“En die Gees van die HERE sal oor jou vaardig word, sodat jy saam met hulle sal profeteer en in ‘n ander mens verander word.” (1 Sam 10:6, OAV)
Een van die belangrikste redes vir die vervulling met die Heilige Gees is dat die gelowige gestalte gee aan God op aarde. Deur jou gee Hy wysheid en kennis aan ander, bied Hy genesing aan, doen Hy wonderwerke wat teen die natuurlike wetmatighede en omstandighede is. Die genadegawe van profesie laat God deur jou mond spreek (Luk 1:70). Soos dit van Jesus gesê is in Joh 3:34: “Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie”, word dit ook waar van Sy Geesvervulde seuns. Daarom sê 1 Pet 4:11: “As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God”.
Die Hebreeuse grondbetekenis van die woord “profeet” is nabi, afgelei van ‘n werkwoord wat beteken “to bubble forth”, soos ‘n fontein. Dus is dit iemand wat uit die stroom uit sy binneste proklameer wat God sê. Die Griekse betekenis van die woord is: “one who speaks for God”, en sodoende God se wil aan die mens interpreteer.
Die feit dat God mense gebruik deur aan hulle die genadegawe van profesie te gee, maak hul nie profete nie. (Ons verduidelik dit later in detail.) God kan deur enigiets spreek – Bíleam het gehoor hoe sy donkie met die stem van God praat (Num 22:28)! Paulus maak in 1 Kor 14:1 hierdie belangrike stelling: “beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer”. In vers 5 sê hy: “Ek wens dat julle almal … profeteer.” In Hand 2:17 bevestig Lukas dat die profesie van Joël waar word aan die einde van die tye, dat Hy van sy Gees sal “uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer”. Daarom konfronteer Amos 3:8 jou ook vandag: “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” En soos jy oop is om as spreekbuis te dien vir God, word jy verander (2 Kor 3:18) tot ‘n Christusbevatter (1 Sam 10:6; 2 Pet 1:4).
- Sela: Bedink die pragtige woordjie “Christusbevatter” (gemunt deur oom Jannie van Zyl).
- Lees: Eks 2; Ps 52; Mat 22
- Memoriseer: Mat 22:29
- Vir dieper delf: Lees oom PD van der Walt se Die Heilige Gees in aksie vandag (Deel 1), pp 66-69.