“want daar is geskrywe:
Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang”
(Gal 3:13, OAV)
As ‘n intermezzo-lering wil ons net met hierdie manna ‘n paar sake stel rondom die kruis as simbool. Ons het in die vorige lering uitgewys dat die kruis as simbool betekenis dra, maar dat ons nie meer betekenis daaraan moet heg as grootliks ‘n middel tot ‘n doel nie.
Dis belangrik om te weet dat die kruis as simbool in die vroeë Christendom geensins van groot waarde geag is nie. Dis eers na die dramatiese bekering van Konstantijn die Grote in 312 n.C. dat die kruis as simbool van die Christendom geword het. Dit het gevolg op ‘n visioen waarin hy ‘n vlammende kruis in die hemele gesien het met die inskripsie: “In hoc signo vinces”, wat beteken: “Deur hierdie teken sal jy oorwin”/”By this ensign thou shalt conquer”. In die volgende nag het Jesus klaarblyklik aan hom verskyn en hom beveel om die kruis as simbool van sy magtige Romeinse Ryk te gebruik.
Hierin setel myns insiens die primêre probleem rondom die kruis as simbool. Jesus wou nooit Homself verbind tot die politieke strewe van sy volgelinge nie (Luk 24:21; Hand 1:6). Sy visie was nooit die oprigting van Israel as ‘n politieke staat of iets in dier voeg nie. Die koninkryk wat Hy kom vestig het, was vir “alle nasies en stamme en volke en tale” (Open 7:9; Mat 28:19). Hy stel dit onomwonde duidelik in Joh 18:36 – “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het …” Om deur die kruis ‘n politieke moontheid soos die Romeinse Ryk te bemagtig om die wêreld polities te verower, is nie Bybels-kongruent nie. Verskeie oorloë en kruisvaarte is derhalwe onder die vaandel van die kruis gevoer, wat ‘n direkte teenspraak is van die beginsel wat in Sag 4:6 as standaard gehef word: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” (Let op dat dit Yehovah Sebaot is, die God van die oorlogsmagte, wat dit sê.)
‘n Ander probleemaspek rondom die kruis soos ons dit in ons Christelike ikonografie ken, is dat dit bes moontlik nie ‘n vierpunte kruis (+) was waaraan Yashua gehang is nie, maar bloot ‘n boomstam of skandpaal. Die woorde wat in Grieks hiervoor gebruik word, dui nie spesifiek die vorm van die galg (letterlik) aan nie. Daar word allerweë in die na-Bybelse literatuur verwys na die “crux simplex” (I), en nie die ander vorme (X, T en +) nie. Wikipedia konstateer die volgende: “The meaning of the word varied over the centuries. The writers who hold that Jesus died on a simple upright stake appeal to a statement in the article ‘Cross’ in McClintock & Strong’s Cyclopedia that, even when the cross with a traverse beam had become the usual form, the meaning of the crux simplex type of cross, i.e. the single torture stake, was still in use at the third century A.D.”
In die Encyclopedia Brittanica word gesê: “A symbol or emblem merely at first, it soon began to have the notion of spiritual and supernatural efficacy attached to it. In the 6th century the crucifix image was introduced, and worship (latria) to it was sanctioned by the Church of Rome.” Voortvloeiend hieruit is die kruis toenemend gebruik as besweerder of talisman, asof dit ‘n magiese waarde in sigself gehad het. In die volgende manna kyk ons verder hierna.
- Sela: Is die vorm van die kruis enigsins belangrik? Hoekom of hoekom nie?
- Lees: 1 Sam 25-27
- Ondersoek die vervulling: 1 Sam 25:6 (Wenk: Mat 10:12-13).
- Delf dieper: Lees The Non-Christian Cross deur John Denham Parsons.