“Toe het sy volk gedink aan die dae van die ou tyd, van Moses. Waar is Hy? …” (Jes 63: 11, OAV)
Tans bespreek ons die profetiese projeksies van Ps 110, spesifiek die psalmperikoop wat die meeste aantal kere in die Bybel herhaal word. Ons het in die vorige manna spesifiek gepraat oor die rabbynse interpretasies van die staf en uitgewys dat daar ‘n kollektiewe geestelike besitname gekom het van die staf wat ons geestelike voorvaders fisies hanteer het. (Ons kom veel later by die volle implikasies van die staf van Aäron wat in die ark van die tabernakel was.)
Maar wat presies dan is hierdie “rod of thy strength” en hoe verkry ons dit as Bruid, sodat ons kan heers oor die vyand en só gestalte gee aan Heb 10:13? Ons gaan helaas nie hierby uitkom op dié stadium nie, want dit kan eers volledig aan bod kom as ons in die toekoms die derde dimensie, die Allerheiligste, behandel. (Onthou: ons is nog maar by die koperaltaar in die eerste dimensie ☺.)
Tog is dit van belang om ‘n wesenseienskap van die staf te bespreek wat met die huidige subtema – die Bruid se roeping om die vyand die voetbank van Yashua se voete te maak – saamhang. Ons kan dit die beste illustreer aan die hand van die verhaal oor die roeping van Moses in Eksodus 3-4.
In Heb 11:24-26, waar Moses as geloofsheld in die Bybelse Hall of Fame voorgehou word, word die volgende uitsonderlike ding van hom gesê: “Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.” Ja, lees weer: lank nog voor Jesus se geboorte, het Moses bepaalde keuses gemaak omdat hy eerder met die smaad van Christus geïdentifiseer het as met die rykmanslewe van die Farao. Dis voorbeelde soos dié wat die verhaal van die Émmaüsgangers in Luk 24:27 duidelik maak, waar oor Jesus gesê word: “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” Die ganse Ou Testament, en veral die Psalms (Luk 24:45), getuig van Jesus die Christus.
Om hierdie rede is Moses se lewensloop gegrondves in die openbaring van wie presies Jesus die Christus is – “Deur die geloof het Moses Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien.”
Met sy uitverkore volk in ballingskap het Yahwe ‘n volledige plan van aksie gehad; Hy het die krag gehad (Mat 6:13), maar daar het ‘n man ontbreek (Ps 53:2-3) wat God se plan kon volvoer. God was gereed, maar daar was niemand “who was willing in the days of His power” (Ps 110:3, Darby) nie.
Moses, aan die begin van Eks 3. is in ‘n plek van totale mislukking. Maar dit was glad nie vroeër so nie. Toe het hy in die huishouding van Ramses II, die Egiptiese koning, bekend gestaan as “the royal son” (Easton’s Bible Dictionary). Volgens die sekulêre geskiedskrywer, Josefus (Antiquities, II, ix, 7), het Moses vir veertig jaar lank die luuksheid van ‘n prinslike posisie in ‘n wêrelddinastie beklee – hy was ‘n man van hoë aansien, ‘n nasionale celebrity, iemand wat nie net die beste onderrig en opleiding ontvang het nie, maar ook ingelei was in die Egiptiese okkultiese geheime. Hand 7:22 sê dit só: “Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.” (Die tien plae wat hy later oor die Egiptenare gebring het, korrespondeer byvoorbeeld met tien van die prominentste afgode in Egipte (sien Kelly Varner se Moses, the Master and the Manchild, p. 18).
