (Kol 2:15) “die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kol 2:14).
Jou ou vleeslike mens wat deur Satan uitgebuit is, bewandel is, vreesagtig gemaak is, geplunder is, is reeds aan die kruis vasgeslaan. Rom 6:6 (BBE): “Being conscious that our old man was put to death on the cross with Him, so that the body of sin might be put away, and we might no longer be servants to sin.”
As dit dan alreeds plaasgevind het toe Yashua gekruisig is (en jou ou mens saam met Hom aan die kruis), moet jy “vernuwe word tot kennis” oor “die oue mens met sy werke (wat) afgelê” moet word en moet jy jou“met die nuwe mens beklee”.(Kol 3:9-10).
Let asseblief mooi op, en maak die waarheid vas: AL WYSE HOE SATAN JOU LEWE KAN BEÏNVLOED IS DEUR JOU TE MISLEI OOR SY MAG EN HEERSKAPPY IN JOU EN DEUR JOU BELEWINGSWÊRELD.
- Sela: Vernuwe jou tot kennis rondom hierdie geweldig belangrike saak.
- Lees: 1 Sam 19-21
- Ondersoek die vervulling: Lees die geskiedenis as prototipe van die gelowige wat in sy hoë roeping wil opstaan, maar deur die godsdienstige sisteme vervolg word.
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die weg van ‘n skip in die hart van die see.