“Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek.” (Jes 28:11, OAV)
Ons gaan die laaste twee genadegawes hier saam behandel, want hulle hoort dikwels saam: spreek in tale en uitleg van tale.
In Handelinge 2:1-4 word die verhaal gedokumenteer oor die uitstorting van die Heilige Gees: “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”
Die ongelooflike tydsinchronisering van God is hier van groot belang. Die eerste groot Hebreeuse fees is Paasfees, en dit het saamgeval met die dood van Jesus (Joh 13:1), die paaslam vir ons geslag (1 Kor 5:7). Vyftig dae na die Paasfees het die Jode Pinkster gevier, die fees van die eerste vrugte (pentecost beteken vyftig). Presies op hierdie dag het is die Heilige Gees uitgestort!
Maar waarom moes hierdie wonderbaarlike gebeurtenis juis met taal gemerk word? Hand 2:6-12 vertel van die taalverwondering: “En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees?”
Ja, wat kan dit tog wees met tonge en tale?
Na God die mens se sondige bedeling gehanteer het met die vloed wat die aarde oordek het, en Noag ‘n nuwe verbond met God gesluit het (Gen 8:20-22; 9:9), was daar steeds ‘n groepering mense wat die karakteraard wat die slang op die mens geplaas het, gedemonstreer het. In Gen 11 word die verhaal vertel van die tyd toe die hele aarde dieselfde taal gehad het en een en dieselfde woorde (dus een tongval!) En onder die geestelike outoriteit van die Nimrod (Gen 10:10) het die mense van Babel die karakter van hul heerser aangeneem. Name het in die Hebreeuse wêreldbeeld omtrent altyd aanduiding van karakteraard en identiteit gegee. Nie net word Nimrod die vader van die geweldenaars (Gen 10:8) en tiranne (Strongs) genoem nie; sy naam beteken voorts: “rebellie” (Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions). En die heersende gees van rebellie het die mense van Babel (in hul nastrewing van die oersonde van Satan) ‘n eie geloofsisteem laat bou: “En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.” (Gen 11:4). Alles wat God bou, kom van bo (Jak 3:17; Joh 3:3 “born from above”). Alles wat vleeslik is, is uit die aarde. Om hierdie rede het God toe die gesplete tong van die Slang – wat beslag gekry het in die mens se tongval as sigbare demon-strasie van hierdie karakteraard – as ‘n teken verdeel! (“Babel” beteken dan ook verwarring.) Die toring van Babel het die toring van Babbel geword .
God het deur te praat, geskep. Adam het geheers deur sy tong. Jesus word die Woord genoem. Hy sê: uit jou woorde sal jy regverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word (Mat 12:37). Van daardie tyd af was die talige verdeeldheid ‘n vloek wat die mens se eiesinnigheid en rebellie gemanifesteer het.
Maar op Pinksterdag laat God sy Gees in vuurtonge VAN BO op hul hoofde laat neerdaal en hul het begin spreek in ander tale! Nou onder beheer van die Gees van God, en nie die gees van Satan – die gees van rebellie en geweld nie – word ‘n nuwe bedeling van eenheid ingelei in die geskiedenis van die mensdom.
Die profesie van Jes 28:11 het waar geword: “Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek”. Met hierdie “vreemde taal” bring God aan die mensdom sy taal van genade, sy ancient language. Daar is ‘n terugkeer tot die taal van die beloofde land, “die taal van Kanäan” (Jes 19:18). Zeph 3:9 het op Pinkster waar geword: “For then will I turn to the people a pure language, that they may all call upon the name of the LORD, to serve him with one consent.” En dit het gebeur sodat Rom 15:6 waar kan word: “That ye may with one mind and one mouth glorify God, even the Father of our Lord Jesus Christ.”
Om in tale te praat is dus nie net ‘n toevallige gawe wat gepaardgaan met doping in die Heilige Gees nie – dit is die “inbind” in taal van jou as gelowige in Christus, die Lewende Woord. Die woorde wat Hy tot jou spreek is “mond tot mond” (Num 12:8), en dit is woorde van gees en lewe (Joh 6:63). Sy belofte in Eks 4:15 word dan waar: “Ék sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen.”
Om in tale te kan praat, maak Deut 30:14 ‘n realiteit in jou lewe: “Maar baie naby jou is die word, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.”
Inderdaad kan ons dan net vra, soos Simon Petrus in Joh 6:68: “Here, na wie toe sal ons gaan? U alleen het die woorde van die ewige lewe.”
Bemagtig met veel meer as net die tale van mense en engele (1 Kor 13:1), kan jy met sy veelkleurige mantel van tale op jou tong aktief ‘n medewerker word aan Jes 51:16: “And I have put my words in thy mouth, and I have covered thee in the shadow of mine hand, that I may plant the heavens, and lay the foundations of the earth, and say unto Zion, Thou art my people.”
- Sela: Gaan ondersoek die dieperliggende betekenisse van die Ou-Testamentiese Pinksterfees en hoe elke aspek daarvan vervul word in die nuwe verbond.
- Lees: Eks 5 & 6; Ps 55 & 56; Mat 25 & 26.
- Memoriseer: Mat 25:42-45
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: The secret languages of God