“Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” (Spr 4: 23, OAV)
In die vorige manna het ons uitgewys dat die postmoderne mens met die verloop van baie jare die brandmerk van geestelike uitbranding begin dra het, selfs al is daar baie wat nie eens spesifiek geestelik nie. Dit het gelei tot ‘n geestelik-terminale toestand – die dood van gevoel en passie. Dis egter nie ‘n toestand wat ‘n mens oppervlakkig kan raaksien nie. Ons het tot die slotsom gekom dit setel hoofsaaklik in die hart (nié die bloedpompie in jou ribbekas nie). John E. Hunter se uitspraak is ‘n dwingende waarheid: “The biggest area of need is in the hearts of Christians.”
Hierdie hart kan op baie wyses verduidelik word, maar vir nou eers kan ons dit voorhou as die wesensaard van jou innerlike mens wat sin en betekenis aan jou lewe gee; dit is jou private binnetuin (soos Gordon MacDonald dit noem) waaruit jy met die waters van passie en dryfkrag alles rondom jou in die harde buitewêreld aan die lewe hou. Inderdaad, soos St Irenaeus verduidelik het: “The glory of God is man fully alive.” Maar as die mens se wêreld ontluister is, dit wil sê van heerlikheid en innerlike dryfkrag ontneem is, man will never be fully alive.
Die Bybel het veel te sê oor hierdie ongesiene interne beheertoring van jou totale uiterlike bestaan. In Spr 23:4, byvoorbeeld, word hierdie sterk kensketsing daarvan gegee: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” Die New Living Translation sê ook: “for it determines the course of your life”. Ja, uiteraard moet hierdie aspek meer aandag kry as enigiets anders – as dit die fonteinoorsprong is van my bestaansin en letterlik bepaal hoe my pad gaan loop, is dit van kritiese belang dat my hart bewaak moet word.
Die Theological Wordbook of the Old Testament (van nou af in die manna kortweg genoem TWOT) verduidelik die basiese idee ten grondslag van die woordjie “bewaak” as “to exercise great care over”. Die Hebreeuse woord shāmar het ‘n nou wortelverband met die ooglid – wat as die “bewaker van die oog” dit mooi metafories verduidelik. Dis bied nie net ‘n afsluiting en beskerming nie, maar ‘n intieme refleksie, heelmaking, restorasie, tending carefully the innermost. Die woordjie word ook byvoorbeeld gebruik in Gen 2:15 oor Adam en Eva wat die tuin van Eden moes shāmar. ‘n Pragtige Engelse ekwivalent sou kon wees preserve.
Joh 10:10 val so bekend op die oor, ons hoor nie meer wat dit sê nie: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” Hierdie vers word dikwels aangehaal om die Satan te beskryf, maar dis geensins die geval nie. Verskeie gesaghebbende Bybelkommentators: Barnes, Clark, Gill, en andere is dit eens dat die dief geensins die Bose is nie, maar geestelike leraars en herders! In die konteks van Joh 10 verduidelik Yashua dat Hy die ware herder is wat sy skape shāmar. In vers 8 maak Hy duidelik wie hulle is na wie hy in vers 10 verwys: “Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers …” Dus word die oorvloed in lewe (en by implikasie dan die hart as die oorsprong van lewe) deur verkeerde geestelike lering verswelg. Open 12:15 sê dís water van vals lering wat die Draak agter die Kerk en die Corporate Manchild, die Bruid, spoeg. Ons gaan ten gronde vanweë ‘n gebrek aan kennis (Hos 4:6); as gevolg dáárvan word die hart teneergedruk, verdrietig en siek.
- Sela: Vra Yahweh om aan jou te openbaar watter vleeslike lering in jou ingebou is. Bid 1 Kor 3:12-13.
- Lees: 2 Kon 15-17
- Ondersoek die vervulling: 2 Kon 17:6 (Ondersoek die tipologiese betekenis van al die plekname.)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Lering as “measuring the pattern”.