Dag 534 en 535

 

“‘Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.”

(Mark 7:9, OAV)

 

Die “doctrines of demons” is dikwels ook deel van die dogma van hoofstroomkerke. Dit sal jou nie jou redding kos nie, maar kan jou verseker mislei. Ons kyk in hierdie manna na so ‘n ‘algemene’ misleiding.

Die dood doen goed besigheid met Christene. Gaan kyk ‘n bietjie na die Christelike boekwinkels – daar is eindeloos geskryf oor die dood: uit teologiese oogpunt, uit populêre oogpunt, uit sielkundige oogpunt, uit die oogpunt van near-death experiences en after-death experiences. Daar is ‘n magdom boeke oor “divine revelations” van hemel en hel, die werklikheid van die hemel, van die eerste 5 minute na jou dood, die eerste 5 minute voor jou dood, die begeleidingsproses rondom die dood, hoe om in die hemel te kom, hoe om uit die hel te bly, voorskoue oor eindbestemmings, waar is my geliefdes wat gesterf het. Pragtige mense met goeie getuienisse (en hul kinders) reis die land vol en verkondig hul persoonlike encounters met die hemel en die boodskappe waarmee hul teruggestuur is aarde toe om mense te waarsku.

En ja, al hierdie boeke is deur die bank topverkopers. Die bedienaars wat gelowiges evangeliseer met die vooruitsig en realiteit van die hemel en dat ‘n mens dit kan mis, se dagboeke is ‘n jaar of meer reeds vooruitbespreek. Die mens bly nou maar een maal gefassineer (en gekweld, vermoed ek) oor wat presies dood en die hiernamaals behels. En uiteraard is die hemel daardie veelbegeerde plek waar daar nie meer dood of trane is nie. (Ook, volgens hoe ons die Bybel lees, nie ‘n see nie – daaroor was ek nog altyd ‘n bietjie suur.)

Dis veral as jy kyk in koerante, soos Die Burger, se aankondiging van sterftes en begrafnisreëlings dat ons almal deur die bank wïl glo in ‘n hemel. Ons glo dat Oupatjie nou in ‘n engelekoor sing; dat Tante met die kanker by die pêrelpoorte sonder pyn sal ingaan; dat die liefste kind wat voortydig gesterf het, nou vir ewig veilig is in die sussende arms van Jesus; dat Peetoom Sparkey nou al die hemelse vuurperdewaens sal diens. (Ek spot geensins as ek dit so aanhaal nie, want dit is waaragig die meeste gelowiges se realiteit van wat gebeur na die dood. Al die aangehaalde voorbeelde is net so uit die koerant gehaal, belowe.)

Ons het groot geword met die konsep van hemel as ‘n absolute gegewe – dis die plek waar die onsigbare God woon en waar die engele (hoofsaaklik) is. Hemel, is ons geleer, is uitsonderlik sensueel mooi – dis ‘n groot stad met die naam Nuwe Jerusalem; al die strate is van goud; poorte van pêrels; daar is kore wat sonder ophou sing. Alles is sag en glansend, daar is geen pyn nie. En natuurlik: dit is die plek waar goeie mense en kindertjies heengaan as hulle doodgaan. Trouens, dit is die eindbestemming van alles. Die ganse Christelike lewe gaan eintlik daaroor of jy uiteindelik hemel toe gaan, of dan … wel: hel toe. Die ou wat my na die Here toe gelei het in 1977 het ‘n Campus Crusade-boekie gehad waarin die stappe van verlossing opgesom is. Die openingsvraag was klokslag: As jy vandag sterf, is jy seker jy gaan hemel toe? Maak nie saak wat jy daarop antwoord nie, jy is gekonfronteer met die vinnige linker van Rom 3:23 – “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”, wat dan onmiddellik opgevolg is met daardie onverbiddelike regter van Rom 6:23 – “Want die loon van die sonde is die dood …”

As jy dus nie jou sonde bely en ‘n Christen word en ‘n goeie lewe lei nie, sal jy, ipso facto, nie hemel toe gaan as jy eendag sterf nie. En dït word benadruk – niemand ontsnap dit nie.

