Dag 518 – 520

“a divinely implanted, sense of a purpose working through the ages”

(Ecc 3:11, AMPL)

 

Ons is tans besig met die subreeks dat daar nie meer slaaf/vryman (as deel van Gal 3:28 se digotomieë) is nie. Ons het die mens se geneigdheid tot slawerny ondersoek, en gewys dat die die meesterlike strategie van Satan is om die meeste gelowiges te verkneg. Sodoende word hul hart, passie, lewe en skeppingsdoel geroof; dit gebeur veral deur godsdienstigheid (in teenstelling met verhouding). As voorbeeld van sodanige godsdienstigheid het ons gekyk na die Gereformeerde leer oor die uitverkiesing, en uitgewys hoe dit aan mense ‘n vals sekerheid kan gee dat hulle gered is.

Die vorige Manna is afgesluit met die stelling dat daar wel ‘n uitverkiesing is, maar dat dit glad nie met redding as sodanig te make het nie. Hierdie is streng gesproke ‘n onderwerp wat tuishoort in die derde tabernakeltipologie-gedeelte: die Allerheiligste (ons is in die Manna tans nog steeds besig met die eerste: die Voorhof). Maar om nie die onderwerp in die lug te laat hang nie, gaan ons in hierdie Mannaporsies die sluier so effens lig oor wat die uitverkiesing volgens die Bybel wél behels. Maar dit sal absoluut net oorsigtelik wees – die Mannalesers sal nog ‘n bietjie moet wag voor ons in besonderhede hierdie geheimenis dieper kan ontgin.

Dit is al ‘n paar keer gesê, maar ter wille van die geheelprentjie is dit belangrik om te onthou dat as ons van die tabernakeltipologie praat, word die verskillende dele van die tabernakel ‘n voorstelling van drie ontvouende geestesdimensies. In die eerste dimensie kry die evangelie van redding beslag; die tweede dimensie laat ons die evangelie van die koninkryk ontdek; en in derde dimensie begin ons die evangelie van heerlikheid verstaan en beleef.

Die Reformasie van Luther en Calvyn (en die beslaggewing daarvan in die Gereformeerde kerkfamilie) het die waarheid van die eerste dimensie aan ons bekendgestel en vasgelê. MAAR dit is langsamerhand geperverteer deur ‘n kerksisteem wat juis daardie redding gekoppel het aan uitverkiesing.

Uitverkiesing is NET in die derde dimensie te vind – dit is die dimensie van die Bruid. Natuurlik is die eerste en die tweede dimensies ook deel van haar geestelike geskiedenis – almal moet tog eers gered word, gedoop word met water en met die Gees van God, en deur die heerlikhede van die tweede dimensie kom alvorens jy in die Allerheiligste kan inbeweeg.

Heb 9:8 maak dit egter duidelik dat “die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie”. Hierdie “eerste tabernakel” word duidelik (volgens die voorafgaande vers oor die hoëpriester) hier bedoel as die Voorhof en die Heilige (die eerste en tweede dimensies). Saam vorm hulle (by wyse van gebrek aan ‘n beter woord): die kerk, teenoor dié wat tot in die derde dimensie vorder – húlle word die Bruid genoem. Hierdie persone in die eersgenoemde twee dimensies is almal gered, maar net dié uit die tweede dimensie is wedergebore (gebore uit gees en water). Diegene wat tot die derde dimensie beweeg, is hulle wat opgestaan het in hul skeppingsdoel en roeping en só gestalte gee aan God se groter agenda (Hand 13:36).

Die maklikste om dit te verduidelik, is aan die hand van die gelykenis van die tien maagde waarvan ons in Mat 25:1 en verder lees. Al tien is gered en wag op die wederkoms van die Bruidegom, maar vyf  is dwaas en vyf is wys. Laasgenoemde omdat hulle olie in hul lampies gehad het. Olie is nié ‘n simbool vir die Heilige Gees soos algemeen net aangeneem word nie  (wind is byvoorbeeld) – dit dui eerder op salwing, of, in terme van Efes 1:18, dit wat “verligte oë van … verstand” tot gevolg het, dus dit waarmee jou roeping raakgesien of ontdek word.

Volgens Mat 22:1-13 is daar by die bruilofsmaal van die Seun dus bruilofsgaste (=kerk, of eerste en tweede dimensie), maar hulle moet onderskei word van die Bruid (derde dimensie). Jesus maak die samevattende opmerking aan die einde van die gelykenis: “Want baie is geroep, maar min uitverkies.”

