“Of wil julle Hom bedrieg …?”
(Job13:9, OAV)
As dit so is dat ons hart vir ons lieg (Jer 17:9) en ons só mislei word (Jes 44:20), hoe kan ‘n mens weet of jy dalk onwetend in die vangstrik getrap het? Interessant genoeg, die Griekse woord wat Jesus in Mat 26:13 gebruik as “struikelblok”, is skandalon, wat beteken: “the movable stick or trigger of a trap” (Thayer). Jy trap eers iets af alvorens jy in die vangstrik gevang word. As die vangstrik dan misleiding is, wat is die trigger?
Daar is agt vangstriksnellers wat vir jou ‘n aanduiding kan gee dat daar moontlik misleiding in jou lewe is:
- 3:13 sê dat jy kan “deur die verleiding van die sonde verhard word”. Sonde hier beteken dat jy jou merk mis, d.w.s. nie in jou skeppingsdoel begin opstaan nie. Jy is dan per definisie altyd oop vir misleiding. (1 Joh 1:8, wat ook oor die onderwerp handel, moet saamgelees word met vers 10, asook 1 Joh 3:6).
- “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” (Jak 1:22). As jy heeltyd openbaring kry, maar die woord word nie vlees nie, maak jy jouself oop vir misleiding.
- Gal 6:3 – “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” Dikwels in die Liggaam van Christus neem mense posisies in wat God hul nie gegee het nie. Dit maak jou ontvanklik vir verdere misleiding, want om jou versamel mense wat dan – soos jy – “in hul gehoor gestreel wil wees”, wat “vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede” (2 Tim 4:3). Jy word só ‘n blinde leier van blindes. “En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot (= misleiding) val.” (Mat 15:14).
- “Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God …” (1 Kor 3:18-19). ‘n Gelowige wat nie deurgaans nederig afhanklik is om by die Here te hoor wat Hy sê nie, word opgeblase (1 Kor 8:1). Dis belangrik om te weet ons almal ken ten dele en profeteer ten dele (1 Kor 13:9); as jy nie in dié wete leef nie, sal dit jou in misleiding verlok.
- Jak 1:26 – “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.” ‘n Tong wat nie Geesbeheerd is nie, roep ook misleiding.
- Jy maak jou oop vir misleiding as jy nie die saai-en-maai-wetmatigheid van die Koninkryk ag nie – Gal 6:7.
- 1 Kor 6:9-10 sê dat ongeregtigheid jou ongesiens in misleiding laat voortwoeker.
- “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” (1 Kor 15:33). Om deel te wees van gesprekke wat God in oneer bring, laat jou deel in die misleiding, wat soos ‘n kanker voortwoeker (2 Tim 2:17).
Vra die Heilige Gees om jou van dié vangstriksnellers te oortuig, sou dit in jou lewe wees.
- Sela: Bid die laaste sin van hierdie Manna.
- Lees: 2 Kron 9-11
- Ondersoek die vervulling: 2 Kron 9:2 (Wenk: 1 Kor 1;24).
- Delf dieper: Luister na Matzie Lee se lering: My Posisie in die Nuwe Priesterorde: Legitimiteit, outoriteit,& integriteit
die Vangstrikke wat my uit posisie wil slaan