“Take heed to yourselves, lest your heart be deceived,
and ye turn aside …”
(Deut 11:6, ASV)
Die mens het in sonde en oortreding geval deurdat Eva deur die slang mislei is (1 Tim 2:14). Die ganse menslike ras het toe wetteloos en bandeloos geword. Tit 3:3 gee ‘n raak beskrywing van hierdie unregenerated man: “Want ons was … onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.” Hierdie dwaalspoor is ‘n pad van misleiding, en die grootste krisis daaromtrent is dat ‘n mens dikwels totaal onbewus is van die misleiding. Trouens, jy sal met groot stelligheid jou korrektheid verdedig.
Daarom is Craig Hill se boektitel so ‘n raaksê van hierdie bedenklike toestand van sake: Deceived? Who … Me? ‘n Toestand van misleiding word gegenereer uit ‘n hart wat vir jou lieg. In Jer 17:9 word uitgeroep: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” In die volgende vers sê Yahwe: “Ek, die HERE, deursoek die hart …”
In ‘n paar vorige Mannas het ons ekstensief die hart as die oorsprong van die lewe ondersoek, en uitgewys hoe Satan primêr daarop fokus om ons harte te verwond. As ons ons hart verloor het, verval ons in blote godsdienstigheid. Om God te dien, word niks meer nie as ‘n stel rigiede voorskrifte wat deur ‘n gewete gedryf word. Dit is nie wat God vir ons bedoel het nie. In 1 Joh 3:19b-21 staan hierdie riglyn: “ons sal ons harte voor Hom gerusstel, want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles. Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God …”
Hart en gewete het ‘n nousluitende verbintenis. 1 Tim 1:15 maak byvoorbeeld ‘n onlosmaakbare band tussen “‘n rein hart” en “‘n goeie gewete”. Die skrywer van die Hebreërboek stel dit onomwonde: “laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete” (Heb 10:22).
Hoe vind hierdie besprenkeling plaas? Deur die bloed van Yashua (Heb 10:19) terwyl ons deur die voorhangsel (= Yashua se vleesliggaam – Heb 10:20) inbeweeg na die Allerheiligste, die durende teenwoordigheid van God. Ons moet gedurigdeur ons gewetes besprenkel met die bloed van Yashua om seker te maak dat ons hart ons nie bedrieg het nie. Dis wat Deut 11:6 hierbo vra: Take heed to yourself, lest your heart be deceived.
Ons moet noulettend na ons hartsmotiewe speur, en dit biddend voor God bring en die bloed van Jesus daaroor laat gaan, sodat ons gewetes rein kan wees om vir ons te sê ons hart is suiwer. En dikwels kan ons dit nie self raaksien nie – elke mens het maar ‘n blindekol ten opsigte van jouself. Daarom het ons naby gelowiges nodig wat kan inspreek in mekaar se lewe. “But exhort one another every day, whilst it is called to day, that none of you be hardened through the deceitfulness of sin.” (Heb 3:13, DRB). As ons ons merk mis (=sonde), word bykans elke besluit wat jy neem vertroebel deur “the deceitfulness of sin”. Dis soos suurdeeg. Paulus waarsku in 1 Kor 5:6-7: “Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees …”
- Sela: Laat die Heilige Gees jou gewete met die bloed van Yashua besprinkel.
- Lees: 1 Kron 29; 2 Kron 1-2
- Ondersoek die vervulling: Sien hoe 1 Kron 29:17 hierdie lering bevestig
- Delf dieper: Luister na Kalla Reynolds se lering: Die geraamtes in jou kas en jou gewete