Die uitverkiesing het slegs met die Bruid te make. In 1 Kor. 2:7 sê Paulus: “Maar ons spreek die wysheid van God wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voor beskik het tot ons heerlikheid.” Let op: dis beskik van ewigheid af tot ons heerlikheid. Dis ‘n totaal ander dimensie waar uitverkiesing ter sprake kom – by die evangelie van heerlikheid, die derde dimensie. Die Gereformeerde beskouing van die uitverkiesing is grootliks gebaseer op ‘n foutiewe verstaan van Efes.2:8 – “Want deur die genade is julle gered, deur die geloof en dit is nie uit julle self nie; dit is ‘n gawe van God.” Hoe interpreteer hulle dit?  Geloof is die gawe (=geskenk) – dus kan niemand geloof hê in God as Hy dit nie vir jou gee nie. Volgens hierdie argument kan niemand as sodanig glo nie – God gee vir jou geloof, dan eers kan jy in Hom glo. Die implikasie is voorts dat God aan die volgende random persoon sou sê: Ek gee vir jou nié geloof nie, dus sal dit nie vir jou moontlik wees om in God te glo nie, en derhalwe is jy nie uitverkies nie. Dit is glad nie wat werklik in Efes 2:8 staan nie!

Ons weet dat God net deur geloof kan werk – uiteraard: “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Heb 11:6). Geloof is die operative key van die geestelike belewenis.

Lees weer Efes 2:8: Wat is die gawe van God? Weliswaar die genade van redding. “Want deur die genade is julle gered, deur die geloof en dit is nie uit julle self nie; dit is ‘n gawe van God.” Wat het jy nodig om gered te word? Jy moet geloof hê, maar geloof is en bly ‘n keuse. Ek kies om te glo. Die goeie voorbeeld hiervan is die vader van die geloof, Abraham, van wie in Rom 4:3 gesê word: “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.”

Openbaring 22:17 sluit die Bybel af met die uitnodiging om te KIES: “En die Gees en die Bruid sê kom, en laat hom wat hoor sê kom, en laat hom wat dors het kom, en laat hom wat wil die water van die lewe neem verniet.” Dis soos wat Jesus met sy dissipels gemaak het – Hy het hulle nie in ‘n hoek gedruk en gesê: Voor die grondlegging van die aarde al het Ek jou uitverkies nie.  Al wat Hy doen is, Hy sê: Volg My. Dit is so eenvoudig – laat hy wat wil, kom – dis die oopheid van God se hart vir alle mense.  Dit geld alle mense. Hulle kon besluit het om hom nié te volg nie, al was hulle in wese ook uitverkore (Joh 15:16)

Verwys net ‘n wyle weer terug na 1 Kor.2:7-8. As jy in vers 7 lees, sê Paulus: hierdie saak van die uitverkiesing is ‘n verborgenheid, dit is bedek en God het dit voor tyd, van ewig af, voorbeskik. Dit alles dui op doelgerigte beplanning, daar is ‘n deliberateness in die uitkies van hulle wat die heerlikheid moet beërwe. Onthou: dit is nié redding nie; redding is vir almal.  Baie is geroep, maar min is uitverkies, sê Jesus, en hierin setel die geheimenis. Efes.1:4  spel dit só uit: “Hy het ons in Hom uitverkies, voor die grondlegging van die wêreld, om heilig en sonder gebrek in liefde voor Hom te wees deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as Sy seuns vir Homself aan te neem.” Die kerk is kinders (Joh 1:12), onmondig, besig met melkkos, dikwels vleeslik. Die Bruid bestaan uit seuns (Rom 8:14). Die olie is vir die verligte oë van die verstand –  dis die openbaring van seunskap. Diégene wat in hul skeppingsdoel en roeping opgestaan het, het olie in hul lampe.

Die Amplified vertaal Efes.1:4 soos volg: “He actually picked us out for Himself as His own.” Daar is ‘n keuse wat Hy uitgeoefen het oor wie hulle is wat die uitverkorenes is. In Kol.3:1 spreek Paulus die uitverkorenes aan as dié wat “saam met Christus opgewek is”. Die uitverkorenes is hulle wat na twee dae (of dan: dimensies) opgestaan het. Dit is die profetiese vooruitskouing van Hos 6:2 – “Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.”

