Dag 515 – 517

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn …”

(Tit 2:11, OAV)

 

Ons is tans besig om die Protestantisme se leer van onvoorwaardelike uitverkiesing te ondersoek. Uit die Dordtse Leerreëls, een van die belydenisskrifte van die Gereformeerde kerke, word in Punt 15 duidelik uitgespel dat God sekere mense uitverkies het (of hulle wil of nie), en ander nie (selfs al wil hulle): “Dit betuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan het … God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof en die genade van bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hul ongeloof nie maar ook oor al hulle sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping …”

Só staan dit daar, so bely miljoene mense per jaar dit as die volkome leer van die saligheid. Selfs al glo hulle dit nie en verkondig hulle iets anders in die Gereformeerde kerke is dít die sisteem van slawerny wat as bakermat van verlossing voorgehou word. Geen wonder die meeste van ons voorouers het so ‘n afgryslike idee van hierdie ongenaakbare God nie.

Alhoewel daar ooglopend heelwat teenstrydighede is in hierdie dogmatiese posisie, is die logiese gevolgtrekking volgens hierdie leer dat elkeen wat gedoop is, met wie God (daaruit voortspruitend dan) ‘n verbond gesluit het, tot die ewige lewe uitverkies is. Tog weet ons almal dit is nie so nie – ek ken baie mense wat gedoop is, deur belydenisaflegging is en selfs getroue kerkgangers is wat duidelik nie ‘n verhouding met God het nie. Wat van hulle? In sy gesaghebbende boek, Dogmatiek, probeer Prof. Johann Heyns die kerk uit hierdie realiteit uitredeneer: “Elke nadenke oor die uitverkiesing los van of buite die kragveld van die verbond, verval in teoretiese spekulasie, terwyl elke besinning oor die verbond sonder die uitverkiesing, die verbond …degradeer … Wat God in die uitverkiesing oor die besluit het, word in die verbond met die mens konkreet uitgewerk.” (p 223).

Hierdie stelling korreleer geensins met ‘n latere stelling (p. 340) nie: “Die uitverkorenes is wel in die verbond, maar almal in die verbond is nie uitverkorenes nie. In die verbond is daar ook hipokriete en skynheiliges.” Hierdie uitspraak rym voorts baie moeilik met dit wat die belydenisskrifte voorhou: Met die dopeling word volgens hulle immers ‘n ewige verbond gesluit; boonop word hy innerlik wedergebore as gevolg van die uiterlike doophandeling – hoe kan hy dan nié gered word nie? Die vyfde faset van TULIP stel dit onomwonde: Een maal gered, altyd gered. Heyns sê self op p. 340: “So word die doop die merkteken van hulle wat deur God in sy verbond opgeneem is, wat sy eiendom geword het en altyd ook sal bly.”

Heyns stel dit duidelik dat “daar inderdaad geen duidelike en direkte Skrifgebod vir die doop van kinders aangewys kan word nie” (p. 341). Hy gee ook toe: “Dat die kinders om wie dit hier gaan nie tot ‘n bewustelike, persoonlike geloofsbeslissing in staat is nie, spreek vanself. Maar nou is hulle kinders van gelowiges aan wie die weldade van die verbond saam met hulle gegee en verseël is, met ander woorde hulle is uitverkore en wedergebore, hulle is deur die bloed van Christus gereinig van hul sondes, opgeneem as lidmate van sy liggaam, erfgename van die ewige lewe …” (p. 343).

Maar ‘n paar sinne verder sê hy weer: “dit beteken nie dat die kinders deur die doop tot lede van die verbond en van die kerk of tot gelowiges gemaak word nie, maar hulle word deur die doop as sodanig gestempel … Soos kinders groot word, groei as ‘t ware ook die doop met hulle, sodat ook die doop later ‘n groot doop word!” (p. 344).

Dis ‘n absoluut lagwekkende verduideliking van iemand wat ten alle koste ‘n argument probeer verdedig wat van die begin af ge-flaw is. Daar is duidelik in die Calvinisme enorme verwarring rondom die begrippe verbond, doop en uitverkiesing.

