Dag 512

“… Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot …”

(Rom 933, OAV)

 

In die vorige manna het ons uitgewys dat God die eerste inisiatief neem om die verhouding tussen ons en Hom te herstel. Na die sondeval het Hy sy Seun gestuur “om te soek en te red wat verlore was” (Luk 19:10). Ons het die lering afgesluit deur te sê dat Satan egter ‘n teenstrategie aangebied het wat hierdie verlossingsplan ernstige skade kan aandoen. En dat godsdiens die grootste wapen is wat hy gebruik om God se versoeningsdaad met die mens te perverteer en te dwarsboom. Ja, godsdiens.

Die bekende popsanger Bono het hierdie raak stelling gemaak: “Religion is what is left after God has left the building.” Die meeste mense se verhouding met God verloor met die loop van tyd intimiteit en verval in rituele en godsdienstige gewoontes, dogmas en onbuigbare oortuigings. Dit is godsdiens. (As die oorsprong van hierdie geloof in ‘n Opperwese boonop nie die ware God, Yahwe, is nie, maar een of ander god wat mense uitgedink het, of ‘n mens wat homself as ‘n god voorhou, is dit eweneens ‘n godsdiens wat nie verskil nie van Christene wat Yahwe bloot dien  met die lippe, maar hulle hart is ver van Hom af  – Mat 15:8.)

Ons gaan nie nou op die ekskursie om te probeer bewys Yahwe is die enigste God, en dat Yashua sy Seun is nie – dit kan dalk later ‘n interessante reeks in die Manna word. Ons is tans besig met die Voorhof, en spesifiek met die Brandofferaltaar. As deel van die tipologiese betekenisreikwydte ondersoek ons tans die misterie van godsaligheid (1 Tim 3:16) en het ons uitgekom by die bloed van Jesus en die implikasies daarvan, waar onder ons toe begin gesprek voer het oor die feit dat die bloed alle skeiding (tussen Jood/Griek, man/vrou, byvoorbeeld) tot niet maak. In daardie subreeks is ons besig met die feit dat daar nie meer slaaf/vryman (as deel van Gal 3:28 se digotomieë) is nie. Ons het in verskeie Mannas die mens se geneigdheid tot slawerny ondersoek, en gewys dat die die meesterlike strategie is van Satan om die meeste gelowiges te verkneg. Sodoende word hul hart, passie, lewe en skeppingsdoel geroof.

Dit is dus hier gepas om vir ‘n wyle stil te staan en te besin oor hierdie grootste taktiek wat slawerny tot gevolg het: godsdiens.

Miskien een van die beste voorbeelde van hoe ‘n lewendmakende geloof versand het tot ‘n dogmatiese doodloopstraat, is om te kyk na die Gereformeerde geloofsleer. Ons  Gerefor-meerde Mannalesers moet asseblief nie op hierdie punt aanstoot neem nie – hierdie is nie bedoel as ‘n kritiek op die gelowiges in die Gereformeerde kerke nie, maar ‘n teoretiese uitwys van ‘n geloofsisteem wat as gevolg van bepaalde dogma ‘n deur oopgemaak het vir die gees van godsdienstigheid. Ek wil sover gaan om in die lig van Rom 9:32-33 te sê dat as jou nekhare begin kriewel, is jy bes moontlik reeds gevang deur ‘n godsdienstige gees. John Bevere noem aanstoot neem “the bait of Satan”. Ons moet waak om nie te struikel oor die “Stone-of-stumbling” (LITV), die “Rock-of-offense” (ESV) nie – sy Naam Is Yashua. Jy kan oor Hom val.

 

  • Sela: Hanteer alle gevalle waar jy geestelik aanstoot geneem het.
  • Lees2 Kon 24-25 en 1 Kron 1
  • Ondersoek die vervulling: 2 Kon 25? (Wenk: Onthou wat is die tempel.)
  • Delf dieper: Lees John Bevere se boek: The Bait of Satan.