“En maak die siekes gesond …en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.” (Luk 10:9, OAV)
Ons behoort teen hierdie stadium dit duidelik uit die voorafgaande leringe besef dat genesing, in sy breedste betekenis, God se hart vir die mens is. Daarom dat Jesus in Luk 4:18-19 sy openbare bediening begin het met hierdie woorde uit die boekrol van Jesaja: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.”
Tog is daar dikwels gevalle waar daar ‘n spesifieke persoon genees is, maar nie die res nie. By die bad van Bétesda was daar ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, maar Jesus het net een man genees (Joh 5:3-11). En alhoewel Paulus dikwels vir mense gebid het en hulle genees het, skryf hy oor Epafrodítus (Fil 2:25-27) and Trófimus (2 Tim 4:20), van sy medebedienaars wat saam met hom beweeg het, wat nié genees het nie en wat hy siek moes agterlaat. Bid wanneer jy ook al so gelei word, maar onthou: genesing is God se prerogatief.
Party siektes is gevolg van persoonlike toedoen (swak dieet, rook, nie oefening doen nie), en ek ervaar dat God dikwels siektes en skete van hierdie aard nie genees nie. Soms is ‘n siekte tot die dood toe (Joh 11:4), en moet jy daarin berus. Dikwels is siekte die gevolg van ongeregtighede (wat in familielyne loop) of persoonlike sonde, en moet dit eers hanteer word alvorens daar genesing uitspruit. (Later meer hieroor.)
Die genadegawe van genesing word net gebruik as die Heilige Gees dit uitdeel. Die praktyk wat gevolg moet word as iemand siek is, word uitgespel in Jak 5:14-15: ”Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig”
Maar wees deurentyd bewus dat God sy hand van genesing deur jou wil uitsteek na mense in nood en dat die koninkryk van God só sal kom as hulle genees word.
- Sela: Wat staan in jou pad dat jy God nie toelaat om jou te gebruik in dié gawe nie?
- Lees: Eks 1; Ps 51; Mat 21
- Memoriseer: Mat 21:13
- Vir dieper delf: Luister na Dr Anton Janse van Rensburg se cd-lering: Ultimate living: a Christian approach to health