Dag 527

“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef

of hulle uit God is, want baie valse profete het

in die wêreld uitgegaan.”

(1 Joh 4:1, OAV)

 

In die vorige Manna is 1 Tim 4:1-3 as vertrekpunt gebruik om die “leringe van duiwels” en “verleidende geeste” te probeer eien. ‘n Paar sleutels word in hierdie gelade verse gebied.

Paulus noem allereers dat ‘n mens die valse leraars deur wie seducing spirits werk, kan herken aan “die geveinsdheid van leuenaars”, “speaking lies in hypocrisy” (DRB). Geveinsdheid word gesê van ‘n persoon wat voorgee om te wees wat hy nie is nie, wat skynheilig, agterbaks en huigelagtig is.

Gelowiges word dikwels deur sogenaamde “groot” gelowiges se gawes of uitsonderlike bedienings verblind. Sulke gawes kan egter in die koninkryk van duisternis ewe skouspelagtig voorkom. Dis algemeen dat Hindoe-priesters jong maagde van haar gorrel af tot onder haar maag oopkloof met ‘n groot slagtersmes, al die inwendige organe en derms uitruk en in die sand gooi, haar dooie liggaam optel en laat val om te demon-streer sy is deeglik dood, en dan alles weer teruggooi en met sy vinger ‘n inkantasie oor haar liggaam beweeg en haar tot lewe oproep, en sy dan werklik opstaan uit die dood. Bebloed, vol stof, en weliswaar effens ontredderd, maar onteenseglik lewend. Is dit Yahweh, die God wat ons aanbid wat dit bewerk het? Bepaald nie.

Onthou, die profeetpriesters van Farao kon bykans alles doen wat Moses en Aäron kon doen; so ook kon die Baälprofete in ‘n groot mate dieselfde wonderwerke doen as die Godsman Elia. Ons mag egter nooit deur geestesgawe-uitoefening mense hoogag nie; die Woord is besonder duidelik hieroor – “Julle moet òf die boom goed maak en sy vrugte goed, òf julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.” (Mat 12:33). In Luk 6:45 word dit eweneens gestel: “Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk ‘n mens tog nie vye nie, en ‘n mens sny ook nie druiwe van ‘n doringbos nie.” Die vrug van die Gees (sien weer Mannas 38-40) is die enigste waarmerk van iemand se “goddelike natuur” (2 Pet 1:4).

In gewone taal gestel: As enigiemand genoeg tyd gegun word, sal sy donkieore een of ander tyd in ‘n onbewaakte oomblik uitkom. As daar enige vorm van valsheid is wat ‘n persoon voorhou, enige skyn-heiligheid is (met ‘n ander, onnatuurlike stemtoon praat as hy/sy geestelik praat, verskillend funksioneer tydens geestelike byeenkomste as om die braaivleisvuur, by verskillende mense verskillend optree, op ander neersien as gevolg van sy/haar geestelikheid, en so meer), is dit gevaartekens en moet ‘n mens vra vir ‘n genadegawe van onderskeiding (Manna 54; 1 Kor 12:10). Pasop egter vir jou eie verskuilde jaloesie, agterdog en onleerbare gees met die onderskeiding , wat ‘n mens se geestelike beoordeling en onderskeiding definitief kan klad.

Leunagtigheid is ‘n volgende waarmerk van ‘n vals leraar. As die persoon nie in die waarheid loop nie, is dit ‘n geweldige gevaarteken. Jesus is immers die waarheid (Joh 14:6).

 

  • Sela: Bid vir Fil 1:10
  • Lees: 2 Kron 15-17
  • Ondersoek die vervulling: 2 Kron 15:2b & 4b (Wenk: Mat 7:7)
  • Delf dieper: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering:  Agterdogma in jou lewe.