“En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee …”(Efes 1:22, OAV)
In die lig van die twee voorafgaande mannas moet ons verstaan dat by die kruis Yashua alle mag en outoriteit oor die aarde, die wêreld en die mens wetlik teruggekoop het deur sy bloedoffer en dat dit nou regmatig aan Hom behoort. Om hierdie rede kon Hy duidelik proklameer in Mat 28:18 – “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” Die Skrif hierbo in Efesiërs is dus onteenseglik waar van Hom.
As ons dit nou saamlees met die Skrif in Heb 10:13, naamlik dat Hy nou op sy troon van outoriteit sit “en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete”, is dit die regeer-mandaat wat aan die Bruid gegee word. ONS moet die vyand die voetbank van sy voete maak! Dit was van Adam af (Gen 1:28) die bedoeling, soos dit ook in Ps 8:6 gesê word: “U laat hom (=die mens) heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel.” Maar eers in Jesus die Christus het die mens die gedelegeerde outoriteit ontvang om dit te doen.
Ps 110:2 benadruk hierdie opdrag om te heers: “U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.” Die septer is simbool van Goddelike en regerende outoriteit, weet ons reeds uit die Messiaanse profesie in Gen 49:10, waar oor die Leeu van Juda en sy nageslag geprofeteer is: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” As deel van sy argument om die Bruid te oortuig van haar outoriteitsposisie, haal die skrywer van die Hebreërboek (Heb 1:8) aan uit Ps 45:6: “maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer” – die tyd hiervoor het aangebreek. Daarom kondig Ps 110:3 aan: “U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe.”
In wat Leslie Allen in sy gesaghebbende Word Biblical Commentary noem die mees obskure vers in die ganse Bybel, is hierdie vers inderdaad ‘n hutspot van strategie vir die Bruid om die geweldig belangrike mandaat van outoriteit te kan vervul. Allereers: jy moet deel wees van die “heilige volk” wat 1 Pet 2:9 kwalifiseer. Tweedens: you must show yourself willing – daar moet ‘n welgevallige bereidwilligheid (2 Kor 8:12) wees. Derdens: ons moet ‘n denkskuif maak dat ons rééds in “the days of your power” is – it is there for the taking. Die woordjie “power” beteken in Hebreeus ook weermag, soos wat Joël 2:4-11 dit uitvoerig uitspel: “Sy voorkoms is soos dié van perde, … soos ryperde so hardloop hulle … soos die geknetter van ‘n vuurvlam wat die kaf verteer, soos ‘n magtige volk wat vir die geveg opgestel is … Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie. En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid. Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ‘n dief … En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord.” Die volgende manna wys die enorme implikasies van hierdie Goddelike mandaat uit.
- Sela: Het jy al die kospkuif gemaak, en is jy deel van hierdie volk en van hierdie weermag?
- Lees: 1 Kon 19-21
- Ondersoek die vervulling: 1 Kon 19:1-2 (Wenk: Open 2:20-24).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Geestelike outoriteit: Om prinslike status in te neem