“groei op … tot ‘n volwasse man, tot die mate van
die volle grootte van Christus” (Efes 4:15 & 13, OAV)
In ‘n vorige manna het ons met die Skrif uit Jes 52:1-2 (ASV) geëindig: “Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!” Een van my geestelike seuns, Geyser van Zyl, wys my daarop dat die woordjie “skud” in hierdie teks die wortelbetekenis het van “the rustling of mane, which usually accompanies the lion’s roar” (Strong’s)! Onthou wat ons in ‘n vorige manna uitgespel het – Satan IS nie die leeu nie; hy brul hoogstens soos ‘n leeu (1 Pet 5:8). Met sy brulpratery soek hy wie hy kan verslind. Let wel: KAN verslind. Letterlik staan daar: deur die stof van vleeslikheid word jy gevangene geneem deur die kamstige gebrul van die Bose. Jou losskud daarvan is eintlik ‘n terugbetaling in eie munt van die Satan. (By wyse van ‘n analogie: in die Simba-chipsadvertensies “brullll” die leeu; later “brulllll” die aartappelskyfie terug J Dis tyd dat jy terugbrul.)
Dis dan baie interessant om te let daarop dat die woord wat hier in Hebreeus gebruik word vir “skud” (nâ’ar, H#5287) is totaal ander woord is as die woord wat gebruik word as God dinge skud. Dán word die woordjie (râ’ash, H#7493) gebruik! Satan wil ons laat glo dat hy ons wêrelde kan skud, maar hy kan net brul – en sy brul is dié van ‘n tandelose leeu. As God brul, word die aarde geruk en niks is meer soos dit was nie. Met Satan se brul word bloot vrees en ‘n verbeelde wêreld tot stand gebring.
‘n Mooi voorbeeld van die gebruik van satan se “brul” is in die verhaal van Simson, wat na die soveelste keer wat hy ongehoorsaam was aan God en uiteindelik die geheim van sy bonatuurlike krag aan Delila verklap het, kaalkop moes besef hy kan nie die bande waarmee hy gebind is soos vroeër breek nie. Hier word spesifiek die woordjie nâ’ar gebruik, “Want hy het nie geweet dat die HERE van hom gewyk het nie.” Simson se ongehoorsaamheid, vleeslikheid en die verbreking van sy verbond met God het hom sy heerlikheid en krag laat verloor – hy het gemaklik die prooi van die Satan geword. In plaas daarvan dat hy deur die krag van Jahwe die stof van hom afgeskud het, word hy nou geskud in die stof en maak hy jou leeg.
Omdat hy uit posisie is, het Satan reg om hom, by wyse van spreke, uit te haal.
Voorts interessant is dat die woordjie nâ’ar ook gebruik word in die betekeniskonteks van jongeling, onmondige of onvolwassene (H#5288). En dit maak veel sin: “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.” (1 Kor 13:11). ‘n Kind in die geloof, in die eerste of tweede dimensie, word deur elke wind van lering geslinger en heen en weer gedryf – Paulus maak ‘n appél tot ons om “op te groei” tot “die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes 4:13-15).
Die geestelik onvolwassene, al het hy die outoriteit en die erfdeel, het geen reg daartoe totdat hy volwasse geword het nie (Gal 4:1-3). Al is hy gered, wedergebore, maar hy wandel in die vlees en nie deur die Gees nie, is hy steeds op Satan se spyskaart.
- Sela: Bid dat jy nou kan klaarspeel met die dinge van ‘n kind.
- Lees: 2 Sam 19-21
- Ondersoek die vervulling: 2 Sam 21:19-20. (Wenk: 6 is die getal van vlees.)
- Delf dieper: Lees pp. 16-20 in Kelly Varner se boek: Prevail: A Handbook for Overcomers.