“Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn,
om die werke van die duiwel te verbreek.”
(1 Joh 3:8, OAV)
Synde dat ons steeds besig is binne die oorkoepelende tema van die Voorhof en spesifiek die brandofferaltaar (hierbo afgebeeld), wat tipologies dui op die kruis van Yashua en sy bloedoffer vir alle mense, is dit logies dat ons nou – binne die subtema van slawerny – moet uitkom by hoe die verskillende “werke van die duiwel” die mens bind, besoedel, verkneg en later vernietig.
Ons is nou al deeglik onderlê daarin dat “die bloed van Jesus Christus … reinig ons van alle sonde” (1 Joh 1:7), maar dat dit nie ‘n outomatiese proses is nie. The blood has to be applied. Die oorwinning oor die werke van Satan is weliswaar by die kruis verwerf, maar ons moet dit afdwing. Maar as gevolg van ‘n gebrek aan kennis, word ons dikwels deur die Satan gevange gehou. Jes 5:13-14 stel dit in beeldende taal: “Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors. Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle …” Ons moet ons telkens bekeer (terugdraai) en kom tot die kennis van die waarheid en weer nugter word, vry van die strik van die duiwel, nadat ons deur hom gevang was om sy wil te doen, sê 1 Tim 2:25-26. Ons gebed behoort elke dag in absolute toewyding en afhanklikheid te wees soos Jesus ons dit voorgehou het: “Verlos ons van die Bose.” (Mat 6:13).
In die volgende lang reeks van die Manna gaan ons in detail kyk na hoe Satan in mense gestalte kry, dikwels sonder dat hulle daarvan bewus is. Na die mens se redding, is die belangrikste opdrag om die goddelike natuur deelagtig te word (2 Pet 1:4) – daardeur ontvlug ons die verdorwenheid. Dis die enigste wyse waarop ons waarlik “overcomers” kan word. Elkeen van die sewe briewe aan die gemeentes van Openbaring 2 en 3 eindig met ‘n belofte aan hulle wat “overcomers” is. Paulus se uitspraak in Rom 12:21 is onomwonde duidelik: “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Maar daarvoor het jy bepaald kennis nodig. Deel van Satan se strategie is om ons in die donkerte van onwetenheid te hou. In Eseg 28, een van die twee uitvoerige passasies wat gebruik word om die wesensaard en geskiedenis van Satan te vertel, kyk die meeste lesers die parallel wat in die hoofstuk vooropgestel is, mis. In Eseg 28:1-10 word die prins (of vors) van Tirus aangespreek, en hy is duidelik ‘n mens (vers 2). In Eseg 28:11-29 word die koning van Tirus aangespreek, en hy is duidelik ‘n god (vers 14). Barnes, die klassieke kommentator op die Bybel, verduidelik dat die mens van Tirus die kollektief van al die mense voorstel, en “in them was embodied the principle of evil opposing itself to the divine government of the world”. Hy sê voorts: “the mystery of iniquity is ever working (IN AND THROUGH MAN), and in that working we recognize the power of Satan”. Almal wat dan deur Satan gevang word om sy wil te doen (volgens 1 Tim 2:25-26 hierbo), begin lyk soos hulle vader, die duiwel. Hulle dra sy natuur:
“Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” (Joh 8:44). Ons wil die goddelike natuur van ons Vader verwerf.
- Sela: Begin bid dat die Heilige Gees jou die goddelike natuur sal laat verkry.
- Lees: 2 Kron 3-5
- Ondersoek die vervulling: 2 Kron 3:10 (in die lig van die lering oor Satan as gerub).
- Delf dieper: Luister na Matzie Lee se lering: Wortels van ongeregtigheid wat jou gevange hou.