Dit word dikwels oorvertel dat Martin Luther gesê het as hy twyfel of hy gered is of nie, hy hardop sê (nadat hy die duiwel met ‘n inkbottel gegooi het): “Ek dank God dat ek gedoop is!” Maar wat sê dit presies? Dat hy weet hy deur die doop wedergebore is? Dat die doop sy redding verseker? Dat hy deur die doop ‘n ewige verbond met God het en derhalwe ‘n verbondkind van God is? Alle moontlikhede hierbo gestel gee aan ‘n ritueel verlossingswaarde, en dit kan nie.

Maar dan het Martin Luther ook gesê: “Daar is nie genoeg getuienis in die Skrif wat dit sal regverdig om te sê dat die eerste Christene die kinderdoop toegepas het nie. Maar dit is duidelik dat niemand mag probeer om met ‘n goeie gewete die kinderdoop te verwerp nie omdat dit so lank in gebruik is.” (Aangehaal in Coetzee se Die Hervormers en hul stiefbroers, p. 64.)

In ‘n hoofbladartikel in die dagblad Beeld maak die bekende Gereformeerde teoloog Prof Bouke Spoelstra onlangs dié stelling: “Kerkgesag het Skrifgesag vervang. Sakrament het kerkgebruik, ‘n vorm (soos ‘n broederlike kus) geword.” In teenstelling met die sentrale Gereformeerde beginsels: ‘n Gereformeerde kerk moet voortdurend reformeer, en: Skrif alleen kan Skrif verklaar, het die Protestantse leer in rigiditeit en onbeweegbaarheid vasgedraai. DIT IS DIE OOP DEUR WAT VIR DIE GEES VAN GODSDIENSTIGHEID OOPGEMAAK WORD. Openbaring is altyd ontvouend, en ‘n geloofsgemeenskap moet in integriteit hul leer voortdurend daarby aanpas. Die rigiditeit van belydenisskrifte en dogmatiese en liturgiese borstrokke het ‘n dooie, formele tradisie meegebring en dit het allerlei slawernyjukke op mense geplaas om godsdienstige aktiwiteite te verrig en deur die religious motions te gaan, sonder om die lewegewende krag wat in Christus is te ervaar.

Vir ‘n kerkgemeenskap is die woorde van Prof Spoelstra hierbo die dood in die pot, want dit impliseer dat die outoriteitsbasis van die gelowige verskuif het. Die Skrif as sodanig is dikwels nie meer die volledig-gopenbaarde norm en wil van God nie; Skrifgesag moet dikwels die knie buig voor óf tradisie óf vasgelegde leerstellings óf demokratiese menings óf eietydse kulturele denkwyses.

En as die gebruik van die sakramente (soos die doop, byvoorbeeld) boonop vervlak tot ‘n blote vormlike godsdiens (al is mense hoe ernstig en piëtisties daaroor), dus dikwels nie veel meer as ‘n (on)gemaklike noodwendigheid nie, het dit waar geword dat die kerkgenootskap bepaald in ‘n krisis is. As jy al hierdie dinge so opnoem, is dit so al asof jy verplaas word in die oorspronklike rede waarom die Hervormers moes wegbreek van die Rooms-Katolieke kerk. Bevind die tradisionele kerk haar vandag nie weer in dieselfde posisie as voor die Hervorming nie? Is dit nie die geval dat die dwingelandy van menslike lering, die “gebooie van mense” (Tit 1:14), die gesag van Christus verplaas het nie? In sy boek Waarheen met die nuwe wyn?  gee eks-dominee Christo Nel oor hierdie saak sy besliste mening: “Soos die meeste kerklike tradisies wêreldwyd, het die Gereformeerde tradisie, met sy oor die 400 jaar se historiese wortels en worstelinge, ‘n kolossale, soms skynbaar onbeweegbare struktuur geword.” (p. 54).