In ‘n eiesinnige oomblik van blinde woede tuimel sy Egiptiese gemakslewe egter in mekaar. Hy vernietig sy politieke privilegie en moet om sy eie bas te red, uit die land vlug. Vir nog veertig jaar (die getal van toetsing en die geestelike woestynlewe) leef Moses letterlik in die woestyn. Hy was “content” (Ex 2:21, KJV) om ‘n mislukking te wees. Hier was hy, tagtig jaar oud, met ‘n duidelike roeping op sy lewe (hy is immers in sy eie ark gebore – nes die geloofsvoorloper Noag uit die water gered – 1 Pet 3:20 – dit is ook wat sy naam beteken). In Ps 106:23 word hy “His chosen” genoem. Maar êrens langs die pad het roeping en realiteit met mekaar gebots. Al het hy uitsonderlike begaafdheid en aantreklikheid (Hand 7:20) gehad (en boonop was hy die nederigste mens wat nog ooit geleef het – Num 12:1, CEV), was dit nie genoeg om hom in sy roeping te lanseer nie. Dis vreemd hoe God mens dikwels by ‘n point of no return onverwags moet ontmoet om jou in jou roeping te kan lanseer.
Eksodus 3 begin met ‘n beeld van Moses se “quiet life of desperation” (om die digter Emerson se woorde so effens te verdraai); futloos, energieloos, passieloos, letterlik en figuurlik ‘n onbelangrike droë doringbos. Gedagtig aan die sonde-erfenis van die aarde sedert Adam se tyd (Gen 3:18), was Moses se lewenslandskap ‘n droë vervloeking, oortrek met dorings en distels. Maar in hierdie ellendige tussentoestand openbaar die lewende God Hom aan Moses in die onopsigtelike, onbelangrike doringbos! Sonde (om jou merk te mis) laat jou altyd bedroë.
Die eensame doringbos in die woestyn was so niksseggend soos Moses, totdat dit ‘n vaartuig van God se vuur kon word. En ten spyte daarvan dat dit brandhout is, verteer dit nie, maar word dit die draaipunt van regenerasie. Dis absoluut waar wat Marianne Williamson so raak uitgespel het: “It is not our failures that frighten us, but our potential for greatness. We fear authentic greatness far more than we fear our failures and shortcomings. We fear the kingly and queenly parts of ourselves because the other parts are so demanding that even if that royal part of us were to emerge, the other parts os us would seek to destroy it.”
God die “verterende vuur” (Heb 2:29) moes Moses toets (1 Kor 3:13), maar Moses se onverdeelde aandag (Eks 3:3) het meegebring dat hy nie verteer is nie, maar verander (Sag 13:9) is. Hierdie bonatuurlike ontmoeting het hom altyd bygebly – veertig jaar later getuig hy van “die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het” (Deut 33:16)!
Hierdie lang ekskursie bring ons dan by die gebeure wat ons wil vooropstel – in Eks 4 begin Moses weer twyfel oor die hoë roeping in Christus wat hy het. Onthou – Satan se primêre strategie om jou te laat ontspoor, is sy influisteringe om, soos met Eva, God te second-guess. Daarom vra Moses twyfelend: “Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie?” En om aan hom die bron van sy weifelende gedagtes te openbaar, gebeur die volgende dramatiese toneel: “Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf. En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het ‘n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug. Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ‘n staf in sy hand geword— “ Die herderstaf in sy hand was as ‘t ware ‘n teken van sy mislukking en gebrokenheid, ‘n eenvoudige skaapwagter agter die skape van ‘n heidense priester. Maar onthou uit vorige mannas – dis the staff of destiny! Hiermee moet hy die aanvoorwerk van Abraham, Isak en Jakob verder voer (:4). En as dit bly by sý staf, sal dit die kontoerbewegings van die slang oor die aarde, die vleeslike natuur navolg, maar as Moses die Satan aan die stert optel, word dit dan wonderbaarlik “die staf van God” (:20). Sela.
- Sela: Het jy al jou eiesinnige agenda vir jou lewe op die grond voor God gewerp?
- Lees: 2 Kon 3-5
- Ondersoek die vervulling: 2 Kon 3:11-12 (Wenk: Efes 5:26).
- Delf dieper: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: Wat is in jou hand? Goddelike Regering as die staf in jou Hand