Dag 50

 

“Is daar geen balsem in Gílead nie? Of is daar geen geneesheer nie? Want waarom het die genesing van die dogter van my volk nie tot stand gekom nie?” (Jer 8:22, OAV)

Die woordjie balsem, ‘n natuurlike genesende salf, het in Hebreeus die grondbetekenis van “to crack (as by pressure), hence to leak; distillation” (Strongs). Jesus, die Seun van die mens, moes deurboor en verbrysel word (Jes 53:5), “cracked” in al sy woordbetekenisse, deur die immense druk (“pressure”) van die ganse wêreld se sonde (dit wat reeds gedoen is, én dit wat nog gedoen gaan word) wat op sy skouers neergekom het en Hy moes dra (Jes 53:12). Sy bloed, elke druppel daarvan, moes uitgesypel het, en dáárdie bloed het, gedistilleerd, die balsem van Gílead geword.

Jes 53:10 sê hierdie verskriklike maar wonderbaarlike woorde: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien …” Dit het God behaag om sy Seun te verbrysel … God het geweet dat sy Seun se bloed die enigste onbesmette offer van lewe kan word vir die gevalle mensdom, daarom het dit Hom behaag om sy Seun te verbrysel en letterlik uit te pers – want Hy het geweet dat deur hierdie kosbare balsem van Gilead daar ‘n “nakroos”, ‘n nageslag van baie kinders, sou voortspruit.

Die antieke geskiedskrywer Josefus leer dat die balsem van Gílead die eerste keer gebring is uit Afrika na Judea deur die koningin van Skeba, in die tyd van Salomo. Hy beskryf hierdie spesifieke balsem as “the resin drawn from the terebinth”. Resin is ‘n druppelagtige stof “in a fluid state from certain kinds of trees, as pine, by incision” (Webster). In Jes 61:3 word die Bruid genoem” terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE”. Terebinte is ‘n ou woord wat dui op óf eikebome óf dennebome. In hierdie lig word die Bruid van Christus dan ook agente van die balsem van Gílead! Hierdie pragtige Ou-Testamentiese prototipe wys ons dan die geestelike reg wat ons het om deur Jesus gebruik te word om die genadegawe van genesing uit ons te laat vloei. 

Die Here vra jou vandag: Hoekom het die genesing van die dogter van my volk nog nie tot stand gekom nie?

  • Sela: Dis belangrik dat hierdie woord op Dag 50 gegee is, die getal van Pinkster (Lev 23:16; Hand 2:1). Bedink dit.
  • Lees: Gen 50; Ps 50; Mat 20
  • Memoriseer: Ps 50:15
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se lering: Afbeeldinge aan  jou mure en ‘n takkie hissop.