“… daar is niemand wat God soek nie …” (Rom 3:11b, OAV)
Al die jare wat ek vir my kinders die bekende Grimm-sprokie Sneeuwitjie gelees het, het ek altyd gehuiwer as ek by die deel kom waar die nare stiefmoeder van Sneeuwitjie die jagter opdrag gee om die kind op wie sy so verskriklik jaloers is, woud toe te neem en haar hart uit te slag. Hy moes dié hart terugneem na haar toe en sy sou dit dan ritualisties verorber. Dit was telkens verskriklik om kinders aan sulke ontsettende wreedheid bloot te stel.
In Bruno Bettelheim se briljante studie: The uses of enchantment verduidelik hy die psigologiese ondergrond van sprokies en wys hy netjies uit hoe hierdie tipe brutaliteit in dié tipe verhale kinders voorberei en onderbewustelik gereedmaak om emosionele trauma in hulle grootwordproses te kan verwerk.
Dikwels word kinders, maar ook volwassenes, se harte uitgeruk terwyl hulle nog lewe – en dis dikwels veel erger. But this is the story of our lives. Dit is die belangrikste modus operandi van die Koninkryk van Duisternis en sy rampokkers – as hulle daarin kan slaag om die oorsprong van jou lewe, jou hart, te kan uitruk, het hulle as ‘t ware hul doel bereik. Eldredge formuleer die omvang van die aanval in geen onseker terme nie – kyk of jy besef hoe die vyand jou op verskeie fronte benader om jou hart te roof: “Make them so busy, they ignore the heart. Wound them so deeply, they don’t want a heart. Twist their theology, so they despise their heart. Take away their courage. Destroy their creativity. Make intimacy with God impossible for them.” En dan sê hy hierdie ontsettende waarheid: “Without your heart you cannot have God.”
Die mens is sedert die sondeval in hierdie geweldige catch 22 gevang – die sonde het die mens verander van ‘n primêr geestelike wese na ‘n uit-en-uit vleeslike wese, wie se geesdimensie gesterf het (Gen 2:17). Die manier van dink met die gewoon Adamiese mind-set, sê Rom 8:7, staan lynreg teenoor dit wat God bedink en wil hê, “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is”. Alhoewel ons die diep onuitgesproke begeerte het (Ps 84:2) na Hom uit wie ons voortgekom het (Kol 1:16), is daar geen manier waarop ons tot Hom kan nader nie.
Dáárom kom die eerste inisiatief in ons redding van God af – want so lief het Hy die wêreld gehad, dat Hy … (Joh 3:16). Na sy kruisdood is dit Hy wat aan elke mens verskyn om sy versoeningsdaad met God aan te bied as offer (Tit 2:11) – aan elkeen het die reddende genade van God verskyn. Ons weet Hy “het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk 19:10). Hy loop aan agter elke verlore skaap wie se hart geroof is en derhalwe nie weet nie waarom hy so rebels en eiesinnig wil wegdwaal, tot Hy hom vind. “En as Hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers.” (Luk 15:5).
Maar Satan het veral hierdie hart van die Herder se opregte poging kom perverteer met ‘n meesterlike strategie wat die hart van die meeste mense amper onwetend geweldig diep verwond het – godsdiens.
- Sela: Aanbid Yahwe, die Goeie Herder, vir sy oneindige genade oor jou.
- Lees: 2 Kon 21-23
- Ondersoek die vervulling: 2 Kon 22:14
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Weg van ‘n Skip in die Hart vd See