“for also in this we groan, with our dwelling that is from heaven earnestly desiring to clothe ourselves, …”
(2 Cor 5:2, YLT)
Die bekende Amerikaanse prediker Dwight L. Moodie het hierdie opmerking gemaak oor die gelowige se verantwoordelikheid om meer oor die hemel te wete te kom: “I like to find out all I can about heaven. I expect to live there through all eternity. If I were going to dwell in any place in this country, if I were going to make it my home, I would inquire about its climate, about the neighbors I would have — about everything, in fact, that I could learn concerning it. If soon you were going to emigrate, that is the way you would feel. Well, we are all going to emigrate in a very little while. We are going to spend eternity in another world. … Is it not natural that we should look and listen and try to find out who is already there and what is the route to take?”
Die groot probleem is, ons verstaan óf die padkaart soontoe helemaal verkeerd, óf ons het ‘n totaal verkeerde padkaart. Laat ons met die laaste krisis eerste deel.
Getrou aan die aard van die Afrikaner was die Groot Trek nie ‘n eenheidsbeweging op soek na vryheid nie. Ons weet van die bitter leierstryde en die gevolglike trekke in verskillende rigtings: Trichardt se groep, Piet Retief se groep, Andries Pretorius se groep, Langhans van Rensburg se groep – elkeen die wildernis in om die vryheid te win. ‘n Redelik onbekende splintergroep van die Groot Trek was bekend as die Jerusalemgangers. Hulle leier was Adam Enslin en ‘n profetes genaamd Mietjie Gous. Hierdie meer Charismatiese groepie, sou ‘n mens hulle so kon noem, het twee geestelike handleidings gehad: die Hollandse Statenbijbel en Wilhelmus à Brakel se Redelijke godsdiens, ‘n lywige en populêre dogmatiekhandleiding. Die twee boeke is meegeneem op die trekpad en in hulle nuwe omgewing dikwels gebruik.
Die leier van die Jerusalemganger sou ook in ‘n hoë mate deur à Brakel beïnvloed word. Dit sou veral wees ten opsigte van sy verklaring van die Openbaring van Johannes asook sy beklemtoning van die chiliasme (oftewel die leer van die duisendjarige vrederyk op aarde) en hoogskatting van Jerusalem, ook dat Engeland deel uitmaak van die mag van die antichris. Chiliasme is die oortuiging dat daar in die laaste tye ‘n heerlike staat van die kerk op aarde te verwagte is.
As gevolg van gebrekkige hermeneutiese tools (met ander woorde: om die Bybel na behore te lees en te verstaan), het Adam Enslin, onder die driftige profetiese aanvuring van Mietjie Gouws, gevoel die tyd is amper daar om die land van melk en heuning, die Nuwe Jerusalem, te vestig. Hulle moes dit egter eers vind, en sodoende het die landkaarte agter in die Statenbijbel die amptelike trekroete geword na die hemelse paradys op aarde.
J.P. Claasen se studie oor die Jerusalemgangers vertel die hartseerverhaal van hoe die groep die Midde-Oosterse kaarte gepasmaak het oor die Suid-Afrikaanse berge en dale. Hoe hulle tussen Zeerust en Groot-Marico by die berg Madikoe gebly het, en toe as gevolg van verdere openbaring getrek het na Nylstroom waar hulle die Nijl-zijn-oog as teken geëien het en toe die oortrekroete na die beloofde land toe gevat het. (Dis waar Nylstroom ook sy naam vandaan gekry het. En Nijl-zijn-oog is vandag steeds te besoek.)
Hulle was vas oortuig dat die gevaarvolle reis oor die berge en vlaktes van die donker en onbekende Afrika hulle sou bring by die glansende velde en ligtende hemel van Jerusalem. Sodoende sou hulle dan Jerusalem, die herwonne Paradys, vir hulleself en hul nageslag verseker.” Dit was egter geen Nuwe Jerusalem of aardse paradys nie. In plaas van melk en heuning, was daar net … muskiete en tsetsevlieë. Hulle vee het almal gevrek en hulle het aan ‘n slaapsiekte begin ly wat bykans die hele trekgemeenskap van die honger laat sterf het. Totally disillusioned. Net drie het oorleef – Mietjie Gous lived to tell the story.
Wat is uit hierdie “storie van ons sterfte”, soos C. Louis Leipoldt dit sou noem, te leer? Skrikwekkend veel, maar kom ons let net op ‘n paar implikasies vir ons:
- Die Jerusalemgangers het ‘n verkeerde padkaart na hul hemel toe gevolg. Hulle het geestelike dinge op ‘n vleeslike manier verstaan. Dis ‘n geweldige probleem met die meeste gelowiges, en ‘n saak waaroor Paulus uitvoerig geskryf het. Ons kom later hierna toe terug, want dis ‘n kernaspek van die gesprek oor die hemel. Maar Paulus waarsku in 1 Kor 2:13-14 dat ons geestelike dinge met geestelike dinge moet vergelyk. Die natuurlike mens kan nie anders as om natuurlik of vleeslik te dink oor goed nie; hy kan nie gee nie geestelike goed verstaan nie, want dit moet geestelik beoordeel word.
- Selfs mense wat wedergebore is en selfs charismaties is in hul geloofsbelewenis kan steeds op ‘n natuurlike wyse oor geestelike goed dink, en só – met respek gesê – die pot totaal missit. Paulus raas juis met die Galasiërs (3:1) oordat hulle in die Gees begin het, maar op ‘n onverstandige manier in die vlees geëindig het.
- Die kennis of wysheid van die natuurlike mens, of dan van die vleeslike mens, is per definisie “aards, natuurlik, demonies”(Jak 3:15)! Satan, ons groot teenstander, se belangrikste wapen wat hy teen ons gebruik, is ons natuurlike manier van dink! God se volk gaan ten gronde vanweë ‘n gebrek aan kennis (Hos 6:4).