Die ganse boodskap van die evangelie was gesetel daarin dat mens hemel toe gaan. Niks behalwe hemel het uiteindelik saak gemaak nie. In die boeke van Mary Baxter en Choo Thomas word in detail vertel hoe die hemel en die hel lyk, hoe afgestorwenes respektiewelik in soetsaligheid beweeg, of in angs skreeu terwyl hulle brand. Ons verbeeldings is in detail ingeklee deur diegene wat beweer hul weet hoe dit daar lyk. Luister hoe digterlik Mary Baxter dit beskryf: “My guiding angel escorted me through the magnificent gate and into heaven … When I stepped inside the city, amazement again took my breath. The landscape of that incomparable city was beyond desription. Surrounding me were the most beautiful, colorful flowers I had ever seen. There was unbelievable greenery and vegetation everywhere. Even the blooms of the flowers seemed to be alive to the music and the singing.”

Die meeste mense reageer geweldig emosioneel rondom die saak van die hemel, en dis verstaanbaar, want die hemel verteenwoordig ‘n bepaalde sekerheid waaraan jy nie mag torring nie, anders tuimel ‘n ganse geloofskonstruk inmekaar. Van jongs af word daar by ons ‘n baie spesifieke denkparadigma van die begrip ‘hemel’ geskep. En omdat dit nie ‘n konkrete objek is nie, is die kanse baie skraler dat die verkeerde kennis daaroor iewers direk gekonfronteer sal word. Om hierdie rede bly die meeste mense binne die oorgelewerde denkraamwerk rondom hemel en integreer hulle soos wat hulle meer inligting daaroor verkry dit alles in terme van wat hul reeds daaroor weet. Selfs as hulle byvoorbeeld die Bybel lees, word alles wat hulle van die hemel glo in terme van hierdie preconceived ideas geïnterpreteer en gemodifiseer. As hulle met enige ander radikale idee oor die saak gekonfronteer word, is daar gewoonlik ernstige teenstand, of word die vreemde idee summier verwerp. Ons oorgelewerde verstaan van hemel en hel is stelselmatig ingeklee met aanverwante sake van God, Jesus, sonde, die kerk, die wegraping, die brandende vuur, die strate van goud, die hiernamaals, die wittroonoordeel, en so meer. Met die loop van jare word die daadwerklikheid van dood en wat gebeur met die mens daarna ‘n realiteit wat jy ook binne jou hemelparadigma moes integreer. En dan gebeur wat met die meeste van ons gebeur – jy val terug op wat die geleerdes oor die sake sê, en die profete en die menigvuldige boeke.

Maar een ding staan volgens oorlewering vir die meeste van ons vas: die hemel is seer sekerlik ‘n plek waar God woon en party van ons op pad heen is. Ons ganse geloof is gebaseer op hierdie waarheid. Nie dat die gedagte aan hemel mens altyd opgewonde maak nie, as ek nou regtig baie eerlik wil wees. As ‘n Wes-Transvaalse seun sou ek baie gehou het van kameel-doringbome en rooisand, nie strate van goud nie. Ek sou graag die pienkvet engele wou sien wat op harpe speel, maar hoe lank sal dit my in ekstase hou? Drie minute, drie uur, drie dae, driehonderd jaar? Dan verander die Hemel, met respek gesê, na die Hel. Miskien is dit die ding van Hemel en Ewigheid wat my die meeste pla, en die goeie dr Willie Marais is daarvoor verantwoordelik. In ‘n verwoede preek het hy hierdie voorbeeld gebruik om die ewigheid in die hemel te verduidelik: Dink jou in ‘n reusagtige berg van suiwer graniet. Elke duisend jaar kom ‘n voëltjie en kom vee sy bekkie een keer oor die granietberg. As die hele berg afgeslyt het as gevolg van die voëltjie se bekkie-afvee, sal een sekonde van die ewigheid verby wees. Is dit die hemel? Dit het my totaal uitgefreak. Steeds.

Meer in eietydse jargon verduidelik John Eldredge presies dit wat die meeste Christene vermoed en vrees: “Nearly every Christian I have spoken with has some idea that eternity is an unending church service … We have settled on an image of the never-ending sing-along in the sky, one great hymn after another, forever and ever, amen. And our heart sinks. Forever and ever? That’s it? That’s the good news? And then we sigh and feel guilty that we are not more ‘spiritual’. We lose heart, and we turn once more to the present to find what life we can.”

As ek baie eerlik is, desnieteenstaande al die sogenaamde beloofde byvoordele van die hemel, sien ek nie kans vir daardie ewighede nie. Eerlik. So help my God.

 

  • Sela: Wat presies glo jy oor die hemel?
  • Lees: 2 Kron 35-36; Esra 1
  • Ondersoek die vervulling: 2 Kron 36:22. Wat beteken dit dat die gees van Kores opgewek word?
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde