“It is finished.”
(John 19:30, KJV)
Wat presies het by die kruis gebeur?
In uiterste pyn en ontbering het Jesus aan die kruis net sewe kruiswoorde kon uiter, maar elkeen van hierdie woorde verhul die volledigheid en oneindigheid van sy Goddelike missie.
Ons sal later in besonderhede by die ander ses uitkom, maar ons gaan vir waar ons nou is bloot aandag gee aan die laaste kruiswoord – dit gee vir ons ‘n baie goeie samevatting van wat alles by die kruis gebeur het: “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.” (Joh 19:30).
Wat het alles by die kruis gebeur? Alles is volbring.
In verskillende vertalings word hierdie frase: “Dit is volbring.”, wat volgens Matthew Henry in Grieks net een woord is: “Tetelestai”, só vertaal: “All is done.” (BBE), “Everything is done!” (CEV), “It is consummated.” (DRB) en “Lo; Done.” (Murdock). In The Complete Word Study Dictionary word die woord verder verduidelik as betekenende: “to fully accomplish something or bring it to its completed state”. Dis die woord wat in daardie dae gebruik is om fakture mee te stempel as die volle bedrag vereffen is. In Engels sou ons sê: “Paid in full.”
Jesus haal aan uit Ps 22:31 as Hy die woord gebruik. (Trouens, drie van die sewe kruiswoorde wat Jesus sê, kom uit hierdie Psalm, wat die Ou-Testamentiese profetiese heenwysing na die kruisiging is.) Die Hebreeuse woord wat Hy gebruik, is “asah”. Volgens William Wilson se Old Testament Word Studies kan die woord onder andere ook beteken: “to create”. (Die woord word byvoorbeeld ook gebruik in Gen 1:7, 16, 25 & 31 waar God verskeie dinge geskep het.) Hierdie doodskreet, net na Hy gesê het: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!”, word terselfdertyd ook ‘n proklamasie van ‘n nuwe skepping wat tot stand kom, ‘n nuwe bedeling. Dutch Sheets meen Hy het daarmee gesê: “Come forth, new creation!”
Soos met alle geboortes was dit ‘n aardskuddende gebeurtenis. Onthou jy, in Manna 494 het ons die onderskeid getref tussen twee soorte skuddings. Ons het uit die Hebreeus gewys Satan probeer die aarde skud, maar dis maar ‘n flou namaaksel van die ware skudding, as God die wêreld skud. Satan se skudding bring bloot vrees, die gebrul van ‘n tandelose leeu; God se skudding kondig geboorte en radikale vernuwing aan. As die Leeu van Juda (Open 5:5) brul, verander die toehoorders. Job 48:9-11 verduidelik dit raak: “Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig. Die gebrul van die leeu en die stem van die bruller—ja, die tande van die jong leeus word uitgebreek. Die leeu kom om by gebrek aan prooi, en die kleintjies van die leeuin word verstrooi.”
Jesus se laaste kruiswoord was die gebrul van die Leeu van Juda. “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie?” (Amos 3:8). Satan het gedink hy gee met die kruisiging van die Messias die finale brul oor die aarde en hy sal die wêreld daarmee skud, maar die finale brul van die Leeu van Juda, Yashua, is reeds voorspel in Gen 49:9 (GW): “Judah, you are a lion cub. You have come back from the kill, my son.” Dis ‘n absolute oorwinningsbrul.
G’n wonder nie dat die aarde so woes gereageer het op dié epogmakende gebeurtenis nie. Ons weet uit Mat 27:51-54 dat die voorhangsel in die tempel geskeur het, maar dit word eksplisiet gesê die aarde het ook gebewe en die rotse het geskeur. En die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan! “Come forth, new creation!” (Interessant genoeg het hulle nie verheerlikte liggame gehad nie – dis dieselfde geval as met Lasarus wat uit die dood opgestaan het. Jesus moes eers uit die dood opstaan om die eersteling te word van dié wat ontslaap het – 1 Kor 15:20.)
Dwarsdeur die Ou Verbond het Yahwe profeties belowe Hy gaan ‘n geweldige skudding bring. In Ps 46:6, byvoorbeeld, uit die monde van die kinders van Korag: “Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.” Uit die mond van Jesaja (24:18-19): Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe. Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud.” Die liefde van die Almagtige God in Joh 3:16 moes omgesit word in ‘n offerdaad wat Joël (3:16) volvoer gesien het: “En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe.”
In Heb 12:26-27 word hierdie volvoering in Nuwe-Testamentiese terme uitgespel: “Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog. een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly.” Die Amplified-vertaling noem dit “the final removal and transformation of all [that can be] shaken”. En die Message-parafrase: “The phrase ‘one last shaking’ means a thorough housecleaning, getting rid of all the historical and religious junk so that the unshakable essentials stand clear and uncluttered.”
‘n Groot deel van die “religious junk” waarmee ons moet deel, is die feit dat Satan se gebrul ons steeds ontsenu. By die kruis is hy uitgeklee, in die openbaar tentoongestel en vir ewig verneder, want Yashua het oor hom getriomfeer. Punt. “Come forth, new creation!”Waarom loop ons nie in hierdie oorwinning nie?
In Hos 5:14-15 is hieroor geprofeteer: “Want Ek is … soos ‘n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen, Ek dra weg sonder dat iemand red. Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.” Let op: ná die groot oorwinning aan die kruis en sy finale beklinking daarvan toe Hy uit die dood opgestaan het en die finale beheer van die duiwel oor die mens verbreek het (“sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” – Heb 2:14-15), keer Hy na sy woonplek terug. Tot wanneer, sê Hosea? “Totdat hulle skuld beken en my aangesig soek.”
Die oorwinning is behaal, dit moet net enforce word. Hierin lê een van die grootste misterieë van die nuweverbondslewe van oorwinning.
Toe die Leeu van Juda brul aan die kruis en dit oor die ganse aarde reverberate (Ps 19:2-4), het daar enorm baie dramatiese dinge agter die skerms plaasgevind: daar is getrap en getriomfeer (Gen 3:15; Rom 16:20); daar het bloed gevloei en wonde het geskeur deur velversperrings (Jes 53:5; 1 Pet 2:24); sleutels is omgeruil, want die outoriteit is omgekeer (Mat 28:18); die bestuur is vervang (Jes 22:15-22; Luk 16:1-8). En ja, ons, die gevangenes, is vrygelaat (1 Pet 3:19; 4:6; Jes 61:1), want: “He took captivity captive!” (Eph 4:8). Die GW-vertaling sê dit soos dit is: “He took captive those who had captured us”!
Dit alles is volbring in die laaste woord wat die kruis gespreek het.
- Sela: Triomfeer in sy (en ons) oorwinning aan die kruis!
- Lees: 1 Kon 4-9
- Ondersoek die vervulling: 1 Kon 4:7. Wat sou die twaalf bestuurders van Salomo tipologies beteken? (Wenk: Lees dit in die lig van die lering hierbo, veral dat die “bestuur vervang is”.
- Delf dieper: Lees Dutch Sheets se Intercessory prayer, hfst 4.