“Stay clear of silly stories that get dressed up as religion.”
(1 Tim 4:7, MESSAGE)
Edward Topsell se boek van 1607: The History of Four-footed Beasts and Serpents Describing at Large Their True and Lively Figure, their Several names, Conditions, Kinds, Virtues (Both Natural and Medicinal) gee ‘n paar interessante boererate vir draakpreperate: “The fat of the dragon, dryed in the sunne, is good against creeping ulcers; the same mingled with Honey and Oyl helpeth the dimnesse of the eyes. The eyes being kept till they be stale, and afterwards beat into an Oyl with Honey and made into ointment keep any one that useth it from the terrour of night visions and apparitions.”
Daar is kennelik vir Edward Topsell geen twyfel dat drake bestaan nie – hy gee boererate oor hoe jy hul vet gebruik om allerlei mankemente te besweer. Die woordjie “apparitions” waarmee hy die passasie afsluit, beteken volgens Webster’s: “1. In a general sense, an appearance; visibility. [Little used.] 2. The thing appearing; a visible object; a form. 3. A ghost; a specter; a visible spirit. [This is now the usual sense of the word.] 4. Mere appearance, opposed to reality.”
Geen twyfel dat Topsell nie net ‘n wolhaardraakstorie aan ons probeer verkoop nie. Die draak het nie net in nightly apparitions aan hom verskyn nie – hy het dit as visible object moes hanteer. Tog sal die meeste mense vandag sê dis soos die geloof dat daar spoke en geeste is. Mere appearance, opposed to reality – dis hoe die meeste mense oor die plat aarde en oor DIE drake van die Bybel dink, en ook oor baie dinge wat daarin geskryf staan, soos byvoorbeeld die hemel. Die mere appearances daarvan in die Bybel is opposed to reality – dit is figmente van die verbeelding, sou hulle beweer. Vir die persoon wat dit “sien” is dit werklik, maar dit korrespondeer nie met wat algemene konsensus is oor wat die realiteit is nie. Daarom is daar die eindelose debatte of Jona regtig deur ‘n vis ingesluk is, of Adam en Eva rêrige mense was, of die sondvloed werklik plaasgevind het, of Jesus se maagdelike geboorte enigsins moontlik was. Mere appearance, opposed to reality.
En baie mense verloor hul geloof in die Bybel, en in God, as die supergodsgeleerdes die een na die ander faset van die Bybelse geskiedenis bevraagteken. Adam en Eva op ‘n aarde net sesduisend jaar oud, ‘n slang wat kan praat en op vier pote loop, ‘n boom van wie se vrugte hulle eet as hulle nie mag nie, en die ganse mensdom lei daaronder? Op die oor af staan dit lynreg teen evolusie, koolstofdatering en bloot gesonde verstand, sou die meeste rasionele mense redeneer. Nie vreemd nie dat baie gelowiges die Boek, veral die Ou Testament, al hoe meer lees as ‘n geleentheidsgeskiedenis oorvertel deur primitiewe mense, waar feit en fiksie deurgaans vervleg is in verbeeldingsverhale, skeppingsmites en legendes. Hulle kan sommige daarvan glo, ander met ‘n knippie sout neem, soms met ‘n redelike skoppie as dit moet, maar soms adamant vasskop om nie die hele sak sout goedgelowig te sluk nie.
Maar dit word ook al hoe meer oor die Nuwe Testament gesê. Die teoloog John Selby Strong, voormalige biskop van die Amerikaanse Episkopaalse kerk, met twee eregrade in die Godsgeleerdheid en 19 boeke met ‘n Christelike strekking op sy kerfstok, sê die volgende: “Die tradisionele Christendom beeld Jesus uit as ‘n hemelse besoeker wat van die God bokant die hemelruim gekom het. via ‘n wonderbaarlike geboorte en wat, toe sy werk klaar was, deur die ruimte gevlieg het om na God terug te keer. Jesus se taak, sê die ortodoksie, was om ‘n gevalle wêreld te red deur aan ‘n kruis te sterf. Hierdie storie is op elke denkbare vlak vir my nie net letterlike nonsens nie, maar ook teologiese twak. En tog word dit Sondae in die meeste kerke herhaal. Ek gaan nie maak of sulke idees nog my respek waardig is nie.” (In gesprek met De Villiers in Beeld, 2008).
