Dag 521

“Koop waarheid en verkoop dit nie …”

(Spr 23:23, OAV)

 

Die lang Manna van verlede week was ‘n proeseltjie van wat veel later aan bod sal kom wanneer ons by die derde dimensie, die Allerheiligste, sal stilstaan. Dit is aangesny sodat die hele gesprek oor uitverkiesing wat ons gevoer het nie in die lug moes hang nie. Maar daar is nog ontsettend baie geheimenisse en heerlikhede wat daaruit voortspruit wat ons vir eers helaas daar moet laat.

Ons is tans besig met die subreeks dat daar nie meer slaaf of vryman (in die uitgebreide bespreking van Gal 3:28) is nie. Satan se strategie om die mens te verkneg en so sy skeppingsdoel en hoogste roeping te roof, staan tans voorop en ons probeer perspektief daarop bied. En ons het begin in hierdie reeks met wat ‘n mens die beste kan beskryf as die gees van godsdienstigheid.

Ek het ‘n biker-vriend wat Jesus op ‘n dramatiese manier ontmoet het en toe in ‘n evangelistiese frenzy ingegaan het – die hele wêreld moes oombliklik gered word. Onvermoënd om met mense rustig die evangelie van goeie nuus te deel, het die ongeslypte, ruwe diamant Saterdae Hartebeespoortdam toe gery en gaan wag vir sy slagoffers, in die manstoilette. As ‘n man inkom om ‘n draaitjie te kom loop, het my vriend (‘n ses-voet-plus bebaarde reus) hom vriendelik dog dringend gevra of hy Jesus wou aanneem. As hy dan polite sê, nee, hy het net kom piepie, het my vriend hom agter aan die nek gegryp en hom tot op sy knieë by die toiletbak gedwing. Wil jy nou Jesus aanneem? het hy dan die ysingwekkende ultimatum gestel. As die verdomde heiden dit dan steeds nie wil doen nie, is sy kop onseremonieel in die toiletbak gedruk en (soos ons as kinders gesê het) die ketting getrek. As hy proesende sy waterdood oorleef het, het die reus hom kalmpies weer gevra: En wil jy nou vir Jesus aanneem? So het hy aangehou totdat die slagoffer deeglik bekeerd was (en sommer instantly gedoop ook J)

Dis die gees van godsdienstigheid wat niks spaar in sy gedrewendheid om ander mense te laat glo wat ek glo nie. Godsdienstigheid ontneem die mens sy keuse.

Dieselfde gees wat fundamentele Moslems dryf om wêreldwyd terreur te saai (soos met 9/11, byvoorbeeld), is dieselfde gees wat Judaïsme gedryf het om die Messias dood te maak (wat eweneens baie Christene dryf om terug te beweeg na ‘n wettiese godsdiens van Joodse gebruike en oortuig om, byvoorbeeld, Torah-observant te word). Dis ook dieselfde gees wat van ons almal kan besitneem in die aggressiewe beskerming van ons godsdienstige dogma. Die meeste oorloë wat in die naam van geloof gevoer is, is gedryf deur ‘n fanatiese godsdiensgees. Daardie gees is deur die bank demonies – of dit Moslems, Jode of Christene dryf, of Hindoes om swaarde deur die wange te steek of op gloeiende kole te loop, of volgens die animistiese gelowe van Afrika waar kindertjies gedood word om hul liggaamsdele as muti te gebruik.

Christene wat deur die gees van godsdienstigheid gedryf word, het die bladsy waarop 1 Kor 13:9 staan uit hul Bybels geskeur: “Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.” Niemand ondermaans het kopiereg op die waarheid nie. Die waarheid hoef nooit verdedig te word nie – waarheid verdedig sigself. Waarheid skreeu nie van verhoë af nie en druk nie mense met ‘n mes in ‘n hoek vas nie. Salomo het iets daarvan verstaan toe hy in Spr 23:23 gesê het: “Koop waarheid en verkoop dit nie …”

 

  • Sela: Vra om vergifnis dat jy jou godsdienstige beskouing op mense wil afdruk.
  • Lees: 1 Kron 26-28
  • Ondersoek die vervulling: 1 Kron 26:20 (Mat 13:44 & 52 en 2 Kor 4:7)
  • Delf dieper: Luister na Juan Coetzer se cd: Judaisme: ‘n Outestamentiese spiritualiteitsparadigma