Dag 489

 

 

“want uit die wortel van die slang sal ‘n basilisk voortkom, en sy vrug sal ‘n vlieënde draak wees”       

 (Jes 14:29, OAV)

 

Drie ander name vir die duiwel wat in die Bybel gebruik word, maar nie opvallend ooreenstem met die name in die vorige mannalys nie, is Basalisk, Slang en Leviatan.

‘n Basilisk, sê Webster’s Dictionary is: “A fabulous serpent, called a cockatrice, and said to be produced from a cock’s egg brooded by a serpent. The ancients alledged that its hissing would drive away all other serpents, and that its … look was fatal.” ‘n Basilisk is dus, soos die draak, ‘n fabelagtige of mitiese, verbeelde dier. Dis belangrik om daarop te let dat hy ‘n sis-geluid maak soos ‘n slang. In die oorspronklike taal is die woord basalisk afgelei van die woord koning. “According to Pliny, it was named from a crown-like spot on its head,” verklaar die International Standard Bible Encyclopedia.

Die woordjie serpent, soos ons hom teëkom in byvoorbeeld die tuin van Eden (Gen 3) beteken “a snake (from its hiss): – serpent”. Dit is afgelei van die basiswoord wat beteken: “to hiss, that is, whisper a (magic) spell; generally to prognosticate: –  divine, enchanter, (use) enchantment”. Die wesensaard van die slang lê derhalwe is die klank wat hy maak. Prognosticate beteken: “foreshow, foretell”, met duidelike ondertone van vervloeking, waarsêery en toekomsvoorspelling. Die sis-geluid is ‘n manifestasie van suggestie en verbeelding.

Die ander naam vir die duiwel is Leviatan. Die woord is afgelei van ‘n basisvorm wat onder andere beteken “to join, be joined, to join oneself to, be joined unto”. Deur sy aktiwiteite enjoin Leviatan jou. NP van Wyk Louw laat die Bose praat in sy gedig: Ballade van die Bose en dan sê hy onder meer aan die mens: “Ek is in jou/ gevleg, gerank/ soos ‘n wortel in/ in in die donker bank / … /en waar hulle vlug / daar dra hul my mee / in die grys-wit groewe / van die senuwee.”

Voeg ons hierdie drie name van die duiwel byeen, vorm dit ‘n interessante geskakeerde beeld. Satan voer sy koningskap of heerskappy deur ‘n verbeelde gestalte wat hy deur taal, verbeelding en suggestie skep. Deur jou manier van dink enjoin hy hom met jou en gebruik hy dit om jou identiteit te vervloek, aan te kla (oor die verlede) en bevrees te maak (oor die toekoms). Die wêreld wat Satan in ons manier van dink skep, is ‘n vals konstruk.

Nadat Satan die mens en sy vrou verlei het met die woordskat van ‘n verbeelde wêreld: Is dit so? (Gen 3:1), Toe sê die slang vir die vrou … (Gen 3:4), en haar iets belowe het wat nie bestaan het nie en sy dit begeer het, word hierdie beletsel van imagining miskien die grootste vangstrik vir almal wat ‘n verhouding met die lewende God wil hê. Dit word ook die grootste impetus agter die gestaltegewing van die Bose op aarde. Ons lees in Gen 6:5 – “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was …” In Gen 8:21 maak Yahwe hierdie kensketsing van die mens: “the imagination and thought of man’s heart are prone to evil”. Dis ons gevalle toestand.

 

  • Sela: Vra Yahwe om jou verbeelding met vuur te toets.
  • Lees: 2 Sam 7-9
  • Ondersoek die vervulling: 2 Sam 7:11, baie belangrik vir die lering (Wenk: Heb 3:11 & 18)
  • Delf dieper:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: Vals konstrukte.