Waardeur is hulle dan opgewek? Volgens Rom 6:4 deur heerlikheid (onthou: = genade en waarheid – Joh 1:14). Nou sê Paulus (in Kol 1:1-3): “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is … Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” En dan maak hy hierdie stelling in vers 4: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” You want the glory of the Lord revealed, you must be in Him.  Jy moet gesterf het, en opgestaan het; dan sal Hy sy lewe deur jou lewe en sal sy heerlikheid in jou manifesteer.

Om die saak uit ‘n ander oogpunt te belig. Die groot krisis wat die Jode met die Christelike aansprake het, is dat hulle meen dat ons iets leer wat die Torah sê nie moontlik is nie,  en dit is dat ons leer daar is ‘n Drie-eenheid, terwyl die Torah eksplisiet uitspel: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” Die ASV sê: “Hear, O Israel: Jehovah our God is one Jehovah.” Hy is net Een, redeneer hulle en julle kom en sê,  nee, daar is ‘n Vader en ‘n Seun en ‘n Heilige Gees – Hy is ‘n Drie-eenheid. Die Jode is adamant dat dit nie moontlik is nie, want die Skrif kan nie gebreek word nie (Joh 19:36). Dis hoekom hulle maklik kan sê Jesus was hoogstens “een van die profete” (Mark 8:28). Dit is ook wat Islam glo.

Die ironie is dat Jesus pertinent in Mark 12:29 gesê het: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here.” Hy het bevestig wat die Jode glo.

Maar as jy enkeld is, you are only the lonely, jy’s enkeld en alleen. Toe God aan die begin vir Homself ‘n naam moes gee, toe gee Hy vir Homself die naam Vader. Van alle moontlike name wat Hy kon kies, kies Hy dié een. Vader veronderstel per definisie dat daar minstens twee in ‘n verhouding is: ‘n vader en ‘n seun. Jy kan nie only the lonely wees en jy noem jouself Vader nie! Omdat Hy Homself “Vader” noem, is daar in Hom ‘n wesenseienskap dat Hy homself wil vermeerder sodat Hy in verhouding kan wees. Dit is presies wat Hy gedoen het. In verskeie plekke in die skrif, bv. Ps 2:7 (ASV), word gesê, “Jehovah said unto me, Thou art my son; This day have I begotten thee.” Die Only the Lonely het in Homself gebuig en uit sy eie Wese ‘n Seun voortgebring.  Waar was daardie Seun vroeër?  In Hom weggesteek. (Joh 10:30; 17:21).

Met Adam en Eva gebeur presies dieselfde. Adam is enkeld en alleen, en dan haal God uit hom ‘n persoon met wie hy ‘n verhouding kan hê: Eva (Gen 2:23). In Mal 2:14 sê Yahweh: “Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek.”

En die derde voorbeeld in die tipologiese triptiek is dat soos Yashua in Yahwe verhul was, en soos Eva in Adam verhul was, só is ook die Bruid van Yashua IN Hom verhul voor die grondlegging van die aarde! God kyk na Sy seun en hy begeer ‘n nageslag.  En in Sy Seun haal Hy ‘n Bruid uit wat Hy weggesteek het voor die grondlegging van die wêreld. The bride was hidden inside of Him, before time, we were in Him.  Die Bruid was uitgekies in Hom. Maar as deel van die menslike ras het ons – soos al die ander  – ook op ons kop geval saam met Adam en vergeet wie ons uitverkies is om te wees. Het jy daarin ‘n keuse gehad? Nee, as jy uitverkore is, was sit God se prerogatief. Tog is dit moontlik dat jy nie jou roeping ernstig kan opneem nie. Die uitverkorenes is ingeskryf in die boek van die lewe – daardie Boek se naam is Jesus Christus. Maar dis moontlik dat jou naam uit daardie boek uitgevee kan word (Open 3:5). Dit het niks met redding te doen nie; maar redding (= jou keuse) was die voorvereiste dat jy jou uitverkorenheid kon identifiseer as “a divinely implanted, sense of a purpose working through the ages”.

 

  • Sela: Is jy uitverkies?
  • Lees: 1 Kron 17-25
  • Ondersoek die vervulling: Kyk hoe 1 Kron 17:35 hierdie lering saamvat.
  • Delf dieper: Luister naTom Gouws se cd-lering: Yahweh, Yahashua en Adam as “only the lonely” en hul verhulde voltooiing