“Wee die opstandige kinders, spreek die HERE, wat ‘n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat ‘n verbond sluit,
en dit is nie uit my Gees nie … ”
(Jes 30:1, OAV)
Een van die grootste demonstrasies van profetiese krag in die kerkgeskiedenis was die herstel van ‘n Goddelike waarheid aan die kerk van die Middeleeue. God openbaar aan ‘n onbekende monnik in ‘n klein, obskure dorpie in Duitsland ‘n waarheid wat in die heersende kerk van dié tyd, die Rooms-Katolieke Kerk, onder al hul rituele, onbybelse leringe en menslike tradisies verdwyn het. Hierdie man was Martin Luther.
Luther se vreeslose proklamasie van die waarheid, wat saamgevat kan word in Efes. 2:8 – “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God …” word ‘n magtige golf wat regoor die wêreld spoel: “Not only did he change the world in his own generation, he set in motion changes that have profoundly impacted every generation since. There has never been an emporer, king, or even dynasty that has so influenced this world as this monk.” (Rick Joyner: Epic Battles of the Last Days, p. 189).
Met hierdie proklamasie word ‘n waarheid aan die kerk van die dag herstel wat enorme implikasies gehad het vir die gelowige se vryheid in Christus en sy losmaking van die wettiese kerksisteem. Hieruit het die Hervorming ontspring, die Reformasie, die Protestantisme (om nie eens te praat van die wyer ontwaking, die Renaissance, nie); dit het uiteindelik beslag gekry in ‘n dogma wat vry algemeen Calvinisme genoem word (na Johannes Calvyn, die invloedrykste dogmatikus en teologiese grondlegger van die beweging). Daar word in die algemeen na die groepering kollektief verwys as Gereformeerdes (laasgenoemde is die gevolg van ‘n veel later geskiedenis).
Die teologie van die Calvinisme is omvangryk en word gereguleer deur bepaalde belydenisskrifte, maar kan bondig verduidelik word aan die hand van die akroniem TULIP:
- Total Depravity (ook bekend as “Totale Onvermoë” en “Oersonde”)
- Unconditional Election
- Limited Atonement (ook bekend as “Voorwaardelike Versoening/Atonement”)
- Irresistible Grace
- Perseverance of the Saints (ook bekend as “Eenmaal gered, altyd gered”)
By die eerste aspek, Totale Verlorenheid, het ons in baie onlangse Manna uitgekom (Dag 510 en 511). Daarmee het ons akkoord gegaan. Jer 17:9 spel dit die raakste uit: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” Op grond daarvan is daar niemand wat God soek nie (Rom 3:10-12).
Op die webwerf, The Calvinist Corner, beskryf die teoloog Matthew J Slick die tweede punt van TULIP, Onvoorwaardelike Uitverkiesing, soos volg: “That God, by His sovereign grace predestines people into salvation; that Jesus died only for those predestined; that God regenerates the individual where he is then able and wants to choose God; and that it is impossible for those who are redeemed to lose their salvation … God does not base His election on anything He sees in the individual. He chooses the elect according to the kind intention of His will … without any consideration of merit within the individual. Nor does God look into the future to see who would pick Him. Also, as some are elected into salvation, others are not.”
Ek is van die oortuiging dat hierdie foutiewe Calvinistiese interpretasie van die Skrif die rede is dat miljoene mense verlore gegaan het en steeds verlore gaan – hulle is deur foutiewe dogma in die kerk oortuig hulle is verlos deur Jesus Christus omdat hulle sogenaamd “uitverkies” is. Dié uitverkiesing is dan gebaseer op die verbond wat hul ouers gesluit het met hul doop, hulle onderrigting daarin (= “katkisasie”) en hul uiteindelike belydenisaflegging van geloof (waarin onder andere verklaar word dat hierdie leer is die “volkome leer van die saligheid”). Deur hierdie proses tot sy logiese konsekwensie te voer, moet ‘n mens tot die skokslotsom kom dat die verbond – wat in die Gereformeerde verbondskerke so sentraal staan – totaal misverstaan is.
Die Gereformeerde teologie het ‘n valse gerustheid by gelowiges geskep wat meen dat hul doop en gepaardgaande verbondskindstatus hulle ewige saligheid verseker omdat dit die uiterlike tekens van wedergeboorte is. Dis ‘n totale onbybelse siening en ‘n enorme dwaling. Tog is die Gereformeerde leer eksplisiet daarop gebou! In die Nederlandse Geloofsbelydenis (een van die formuliere van eenheid), in Artikel 34, word daar oor die “heilige doop” die volgende gesê: “soos water die vuiligheid van die liggaam afwas as dit oor ons gegiet word, en soos water op die liggaam van die dopeling gesien word wanneer dit daarop gesprinkel word, so bewerkstellig die bloed van Christus deur die Heilige Gees dieselfde inwendige werking in die siel: dit besprinkel die siel en reinig dit van sy sonde en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word … Ons glo daarom dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om om dit ooit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie.”
Dit is dus duidelik dat die Gereformeerde leer eksplisiet verkondig dat die wedergeboorte tydens die besprinkeling plaasvind! Op die vraag of jong kinders wat nog nie vir Jesus kan kies nie ook gedoop moet word [Sondag 27, Vraag 74], antwoord die Heidelbergse Kategismus soos volg: “Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is.” Die Dordtse Leerreëls lig dit verder soos volg toe: “die kinders van gelowiges (is) heilig. Hulle is nie van nature heilig nie maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is.”
In die liturgiese formulier vir die bediening van die doop aan kinders word die assosiasie tussen uitverkiesing, verbondsluiting en doop die duidelikste uitgespel: “Want as ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en verseël die Vader aan ons dat Hy ‘n ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en erfgename aanneem … die doop is immers ‘n seël en ontwyfelbare getuienis dat ons ‘n ewige verbond met God het.”
Die Gereformeerde teologie stel die doop en die wedergeboorte dus as die twee kante van dieselfde munt, as ons die munt “uitverkiesing” kan noem. Die Dordtse Leerreëls (punt 6) stel dit soos volg: “Dat God aan sommige mense … die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit … Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly.”
Unconditional Election, Limited Atonement en Irresistible Grace is helaas nie die waarheid nie. In die volgende manna kyk ons wat die Skrif hieroor sê.
- Sela: Verduidelik die kernaspekte van die Gereformeerde leer aan iemand.
- Lees: 1 Kron 2-7
- Ondersoek die vervulling: Kyk hoe 1 Kron 5:26 tipologies gelees kan word van hierdie lering.
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Uitverkiesing.