“Steep your life in God-reality.
(Mat 6:33, The Message)
Die kultusfilm The Matrix se slogan het in die omgang ‘n algemene, eietydse sêding geword: “Welcome to the real world.” Los van die virtuele wêreld gesien, is dit deur die eeue ‘n raak beskrywing van een van die grootste krisisse rondom geloofsbelewenis. Geloof werk per definisie met ‘n ongesiene realiteit, dit is immers “‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb 11:1). Os Guinness maak hierdie stelling: “Many modern Christian believers are atheists unawares. Professing to be believers in supernatural realities, they are virtual atheists; whatever they say they believe, they show in practice that they function without practical recourse to the supernatural.”
In sy klassieke teks The Spirit of the Disciplines sê Dallas Willard dit eweneens raak: “Spirituality is a matter of another reality.” In Karel Schoeman se terme, is dit ‘n ander land. Hierdie ongesiene geestelike realiteit is nie onwerklik nie, het ons in die vorige mannas gesien. Dit is ‘n wêreld met ‘n eie dinamika, ‘n eiesoortige energie, en ‘n totaal eie mode of operation. Alhoewel Jesus uitspel dat ons in die wêreld is, maar nie van die wêreld nie (Joh 17:14-16), bly dit by die meeste gelowiges ‘n teoretiese kenne en nie ‘n elkedagse uitleef nie.
Hierdie realiteit kan net gesien word as jy wedergebore is – dit het Jesus lankal terug al vir Nikodemus verduidelik: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh 3:3). En selfs al sien hulle dit, leef baie min daarbinne, om weer vir Guinness aan te haal: “It is quite common for people to trumpet that they have been ‘born again’ yet exhibit no signs of living in the supernatural dimensions of the reality they have been born into.”
The Matrix verduidelik hierdie moeilik-begrypbare saak in wonderlike grafiese transponering. Die hoofkarakter, Thomas Anderson (prototipies die ongelowige mens), word gekonfronteer met Morpheus (hy stel God voor). Hy toon Thomas aan dat hy in ‘n verbeelde realiteit, die matriks, woon, en dat hy weergebore moet word om die werklike werklikheid te kan sien. Hy bied Thomas ‘n keuse tussen die blou pil en die rooi pil. Die rooi pil dui uiteraard op die bloed van Jesus; as hy die blou pil kies “you will wake up and believe whatever you want to believe”. Anderson kies die rooi pil en dan volg ‘n serie van “tracing”-operasies om die Groot Agent van die Verbeelde Matriks, ofte wel Satan te trace en te vernietig in Thomas Anderson. Hy word allereers deur die karakter Trinity (wat hier die derde manifestasie van die Drie-eenheid, die Heilige Gees verteenwoordig) gevat na Adam’s Bridge. Hier, by die oorsprong van die mens se val tot ‘n verbeelde wêreld en baarmoeder (matriks is die Griekse woord vir baarmoeder), word hy bevry van die demoniese genetika in sy vlees deur die poort van sy naeltjie! Hy kry ‘n nuwe Goddelike natuur (2 Pet 1:4).
Hy kry ook ‘n nuwe naam (Open 2:17): Neo, wat dui op die nuutgebore mens (2 Kor 5:17) in die werklike realiteit – dit wat hy tot op daardie stadium glad nie kon raaksien nie. Wanneer sy geestelike oë oopgaan deur wedergeboorte, sê Morpheus aan hom: Welcome to the real world! Dis waar wat Leanne Payne sê: “seeing with the eyes of the heart” is bepaald “the true imagination”.
- Sela: Het jou geestelike oë met jou wedergeboorte oopgegaan? Is jy wedergebore?
- Lees: 2 Sam 13-15
- Ondersoek die vervulling: 2 Sam 15. (Wenk: Mal 4:4; Luk 1:17).
- Delf dieper: Kyk na die film The Matrix I ten opsigte van hierdie tema.