“sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie”
(2 Kor 2:10b-11, OAV)
Daar is een aktiwiteit wat Christene universeel in ‘n mindere of meerdere mate by betrokke is en aktief aan meedoen, ‘n aktiwiteit wat baie tyd in beslag neem en mense se lewens later heeltemal kan oorheers. Vir party berokken dit op die duur geweldig skade, sonder dat hulle dit besef. Daar word boeke daaroor geskryf, preke daaroor gelewer, Bybelstudies daaroor gedoen, werkwinkels daaroor aangebied, konferensies daaraan gewy; dis die kern van menigvuldige beradings en die voltydse fokuspunt van verskeie bedieninge. Ons noem dit vry algemeen geestelike oorlogvoering.
In die hoogbloei van die Pinksterbeweging is die duiwel as vyand nommer een geïdentifiseer, en is die duiwel links en regs gebind. Jy ken die mantra: Satan, ek bind jou in die Naam van Jesus. Ons verklaar jy het geen mag … en wat daarop volg. Maar soos ‘n wafferse Houdini het die duiwel en sy gesante, onverklaarbaar wonderbaarlik, telkens hul losgewikkel van die miljoene Christene wêreldwyd wat hul naarstiglik probeer bind.
Al het ek in die tradisie ewe goedgelowig meegedoen, het ek altyd gewonder oor hoe Satan hom nou telkens so gou loskry van al ons gebindery. Al het dit nie vorige kere gewerk nie, het ons nietemin onmiddellik, as ons suspisieus is dat hy dalk ‘n vinger in ons pasteitjie het, deeglik met hom afgereken. Of ten minste so gedog.
Op dieselfde trant word daar maande, jare, in party gevalle dekades, vir omgewings gebid en gebedswandelinge onderneem om die Bose uit areas te verdryf (met Josua 1:3 biddend op ons lippe: “Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle.”) Ons hou deurnaggebedswake en voortdurende profetiese aksies, bou altare en roep die oorwinning oor die demoniese magte en strongholds van die omgewing. Ons reken af met die sterkmanne (Mat 12:29); ons speel klaar met elke territoriale gees.
Tog verander daar min, weinig, indien enigsins, in ons omgewings wat ons so getrou met gebed soak. Daar is steeds loan sharks, prostitusie, diefstal, owerspel, kindermishandeling.
Dis ‘n piekniek by Dingaan, om Koos Kombuis se term te leen. Sela.
Die mitologie rondom die Bose kry onverdiende mileage in die skeppende verbeelding van waansinnig-ywerige gelowiges. Hulle salf hulle huise – voorhek, voordeur, agterdeur, nok en dak, vensters blink van die liters, liters olyfolie (gepas gepars in Israel). En hulle salf hul karre en plak ‘n plakker: Beskerm deur Ps 91 daarop. En tog klim die diewe al gly-glyende deur die gesalfde venster en ry weg met ons motor, plakker en al. Boetie hyg steeds pornografie na op sy blinkgesalfde rekenaarskerm. Ek lees in die koerant Greta Wiid het selfs haar ontroue man se onderbroeke gesalf. Sak Sarel!
In Beeld vanoggend skryf ‘n Christen dat “Satan ‘n ooreenkoms met die Chinese het om die Superhero-klere in China te vervaardig en na Suid-Afrika uit te voer, en as ons kinders dit aantrek, eis Satan hul siel op.” Iemand wat manna ontvang skryf vir my hoekom gebruik ek vraagtekens, want dit lyk na ‘n omgekeerde heksepoot? Is ek dalk van die ander koninkryk???
Ons is bedrieg. Ons is duidelik met Satan se planne totaal onbekend.
- Sela: Kry Bybelse begronding vir bogenoemde aksies. (Waarskuwing: U mag egter lank soek.)
- Lees: 2 Sam 1-3
- Ondersoek die vervulling: 2 Sam 3:10 (Wenk: Amos 9:11; Hand 15:15-17).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die antichris bewoon reeds die tempel