In sy boeke, The sins of Scripture en Jesus for Non-Believers, toon hy onverbloemd sy wrewel met enige vorm van letterlike interpretasie van die Bybel. Hy meen Jesus is nie in Betlehem gebore nie, beslis nie met ‘n maagdelike geboorte nie. Hy is oortuig die wonderwerke het nie plaasgevind nie, dat die getuienisse van die kruisiging en die opstanding is ernstige gate in te slaan. Die opstanding, is hy adamant, het nie letterlik histories gebeur nie.
Hierdie is nie ‘n geïsoleerde mening nie. Prof Julian Müller van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria, waar hy NG Kerk-predikante oplei, is baie eerlik oor sy postmoderne geloofsraam: “Die mens van vandag het afskeid geneem of is besig om afskeid te neem van ‘n supra-naturalistiese, goddelike wese … Ons vind dit toenemend moeilik om in ‘n soort ruimte-reisiger-God te glo – ‘n God wat iewers op ‘n troon sit en van ver af die wêreldgebeure van dag tot dag bestuur … Die drielaag-wêreldbeeld met God daarbo en die bose daaronder, met die mense en die aarde tussen-in, maak nie meer sin nie. Marx, Freud, Nietsche [sic] en Darwin het in die 19de eeu filosofies met die teïstiese wêreldbeeld afgereken. En nou, 150 jaar later, verwerk die Westerse Christendom steeds hierdie insigte spiritueel … Dit impliseer enersyds afskeid van ‘n God wat iewers op ‘n ander plek gesetel is en af en toe deur die stratosfeer reis om op die aarde in te gryp … In ‘n oomblik van eerlike refleksie weet ons dat ons reeds afskeid geneem het van ‘n hemel met ‘n vloer en ‘n God op ‘n troon … “
Dr Flip Schutte, met drie grade in die teologie agter sy naam, maak in sy boek Jesus’ resurrection in Joseph’s garden, eweneens uitsprake. In ‘n onderhoud met Neels Jackson word ‘n klompie van sy geloofsoortuiginge uitgespel: “Hy dink byvoorbeeld nie dat daar op ‘n dag ‘n klip voor Jesus se graf weggerol is nie. Hy dink nie die opstanding was ‘n historiese gebeurtenis nie … ‘n Mens moet die Bybelse opstandingsverhaal as ‘n metafoor verstaan … God is nie ‘n ou Oosterse Koning op ‘n troon iewers in ‘n raadsaal van die hemel nie …Die domino’s (val) een vir een … soos bekende Christelike konsepte in die slag bly. Die Goddelikheid van Jesus is een so ‘n konsep. Die Drie-eenheid is nog een. Omdat hy nie aan die boodskap van die kruis en verlossing glo nie, dink hy die kerk maak te veel van sonde … Hy dink nie daar is plekke soos hemel en hel nie …”
Klink nie vir my die domino’s val nie, maar die dominees J. Hierdie “sluipende sekularisasie”, soos Frits de Lange, die Kampense professor in Teologie dit noem, versprei soos suurdeeg in die geloofsraam van eietydse gelowiges. Al hoe meer gewone gelowiges vra derhalwe, soos die kop van die brief van ene SOEK ANTWOORDE van Stellenbosch dan ook generies uitspel: Bybel ál meer bevraagteken. Die sekulêre media word oorval deur debat oor hierdie sake, maar telkens word dié beskouing vooropgestel. Daarom dan as ‘n baie behoudende teoloog en gelowige soos Dr Pieter Fourie, wat die uitvoerende hoof is van die Bybel-Media Groep probeer om sy standpunt teen fundamentalistiese Christene te verweer (hier teen ‘n Nederlandse teoloog, Ds André Jansen), sonder om sy geloofsposisie in fundamentele waarhede te verloën, skep dit helaas groter onrus by die gewone gelowige: “Jansen, en dié wat soos hy dink, is welkom om te glo dat die Bybelse ark regtig ‘n groot skip was wat iemand met die naam Noag lank tevore gebou het toe die hele wêreld onder water was [sic]. Net so is hulle welkom om te glo dt argeoloë dalk nog eendag die beendere van die reuse sal vind wat volgens Gen 6 met die dogters van die mense omgang gehad het. Hulle is welkom om te glo dat die aarde regtig in ses dae van 24 uur elk ontstaan het. en ook dat die varkhokke van die verlore seun in die toekoms moontlik ërens opgegrawe sal kan word.”
Fourie maak ‘n standpunt dat hy nie die geskiedenis nodig het om te glo nie, want – soos die kop van die artikel dit ook stel – die Bybel is eerder ‘n geloofsboek as ‘n geskiedenisboek.