- “Natuurlik” in die versie hierbo, beteken “sintuiglik”, met ander woorde dinge wat ons deur ons sintuiglike vermoëns verwerf. Die meeste van ons, gelowiges of nie, verwerf ons kennis so, ook ons kennis oor die hemel. Maar die Woord spel dit uit dat ons “wysheid van bo” (Jak 3:17) moet bekom – die Heilige Gees moet ons leer (Joh 16:13) om die geestelike konsep van die hemel te verstaan. Daar is dus ‘n ou konsep van die hemel wat moet verbygaan voordat ons die nuwe konsep kan omhels. Waarom anders, dink jy, is dit nodig dat Open 21:2 uitspel: “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.”? ‘n Mens kan dalk verstaan dat die aarde tot niet moet gaan, maar hoekom die hemel? As die hemel dan ‘n fisies-volmaakte plek is, waarom moet dit vernietig word (volgens 2 Pet 3:10)? Die ou aarde (= ou Adam – Gen 2:7; 2) moet sterf (Rom 6:6), sodat die nuwe aarde (=jý) gestalte kan kry. Onthou 2 Kor 5:17 – “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (Die woordjie in Grieks is eintlik nie skepping nie, maar skepsel.)
- Jou handleiding, selfs al is dit die beste teologiese boek, of selfs die Bybel, kan jou mislei as jy met ‘n valse vooropgesteldheid dit benader.
Een van die vroegste boeke wat ek ooit gelees het oor die hemel is Billy Graham se Die dood en die lewe daarna. Die meeste mense sou sê dat Billy Graham met sy ontsagwekkende wêreldwye bediening sou baie seker maak dat hy nie mense mislei nie. En ek is seker hy wil dit uiteraards geensins doen nie. Maar Billy Graham se gebruikskeuse van ‘n Bybel, in dié geval The Living Bible, het vir hom sy teologiese beskouing van die hemel onteenseglik ondersteun, maar dit het hom ‘n verkeerde padkaart in die hand gegee. En duisende mense na ‘n vals bestemming begelei waarheen hul streng gesproke glad nie na heengaan nie.
Die boek van Billy Graham het as motto Open 14:13, wat in Die Lewende Bybel soos volg vertaal is: “Toe hoor ek ‘n stem uit die hemel vir my sê: ‘Skryf hierdie woorde neer: van nou af kan almal bly wees wat sterwe terwyl hulle aan die Here behoort. Die Heilige Gees bevestig dit ook dat hulle gelukkig sal wees, want hulle sal rus na al die werk wat hulle gedoen het, en wat hulle gedoen het, sal saam met hulle na die hemel toe gaan.”
As jy hierdie versie in hierdie vertaling lees, is daar geen twyfel dat mense wat sterf, hemel toe gaan nie. Tog is dit nie hoe dit in die oorspronklike taal gesê word nie. Die Ou Afrikaanse Vertaling (wat veel nader aan die oorspronklike teks is) stel dit soos volg: “En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” Let op: die stem van God kom weliswaar uit die hemel, maar daar is geen grond om te sê die gelowiges se werke volg hul spesifiek hemel toe nie. Die veronderstelling van die vertaling is dat iemand wat sterf en gaan rus van hul arbeid, hemel toe gaan. Maar dis ingelees vertaal en derhalwe maak dit die interpretasie onskriftuurlik en heeltemal ongeldig.
Net nog ‘n voorbeeld, uit 2 Kor 5:1-2. Billy Graham haal weer eens uit ‘n verkeerde padkaart aan en daarin is dit onteenseglik duidelik dat ons hemel toe gaan: “Ons weet dat ons hier op aarde lewe soos iemand wat êrens tydelik tent opgeslaan het. As die tent weer afgeslaan word, dan het ons ‘n permanente huis in die hemel wat gebou is deur God self en nie deur mense nie. Terwyl ons nog hier in die tent woon, sien ons baie maal met verlange uit na die dag wanneer ons in die permanente huis in die hemel sal woon.”
As jy net hierdie passasie lees, kan dit amper nie in eenvoudiger taal verduidelik word nie. Maar helaas is dit verseker weer eens ‘n misleiding. Nader aan die oorspronklike vertaling is dié: “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, …”
Maar let op die komma na vers 2 (teen die einde van die aangehaalde deel) – dit is essensieel om vers 3 daarmee saam te lees, want dit verklaar die konteks vollediger: “as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.” Ons moet “oorklee” word met die huis in die hemele – die hemelse huis moet afkom en ek moet HIER daarmee aangetrek word. Vergelyk gou vers 2 in ‘n paar regte vertalings, en sien die korrekte betekenis van dié vers:
- “For in this we are crying in weariness, greatly desiring to be clothed with our house from heaven:” (BBE);
- “And now we sigh, so great is our desire that our home which comes from heaven should be put on over us;” (GNB)
- “For in this one we sigh, because we long to put on over it our dwelling which comes from Heaven—“ (WNT)
- “for also in this we groan, with our dwelling that is from heaven earnestly desiring to clothe ourselves,” (YLT)
In die volgende Manna gaan ons verder in ons ondersoek na die dwaalleringe oor “die hemelse huis”.
- Sela: Staan net vir ‘n oomblik stil by veral die laaste vertaling, uit Young’s Literal Translation – en
bedink dit vir ‘n wyle; dit het geweldige implikasies vir die argument.
- Lees: Neh 1-9
- Ondersoek die vervulling: Is Neh 9:2 nog in die Nuwe Verbond geldig? Lees in die lig van die
profesie wat in die vooruitsig gestel word in Eseg 18:2-3
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Skepping en herskepping