“Die lamp van die liggaam is die oog As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.” (Luk 11:34-35, OAV)
Jare gelede toe ek nog ‘n dosent by die Potchefstroomse Universiteit was, het ek gaan luister na ‘n lesing van ‘n internasionale kenner van die Bybel. Hy het vreemde en interessante uitsprake gemaak, maar op ‘n amper ongemerkte manier effens smalend oor God gepraat. In die vraetyd het ek hom toe openlik gevra of Hy ‘n gelowige is, met ander woorde of hy glo aan die Outeur van die Boek wat hy sy lewenstaak gemaak het om te bestudeer. Hy het weer skalks geglimlag en my met ‘n briljante teenvraag geantwoord: “As jy dit jou lewenstaak maak om Shakespeare te bestudeer, gló jy noodwendig in Shakespeare?”
Dit is helaas die probleem met die meeste Bybelkenners en eksegete vandag. Ons het in vorige mannas gepraat daaroor dat Jesus sy volgelinge gewaarsku het teen die ongesiene besoedeling van die suurdeeg van die Fariseërs. In dieselfde gedeelte waarsku Hy ons ook dat ons moet besonder bedag wees op die suurdeeg van die Sadduseërs: “Daarop sê Jesus vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.” (Mat 16:6).
Die doktrine van die Sadusseërs kan kortliks saamgevat word in die volgende kensketsing in John Gill’s Exposition of the Entire Bible: “there is no resurrection of the dead, nor angels, nor spirits … (they) sought secretly and artfully to infuse their notions into the minds of men”. Vir ‘n oomblik kan mens dink Gill praat van die Nuwe Hervormers. En ja, soos ons die suurdeeg van die Fariseërs in vandag se konteks kan gelyk stel aan die gelowiges wat die tradisies van hul geestelike vadere goedgelowig oorgeneem het en dit as volstrekte waarheid aan hul nageslagte leer, so kan ons die Sadduseërs in vandag se terme gelykstel aan dié groep persone wat nie glo in lewe na die dood nie, nie in ‘n geestelike realm nie, nie in geestelike wesens nie, wat die Bybel heeltyd dekonstruktivisties met die vraagteken lees en wat dit nie gebruik as die geïnspireerde Woord van die lewende God nie. God, op sigself, is vir die meeste van hulle ‘n immanente God, soos die teoloog Julian Müller van die NG Kerk se kweekskool by dei Universiteit van Pretoria sê: “Met so ‘n verstaan van God en geloof groei ‘n toenemende bewustheid van die hier en die nou. God is so naby aan ons soos ons eie asem. Die tradisionele onderskeid tussen die natuurlike en die bonatuurlike word toenemend bevraagteken. Alles is van God deurdrenk en die ganse werklikheid word sakramenteel beleef.”
Met die eerste lees val dit mooi op die oor, en reg, maar die teologie ten grondslag daarvan is panteïsties (“God in alles en alles in God” – in Müller se woorde), soms deïsties maar geensins nie teïsties nie, en het dit geweldig implikasies hoe ons dink oor God, die geestelike realm, die Bybel, en uiteraard die hemel en/of hiernamaals.
Interessant genoeg, in Markus se weergawe van dieselfde gebeurtenis as wat ons hier bo uit Matteus aangehaal het, noem hy dit nié die leer van die Sadduseërs nie: “En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes.” (Mark 8:15).
Die geskiedenis van Herodes is redelik bekend, en ons weet onder andere hy was die politieke regeerder in die geboortetyd van Jesus en die magsarm van die Romeinse ryk. Hy is veral bekend daarvoor dat hy die opdrag gegee het dat Jesus en alle seuntjies van ‘n sekere ouderdom om die lewe gebring moes word (Mat 2:16), uit vrees dat Jesus as “koning van die Jode” (Mat 2:2) sou opstaan.
Ons weet uit die Skrif dat die navolgers van Herodus, genaamd die Herodiane (Mat 22:16, Mark 3:6 & 12:13), politiek en godsdiens vermeng het om hul ideologie en behoefte aan mag en outoriteit te rugsteun. Alhoewel Herodes deur intimidasie gesorg het dat hy as nie-Jood erken word as Jood, was hy as ‘t ware ‘n sekulêre Jood.
Snaaks genoeg klink dit vir my ‘n term wat ons handig kan inspan om, byvoorbeeld, die Nuwe Hervormers te benoem: hulle sou genoem kon word: sekulêre Christene. In Fausset’s Bible Dictionary word die Herodiane se strategie verduidelik as: “They made religion an engine of state policy.” Uit ‘n geestelike oogpunt sou ‘n mens kon sê na aanleiding van die tipologie van Herodus dat hy gekarakteriseer kan word as sekulêre gelowige wat deur posisies van mag en outoriteit (eietyds dan byvoorbeeld posisies aan universiteite, Godsgeleerdheid, titels, vrye toegang tot kansels en sekulêre media en so meer) ‘n duidelike strategie het om as ‘n beweging die tradisionele geloofsgemeenskap te deursuur en van binne te rysmier. Benewens sekere inhoudelike idees of konsepte wat binne hierdie nuwe denkmodus hergedefinieer word, is dit inderdaad waar wat Gill vroeër gesê het: “… (they) sought secretly and artfully to infuse their notions into the minds of men”. Dis duidelik aan’t gebeure. Kortom: sluipende sekularisasie , ofte wel: die suurdeeg van Herodus.
Hierdie beweging dra ‘n panteïsties en/of deïstiese bril – hulle kyk só na die wêreld en geloof en God. Daarteenoor staan tans die gewone gelowige wat deur die bril van oorlewering aan ‘n teologie vashou wat grootliks gegrond is op ‘n letterlike lees en verstaan van die Skrif. Hierdie twee groepe sal mekaar afwisselend van versiendheid en bysiendheid beskuldig, terwyl albei eintlik eerder op hul astigmatisme moet konsentreer – daar is ‘n fout met die manier van kyk.
In hierdie lig is die volgende uitspraak van Jesus van groot belang: “Die lamp van die liggaam is die oog As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.” (Luk 11:34-35).
‘n Oogoperasie is nodig, nie ‘n nuwe bril nie.
- Sela: Prbeer aan iemand die drie teologiese begrippe: Deïsme, Teïsme en Panteïsme verduidelik,
- Lees: Job 14-19
- Ondersoek die vervulling: Job 14:14 as die kruks van die gesprek hierbo. (Wenk: 1 Kor 15)
- Delf dieper: Kry ‘n goeie teologiese woordeboek waarin jy kan naslaan wat die betekenis is van sekere teologiese begrippe – dis altyd handig in gesprek met Herodus.