In ‘n omvattende studie, Die onchristelike ‘Christelike ban’, waarin verslag gedoen word van Jan Vlok, ‘n lidmaat van die N.G. Kerk, se stryd om antwoorde te kry van die sinode oor botsende uitsprake in die drie formuliere van eenheid, maak die 1990-aktuaris van die Algemene Sinode, Dr. T.H.N. Sadler, in ‘n amptelike brief aan die skrywer die volgende uitspraak: “Die Nederduits Gereformeerde Kerk is nou maar eenmaal ‘n belydeniskerk en toe u belydenis van geloof afgelê het, het u met ‘n dure belofte voor die Here u verbind aan die belydenis van die kerk om daarby te bly tot aan die einde van u lewe … (S)al u ook besef dat om met gesprekvoering die kerk weg te beweeg van sy belydenisstandpunt soos dit oor die eeue ontwikkel het, ‘n redelik onbegonne taak is.” (p. 273).

Hiermee formuleer die geleerde heer presies die krisis van godsdiens. Selfs goeie openbaring, gesonde geestelike konsepte en egte gemeenskap word binne ‘n vals godsdienstige sisteem boeie aan jou voete. In The Shack sê die karakter Jesus vir Mack: “(R)eligious machinery can chew up people! An awful lot of what is done in my name has nothing to do with me and is often, even unintentional, very contrary to my purposes … I don’t create institutions – never have, never will.”

Waarom gedy sommige kerke dan so ten spyte daarvan dat die gronddogma daarvan direk teen die eksplisiete lering van die Woord is? Ek kan dit nie beter stel as die karakter Sarayu (as verteenwoordigend van die Heilige Gees) dit in The Shack stel nie: “We carefully respect your choices, so we work within your systems even while we seek to free you from them.”

Volgens Bruxey Cavey, in The End of Religion, het die woordjie “religion” ‘n Latynse wortel relegere, wat twee moontlike betekenisse het. Eerstens: om iets oor en oor te lees, en tweedens ‘n samevoeging van die woordjie re (om terug te keer, of om te herhaal) en die woordjie ligare, wat beteken om iets te knoop of vas te bind). ‘n Mens sou dit positief kon saamlees as ‘n terugkeer tot iets belangrik, maar dit kan eweneens beteken: “a return to bondage”. Die kern van ons argument tot hiertoe is dat as mense geleer word dat hul deur uiterlike handelinge (soos die babadoop) tot redding kom, en hul dan deel van ‘n kerksisteem word (deur katkasasie en belydenisaflegging van geloof, byvoorbeeld) en hul stel dit doktrinies gelyk aan wedergeboorte, sal daar baie gelowiges wees wat daardeur gebind word. Deur ‘n foutiewe doktrine van uitverkiesing word hul in slawerny gehou. Hul sal nie weet, soos The Message Joh 3:5 oor die wedergeboorte vertaal, dat daar iets is soos “the invisible moving the visible” nie. Hulle sal nie “van bo” gebore wees nie – die letterlike vertaling in Grieks van die begrip wedergeboorte.

Die Gereformeerde verstaan van die woordjie “uitverkiesing” het NIKS met redding te make nie. Dit is onomstootlik waar wat in Joh 3:16 staan: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Tit 2:11 stel dit onomwonde: “die reddende genade van God het aan alle mense verskyn”. The Message vertaal dit raak: “God’s readiness to give and forgive is now public. Salvation’s available for everyone!” En Joh 1:12 – “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word …”

Die vers wat altyd voorgestoot word in die Gereformeerde siening van die uitverkiesing is Joh 15:16 – “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies …” Maar hierdie woorde word spesifiek aan die dissipels (wat Hy gekies het) gerig. In Joh 6:70 word dít duidelik: “Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!”

Yashua se aanbod in Joh 6:37 is geldig vir alle mense: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” In Hand 2:21 proklameer Petrus: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Hiermee word die Protestante se “onvoorwaardelike uitverkiesing” op sy kop gekeer.

Ja, daar is ‘n uitverkiesing en ons sal in die volgende Manna by die misterie daarvan uitkom, maar dit het niks met redding te make nie. Enige kerksisteem wat uitverkiesing as voorwaarde tot redding voorhou, doen dieselfde as die dissipels wat die kinders van Jesus af wou weghou. En vandag sê Hy steeds: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie …”

 

  • Sela: Besin oor die rol van keuse in die evangelie van redding.
  • Lees: 1 Kron 8-16
  • Ondersoek die vervulling: 1 Kron 16:33 (wenk: Jes 61:3)
  • Delf dieper: Lees Krause Venter & Tom Gouws se boek: Die verbond en die vervalsing.