“soos Moses die slang in die woestyn verhoog het”
(Joh 3:14, OAV)
Die slotsom waarby ons in die vorige manna by uitgekom het, moet jou hele manier van dink verander. Tog, ten spyte van hierdie waarheid, loop baie mense nog gebind aan wat Satan hulle influister – hulle glo God nie.
‘n Uitstekende voorbeeld om dit prototipies te illustreer, is die opgetekende geskiedenis in Num 21:5-9. Kortliks verloop die verhaal soos volg: Die volk Israel het teen God en teen Moses gemurmureer. Hulle was onvergenoegd in die woestyn. Hulle kla oor daar is geen brood en geen water is nie, en hul siel walg van die ellendige kos. Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense het gesterwe.Hulle bekeer hul en vra Moses om te bid dat Hy die slange van hulle wegneem. Daarop sê die HERE aan Moses dat hy ‘n voorbeeld van ‘n giftige slang moet maak en dit op ‘n paal sit; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. Moses het toe ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
Hierdie gebeurtenis dui figuurlik op Yashua wat aan die kruis verhoog moes word, “soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:14-15).
‘n Mens kan jou indink dat die Israeliete, veral die wie se lewens gespaar is deur te kyk na die koperslang, ‘n geweldige respek en verering daarvoor gehad het. Helaas is dit dikwels in die natuur van die mens, om voorbeelde, beelde, representasies van God te maak en dít word dan die fokus van ons aanbidding, en nie God nie. Aäron se goue kalf was nie vir hul enigsins ‘n afgod nie – “Dit is jou Elohim, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.” (letterlike vertaling). [Elohim is die allereerste Naam waarmee Yahweh Hom aan die mens voorhou in Gen 1:1. Dit beteken: Skepper en Onderhouer.]
Die koperslang het met verloop van tyd ‘n bepaalde verering begin kry wat onheilig was. Ons lees dan, interessant genoeg, dat toe Hiskia koning word, het hy sonder sentiment gedeel met alles wat na afgode geruik het (= die “omhulsels” wat deur verkeerde salwing op die volk van God uitgegiet is en ‘n sluier geword het). in 2 Kon 18:4 lees ons: “Hy het die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die heilige boomstamme omgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op dié dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehústan genoem.”
Nehústan – die ding van koper. Nié die slang wat ons lewe gered het nie – die ding van die vlees, die ding wat ons laat struikel. [Wat sou ons, vra Bruxey Cavey, gedoen het as Jesus nie aan ‘n kruis gesterf het nie, maar op ‘n elektriese stoel, of aan ‘n galgtou, of deur die toedoening van ‘n gifinspuiting? Sou ons ‘n vergulde elektriese stoel om ons nek gedra het (die Rooms-Katolieke nog met Jesus intact, of ‘n galgtou aan die kerktoring vasgemaak het, op die berge van ons dorpe ‘n verligte inspuitingnaald aangebring het?] Het die kruis nie dalk vir Yashua vervang nie, en het dit nie Nehústan geword nie? (Let daarop dat dit ‘n eienaam geword het – dit het helaas ‘n lewe van sy eie gekry.)
- Sela: Wat beteken die kruis as simbool vir jou. Is dit Nehústan?
- Lees: 1 Sam 22-24
- Ondersoek die vervulling: 1 Sam 24:5
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Afgode in jou lewe.