Ongelukkig het só ‘n uitspraak bepaalde implikasies, soos ‘n brief op dieselfde brieweblad, net onder die een hierbo, duidelik maak. Hierdie skrywer, Robert Nel, gaan uit van ‘n praktiese oogpunt en “bewys” sy skeptisisme dat Noag man alleen die enorme ark gebou het, die logistiek van die bedryf (leeus wat bokkies vreet en die hersirkulering van die “poefies”), en dan laat dit hom net tot een slotsom kom: die Bybel is ‘n boek van mites. Hy eindig sy brief en sê: “Gaan kyk tog in jul woordeboekies wat die woord ‘mite’ beteken en dan lees julle weer die storie oor Noag en sy ark.”
Nou kom laat ons doen wat die man vra. Die HAT gee die volgende definisie: “mite 1. Oorlewering omtrent gode en godsdiens; godeverhaal.2. Fabel: storie sonder grond.” The Consolidated Webster’s Encyclopedic Dictionary voeg toe: “something purely fabulous or having no existence in fact”. Mitologie, die versameling van mites, soos die Bybel dan volgens hierdie beskouing sal wees, is: “A system of fables or fabulous opinions and doctrines respecting the deities which … preside over the world or to influence the affairs of it.”
Uit hierdie definisie blyk dit dan duidelik dat baie Godsgeleerdes én gewone gelowiges na wat in die Bybel aangebied word, kyk soos mens vandag kyk na drake – mere appearance, opposed to reality. Figmente van ‘n verbeelding. En die uitsprake daarin – is dit bloot boererate vir draakpreperate? Uit hierdie oogpunt is dit absoluut duidelik te verstane dat ‘n boek soos Dan Brown se internasionale topverkoper, The Da Vinci Code, soveel gelowiges uit die geloof gehelp het. In ‘n informele leserpeiling van ‘n Amerikaanse koerant het so veel as 60% van die respondente wat die boek gelees het, aangedui dat die boek veroorsaak het dat hul nie meer die Christelike geloof kan aanhang nie. Haag & Haag som dit soos volg op: “As he tells it, the original story of Jesus – the meaning of his life and teaching – was suppressed and perverted by the Church in collaboration with the Roman emporer Constantine in the fourth century, so that as one of Dan Brown’s characters says, ‘Almost everything our fathers taught us about Christ is false.’
Hierdie manna se doel is om jou te laat besef: die wyse waarop ons die Bybel lees en interpreteer, is van die grootste belang. Die miljoendollarvraag is: hoekom bestudeer die meeste van die Godsgeleerde here wat hierbo aangehaal is, enigsins die Bybel? Ek verstaan nie hoekom gebruik hul enigsins die Woord van God as bronteks vir eksegese as hul oortuig is dit is bloot ‘n boek vol mites nie. Hulle kan net sowel Dalene Matthee se Kringe in ‘n bos daarvoor inspan (as dit nie dalk te veel op die waarheid gegrond is nie. Fiela se kind sal dan, byvoorbeeld, glad nie deug nie). Of Grimm se sprokies of, die fabels van Esopus, of darem meer interessant, die Kama Sutra. As die Bybel bloot ‘n versameling fantasieverhale is sonder ‘n realiteitsbasis, hoekom dit enigsins lees en jou lewe daarvolgens inrig? Hoekom doen die Nuwe Hervorming se skrywers en hul buiksprekers soveel bemoeienis met ‘n boek vol fairie tales?Duidelik: Beyond there be dragons.
Ons is tans besig met ‘n langasemdemonstrasie van lering wat allerweë aanvaar word as waarheid, maar nie die toets van die Bybel deurstaan nie. Ons is besig om spesifiek te kyk na die algemene konsensus oor die hemel. Teenoor die tradisionele beskouing van die hemel (waaroor ons al bietjie gepraat het), staan hierdie sekulêre opinie van eietydse teoloë et al. wat vanuit ‘n ander hoek die Bybel, en die hemel, diskrediteer.
Albei tas helaas mis, omdat hulle nie die taal verstaan waarin die Bybel aangebied word nie. In die volgende Manna meer hieroor.
- Sela: Verduidelik die sekulêre teoloë se argumente aan iemand.
- Lees: Ester 6-10; Job 1-4
- Ondersoek die vervulling: Job 1:6 (Wenk: Gen 6:2; Job 38:7; Dan 3:25; Luk 3:38 en Rom 8:14&19)
Delf dieper: Luister na die cd-reeks van Tom Gouws: Hoe vra die Bybel om gelees te word