Dag 528

“laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie”

(Gal 5:1, OAV)

 

Met die oog op ‘n beter verstaan hoe gelowiges vals leraars kan uitken, ondersoek ons tans 1 Tim 4:1-3. Ons het in die vorige manna spesifiek gekyk na die aanwesigheid van skynheiligheid en leuenagtigheid, Die derde kenmerk van die vals leraar is dat hul “gebrandmerk is in hulle eie gewete”, of soos die Engels dit stel: “having their conscience seared”.

Die woordjie “gewete” word in die Grieks gebruik as die “created moral faculty for discerning between good and evil” (Expository Dictionary of Bible Words). ‘n Gewete, volgens Rom 2:15, either excuse or accuse, beskuldig of verontskuldig. ‘n Gewete wat dus toegeskroei is, word sy bedoelde funksionering ontneem. Die “klein stemmetjie” van God (wat selfs in ongelowiges funksioneer), word hierdeur oneffektief en in onbruik gemaak. Dit gebeur deur die gewete herhaaldelik te verkrag of opsy te skuif, doelbewus te ignoreer of sonder om in redelikheid iets weer te oorweeg, en eiesinnig voort te storm in eiegeregtigheid.

Die psigologiese uiterste hiervan, wat “psigologiese disintegrasie” genoem kan word (=sonder gewete, die omgangstaal vir psigopate), wat meer dikwels voorkom as wat ‘n mens besef, hou in dat die persone wat daaraan ly ‘n slagoffer word van sterk innerlike dryfkragte en of emosies en die self se waardeoordele as onaantasbaar interpreteer. Alle onderskeid of grense tussen wat basies/universeel reg en verkeerd is, vervaag, en alles word beoordeel in die mate wat dit die persoon bedreig of bevoordeel. Alle aksie word dan ook dienooreenkomstig gerig. Dit gaan dikwels gepaard met fyn manipulasie en word gekenmerk aan subtiele wreedheid. Sy/haar persepsie is dat hul in totale beheer is en dat hy/sy onfeilbaar is. Ander persone in interaksie met hulle word van hul keuses ontneem.

Uiteraard is nie alle persone wie se gewete toegeskroei is, soos Paulus dit metafories raak beskryf, van hierdie orde nie. Tog is dit op ‘n skaal altyd in ‘n mindere of meerdere mate reeds waarneembaar in die gedrag en denkpatrone van slagoffers wat in die greep van Satan gekom het en wie se gewete deur die verleidende geeste besoedel is (Tit 1:15). In ‘n baie groot mate lei alle ongelowiges aan sodanige “slegte gewete” (Heb 10:22) en kan dit eers deur die doop van die gelowige verander (1 Pet 3:21). Sela.

Dis essensieel dat ‘n mens se gewete getuig saam met die Heilige Gees (Rom 9:1), iets wat eers na die doping met die Heilige Gees moontlik is. Ons moet ons daarin oefen “om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê” (Hand 24:16). Die proses word netjies in 2 Kor 4:2 gestel: “Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.”

Waaraan ken jy leraars en profete uit wat “gebrandmerk (is) in hul eie gewetes”? 1 Tim 4:1-3 sê dit is as hulle begin om mense voor te skryf, hulle hul keuses te ontneem (“verbied” en “gebied”) en só gelowiges van die “vryheid in Christus” beroof en onder “’n juk van diensbaarheid” (Gal 5:1) plaas – dit is duidelike tekens van geestelike manipulasie en ‘n besoedelde gewete.

 

  • Sela: Is daar leraars wat jy ken waarvan hierdie lering waar is?
  • Lees: 2 Kron 18-20
  • Ondersoek die vervulling: Lees 2 Kron 18, veral :22, in die lig van hierdie lering.
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Om Heiligheid Volmaak te Maak in die Vrees van die  Here