“verleidende geeste en leringe van duiwels ”
(1 Tim 4:1, OAV)
Ons het tot dusver gesien dat Satan hoofsaaklik vier strategieë het waarmee hy werk:
- Hy probeer jou in die duister hou oor wie jy is in Christus en wat jou skeppingsdoel is.
- Hy lei jou in die versoeking sodat hy jou tot oortreding kan bring, en binne die posisie van uit-lyn-uit-wees, verkry hy toegang tot jou lewe.
- Hy mislei jou en laat jou glo dat jy deur God gelei word. Ons het in die vorige Manna na die verskillende snellers gekyk wat jou in misleiding dompel.
- Hy trek ‘n sluier van verkeerde lering en dogma sodat jy nie ‘n “meer as ‘n oorwinnaar” kan word en in geestelike outoriteit beweeg nie.
Daar is al uitvoerig gekyk na punt 3 hierbo; die ander is in verskeie kontekste in verspreide mannas bygehaal. As ons praat van misleiding, speel punt nommer 4 ‘n baie groot rol. Om die gevaar hiervan na behore te verstaan, sal ons 1 Tim 4:1-3 as vertrekpunt gebruik: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.”
Die misleiding van gelowiges geskied grootliks deur hulle van die geloof afvallig te maak. In Dan 11:35 word dit vooruitgeskou dat “van die verstandiges sal sommige struikel” deur hulle “af te keer van die waarheid” (2 Tim 4:4). Open 12:4 waarsku dat die Draak ‘n derde van die sterre aan die hemel (=die uitverkorenes) uit die hemel (=geestelike realm waar God regeer) geklap het.
Daar word eksplisiet verder in Open 12:15 dan gesê dat hulle afvallig geword het deur die vals lering wat agter hulle aangespoeg is. Die Skrif in 1 Tim hierbo sê dat die vals lering geleer word deur “verleidende geeste”. Maar hulle is nie by magte om self te leer nie, nee. Hulle leer deur pastore en dominees en professore en predikers en geestelike werkers en gewone gelowiges wat verlei is tot hul hierdie dwaalleringe.
Dwaallering is nie net nuwe insigte of openbaring nie – die meeste dwaalleer is oorleweringe van kerke en sinodes en geestelike dikatators wat ons met die loop van die eeue aanvaar het moet reg wees. Miljoene mense voor my kon tog nie almal verkeerd gewees het nie? Paulus waarsku in Kol 2:8 – “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.” Al word die woord van God sogenaamd verkwansel, noem Paulus dit in sterk taal “doctrine of demons” (ASV).
In die volgende Manna kyk ons na hoe jy die “bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus” (2 Kor 11:3) kan onderskei, en wat kan jy doen as jy (of geliefdes) dalk vasgevang is in die greep van verleidende geeste.
- Sela: Vra die Gees van God om jou bewus te maak van verleidende geeste in jou.
- Lees: 2 Kron 12-14
- Ondersoek die vervulling: 2 Kron 12:9-10 in die lig van die lering
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Saligheid van jou Siel – Herstel so die Beeld van God.